Verlede maand
Trane loop vrylik toe hulle mekaar ná jare weer sien
 ~ 

HAAI, Sonlanders! In die ware gees van Kersfees kan julle nou die slothoofstuk geniet van die verhaal “Skuins Voor Kersfees Gebore” uit CHRISTO MEYER se pen.

DIE herontmoeting tussen Ouboet en sy ouers is ’n emosiebelaaide affêre. Dis iets wat ek vir die res van my lewe sal onthou.

Elke keer wanneer ek aan Ouboet dink, sal hierdie toneel in my gedagtes verskyn.

Toe antie Marja die voordeur oopmaak en haar verlore seun voor haar sien staan, begin sy gil soos iemand wat aangeval word. Oom Josefus kom van binne af gehardloop om ondersoek in te stel.

Ook hy steek geskok in sy spore vas. ’n Oomblik lank is hy sprakeloos. Dan stap hy nader, gryp Ouboet en druk hom styf vas.

“My vrou, ons gebede het waar geword. Die Here het ons kind terug huis toe gestuur. En dít boonop in die Kerstyd.”

Die trane loop oor al drie se wange. Byna ’n halfuur lank gaan dit so aan. Ek staan eenkant en hou alles met ’n ongemaklike knop in my keel dop.

Antie Marja nooi my in. Sy maak koffie en sit van haar tuisgebakte beskuit voor. So tussen die trane deur kan sy nie ophou glimlag nie.

“Ons het gedink jy is dood omdat ons niks van jou gehoor het nie en hier daag jy uit die bloute op. Springlewendig en gesond.

“Dís nou wat ek ’n wonderwerk noem. Ek het gewonder of ek jou ooit weer sal sien, maar soos jou pa sê, ons het nooit opbou bid nie.

“Jou naam was elke aand in ons gebede. Jy moet nooit weer weggaan nie. Belowe my.”

“Ek belowe, Ma.”

“Nou maar toe, ek gaan jou kans gee om almal te gaan groet wat jy jare laas gesien het. Vanaand, wanneer die huis stil is, wil ek alles hoor oor waarom jy so skielik hier weg is. Gaan maak sommer eerste by suster Knoesie ’n draai. Sy gaan deur ’n moeilike tyd.”

Ouboet kyk vinnig na my kant en dan weer na sy ma.

“Wat is fout met suster Knoesie, Ma?”

“Haar man, broer Nigel, is wreed van haar weggevat.”

“Ek ... Nee ... Wat het gebeur?”

“Die polisie ondersoek ’n klag van moord. Broer Nigel is koelbloedig doodgeskiet. Hy het die een of ander seminaar in Johannesburg bygewoon toe twee mans op hom begin skiet. Ek dink sy aanvallers het hom vir iemand anders aangesien.”

Ek neem nie deel aan die gesprek nie; luister net.

“Arme suster Knoesie.”

Verbeel ek my, of is dit opregte empatie wat ek in Ouboet se stem hoor? Is hy nie meer kwaad vir sy gewese minnares nie?

ONS klim in my kar en ry na suster Knoesie se huis. Op pad soontoe deel Ouboet nog ’n geheim met my.

“Darryl, ek het jou nie alles van my en suster Knoesie vertel nie.”

“Watter geraamtes is daar nog in die kas?”

“Hierdie kind van haar ... Ek dink ek is sy pa.”

“Wat laat jou so dink?”

“Suster Knoesie se huisdokter het haar meegedeel dat broer Nigel nooit ’n baba by haar of enige ander vrou sou kon verwek nie.

“ ’n Ernstige rugbybesering op hoërskool het broer Nigel se manlikheid beskadig.”

“Jong, Ouboet, suster Knoesie moes jou ook liefgehad het om sulke privaat dinge met jou te bespreek.”

“Ek dink sy was lief vir my ... op haar manier. Maar ek sou nooit vir haar die lewe kon gee wat broer Nigel haar gegee het nie. Dis waarom sy my verwerp het.”

Ons tref suster Knoesie buite in die tuin aan. Toe sy Ouboet gewaar, hardloop sy die huis in en klap die deur toe. “Maak oop die deur, suster Knoesie. Ek kom in vrede.”

’n Geluid by die tuinhekkie laat ons albei omkyk. Die seun wat stadig aangestap kom, is Ouboet se ewebeeld. Sy vermoede was reg. Hy is Junior se pa.

“Middag, Seun,” groet Ouboet.

“Jammer, Oom, my ma hou nie daarvan as ek met vreemdelinge praat nie.”

“Ek is nie ’n vreemdeling nie. My naam is Ouboet. Ek het jou pa goed geken.”

“Ek kan nie onthou dat my pa al ooit Oom se naam in ons huis genoem het nie.”

Op daardie oomblik swaai die voordeur oop. “Kom in hier, Junior, en jy, Ouboet, hou op om my kind te teister.”

Ouboet wag totdat Junior in die huis is voordat hy sê: “Nie net jou kind nie, suster Knoesie. Dis ons kind. Jy weet dit so goed soos ek.”

Suster Knoesie se wange word rooi. “Ek weet nie waarvan jy praat nie. Loop nou en los my uit. Ek rou oor my man se dood.”

“Hoe lank wil suster Knoesie dan nog ’n leuen lewe?”

“Kan ons ... op ’n ander tyd hieroor praat? Gee my net eers kans om my man te begrawe. Ek smeek jou.”

“Nou goed, maar onthou ons het sommer baie om oor te praat.”

“Ek weet, Ouboet, en ek is so jammer oor alles. Ek hoop jy sal my kan vergewe.”

“Ek sal jou tyd gee om te treur, maar op watter datum is Junior gebore?”

“Dieselfde dag as jy, 24 Desember. Hy het ook skuins voor Kersfees in die wêreld gekom.”

Dit lyk of Ouboet wil nader stap aan suster Knoesie, maar dan draai hy om. “Ons gesels weer,” sê hy oor sy skouer.

ONS kuier nog tot laat by ou skoolvriende en familie. Daar word gebraai, gelag en grappe vertel.

Toe dit tyd word om nag te sê, is dit ek en die lang pad huis toe. Ek laai Ouboet voor sy ouers se deur af en al probeer hy my ompraat om te oornag, wys ek sy aanbod vriendelik van die hand.

“My lewe is in die stad. Jou lewe is hier. Ek sal kom kuier. Jou seun gaan in dié moeilike tyd ’n vaderfiguur nodig hê. Wees daar vir hom.”

“Baie dankie, Darryl Ambrose, dat jy nie, soos baie ander, my net geïgnoreer het toe ek aan jou kar se venster geklop het nie.

“Dankie dat jy jou oor my ontferm het. Dit was seker maar so bestem. Met die noodlot weet ’n mens nooit. Ek was seker net op die regte tyd op die regte plek.”

Ons neem afskeid en ek durf die pad huis toe alleen aan. Dis mistig en ek ry teen ’n gemaklike pas. Ek kan nie wag om môre my ervaring met Lizzie te deel nie.

In die vroeë oggendure kom ek by die huis aan.

Met klere aan gaan lê ek op my bed en staar na die plafon. My gedagtes is by Ouboet.

Op skool was ek en hy nooit beste vriende nie. Hy het sy groepie gehad en ek myne. Sou dinge steeds vir hom so lelik sou uitgedraai het as sy geboortedatum 25 Desember was? Ek sal seker nooit weet nie.

Ten minste het die lewe hom ’n tweede kans gegee. Iets wat nie almal van ons beskore is nie.

Hy het ’n seun wat die lewe vorentoe die moeite werd sal maak.

Ek het niks. Die vrou van my drome behoort aan iemand anders.

In daardie opsig is ek simbolies gesproke skuins voor Krismis gebore, want geluk het my ontglip. My grootste vraag bly: Wat sou van Ouboet geword het as die verkeerslig groen was en dit nie nodig was dat ek moes stilhou nie?

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters