Verlede maand
Terwyl Ouboet sy hart uithuil, dink die skrywer terug
 ~ 

HAAI, Sonlanders! In die ware gees van Kersfees kan julle die verhaal “Skuins Voor Kersfees Gebore” uit CHRISTO MEYER se pen lees. Geniet nou hoofstuk 2.

TOE ek Lizzie laat weet ek sal die Krismisstorie doen, reageer sy feitlik onmiddellik met: “Thanx, geweet ek kan op jou reken.”

Ek ry rustig voort terwyl my passasier sy hart uithuil. Ek kan sien die arme man is deur hel, maar ek sal graag die volle waarheid uit sy mond wil hoor. Net eers vir hom kos koop. Dan kan ons rustig gesels.

Hy kan seker vanaand van my geriewe gebruik maak. Wanneer laas het hy ordentlik gebad en in ’n warm bed geslaap? Om ’n homeboy uit te help, is seker maar die regte ding om te doen.

Ek dink aan my tyd by Kanarievlei Primêr. Daar was kinders wat lief was daarvoor om Ouboet te terg. Faan Sallies, die groot grapjas, was die voorbok en opstoker.

“Hier kom Ouboet Arnoldus aan. Hy is skuins voor Krismis gebore.”

Wanneer almal uitgebars het van die lag, het Ouboet gewoonlik saam met hulle gelag. Wat sou dit hom baat om kwaad te raak? Hulle was immers reg. Hy wás ’n amper-Krismisbaba, gebore vyf minute voor middernag op 24 Desember.

En dan, die gebeure van daardie aand soos net my geboortedorp se grootste storieverteller, Gielman Zoesvogel, dit kon vertel.

Dit was skemer op daardie ysige Donderdagaand toe Marja Arnoldus skielik kreun van die pyn waar sy voor die televisie gesit en die een of ander sepie gekyk het.

Haar liefdevolle eggenoot, uitgeput ná ’n lang dag se geswoeg in ’n meubelfabriek, het sy beker koffie net so gelos en hom onmiddellik na Daan en Suzette se huis daar naby gehaas, die moegheid tydelik vergete.

Daan was die naaste inwoner met ’n voertuig in die omgewing, al was dit ook ’n outydse Ford Cortina wat hy jare tevore geërf het by sy pa, oom Pinnochio.

Die motor was darem nog in ’n bruikbare toestand en almal het geweet Daan het ’n sagte hart. Hy sou nie sommer nee sê nie. Hy sou uit sy pad gaan vir sy medemens. Dis hoe hy grootgemaak is, het hy altyd gesê.

Toe Daan daardie aand die dringende klop aan sy voordeur hoor, het hy onmiddellik besef iets is verkeerd. “Dis ... dis my vrou,” het Josefus gesê toe die deur oopgaan. “Ons moet haar dadelik by die hospitaal kry. Ek dink dis tyd vir die baba om te kom.”

“Nou vir wat staan jy net daar?” het Daan met Josefus geraas. “Gaan haal vir Marja sodat ons kan ry. Jy weet daar lê ’n lang pad voor.”

Die rit hospitaal toe was ’n moeilike een. Die sterk wind het die Cortina heen en weer geslinger. Daan het vir al wat hy werd was aan die stuurwiel geklou.

By tye het dit gevoel of die voertuig die pad gaan verlaat, maar Daan het moedig voortgebeur. Op die agterste sitplek het Josefus oor en oor geprewel: “Vader, beskerm ons. Hou die baba veilig.”

Dit het erg gereën toe die kind die wêreld binnekom. Ongewone weersomstandighede vir daardie tyd van die jaar.

Die wind het soos ’n verdwaalde spook te kere gegaan en aan al wat ’n deur en venster is gepluk. Die wolke het vreesaanjaende gromgeluide gemaak en nie net die haweloses nie, maar ook die honde en katte in die omgewing, na skuiling laat soek.

Dit het gestorm soos nog nooit tevore nie. Die weer het veral in die informele nedersettings groot skade aangerig. Hokkies se dakke is afgewaai en talle inwoners was al hul besittings kwyt.

Die kind is Ouboet gedoop, want Josefus het geredeneer: “Dit is ons eerste en oudste kind. Ouboet is ’n gepaste naam.”

Ouboet was ’n vriendelike kind met goeie maniere. Hy het vinnig grootgeword. Te vinnig na Marja en Josefus se sin.

Toe gebeur daar op ’n dag, kort voor Ouboet se 26ste verjaarsdag, iets wat die Arnoldus-egpaar laat wonder het wat hulle gesondig het om so iets te verdien.

Ouboet het die dorp onder ’n donker wolk verlaat. Dit was ’n week en ’n half voor Kersdag. Of dit nodig was om só ’n drastiese besluit te neem, kon almal in Kanarievlei in daardie stadium net raai. Tot vandag is daar mense wat wonder wat deur Ouboet se kop gegaan het.

Desember is immers die een maand in die jaar wat jy saam met familie wil deurbring.

“Hoekom het Ouboet niemand in sy vertroue geneem en gesê waarheen hy gaan nie?” is oor en oor gevra. Daar kon tog nie probleme tussen hom en sy ouers gewees het nie. Hy het dan so goed met sy ma en pa oor die weg gekom.

Wat was dit wat hom uit sy ouerhuis gedryf het? Was hy dalk moeg van rakke pak in ’n supermark? Het hy iewers ’n nuwe werk gekry?

Ek het self nie mooi verstaan wat aangaan nie. Ek het Ouboet geken. Hy was nie die tipe persoon wat net sou wegloop nie. Daar was gerugte dat Ouboet en suster Knoesie van Pikkewynstraat al geruime tyd die kat in die donker geknyp en broer Nigel hulle een middag op heterdaad betrap het.

Daar was blykbaar ’n sterk woordewisseling tussen Ouboet en broer Nigel en die twee wou mekaar glo te lyf gaan. Soos vertel word, moes suster Knoesie toe tussenbeide tree, met niks anders as haar onderklere aan nie. Hoeveel waarheid in dié stories was, kan ek nie sê nie.

Nie suster Knoesie of broer Nigel was bereid om hieroor uit te wei nie. Broer Nigel was ’n godvresende man wat hom min aan skinderpraatjies gesteur het.

Hy was ook ’n ware gentleman wat nooit in die openbaar iets onaangenaams oor sy vrou sou kwytraak nie. Oor elke struikelblok op sy pad sou broer Nigel net sê: “Ek los dit in die Here se hande.”

Suster Knoesie het haar altyd oor haar medemens ontferm. Sy was veral bekend vir haar sopkombuise wat sy uit haar sak gefinansier het.

As die kind van ’n enkelouer het sy eerstehandse kennis van armoede gehad. Sy wou ’n verskil in kinders se lewe maak, al was dit ook net om toe te sien dat hulle nie honger bed toe gaan nie.

Sy het hoog en laag gesweer daar was nooit iets romanties tussen haar en Ouboet aan die gang nie.

“Die wêreld sal ’n baie beter plek wees as mense net wil ophou om onwaarhede te versprei. Ek en broer Nigel is doodgelukkig. Hoekom sal ek dit wil opmors?”

Ouboet is in die nag weg. Hy’t gewag totdat sy ouers slaap en die huis stil is voordat hy hom uit die voete gemaak het. Sy kamerdeur het hy oop gelos.

Toe oom Josefus die volgende oggend inloer, het hy hond se gedagte gekry. Hy wou Ouboet as vermis gaan aanmeld, maar toe hy sien die kind se klere is nie daar nie, het sy besef Ouboet is uit vrye wil weg.

Op Kersdag was Josefus se oë heeltyd in die pad. Hy het gehoop Ouboet kom saam met hulle aan tafel sit vir die Kersmaal. Daar was ’n oorvloed kos, maar nie Josefus of Marja was lus vir eet nie. Die egpaar het woordeloos in mekaar se oë gekyk. Vir die eerste Kersfees sedert sy geboorte was Ouboet se plek aan tafel leeg.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters