13 dae gelede
Tandi kan skaars glo wat sy oor die foon te hore kom
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Gwenyth en Tandi moet albei deal met uitdagings in hul lewe. Gaan hierdie twee vroue geluk vind? Geniet nou die slothoofstuk van CHRISTO MEYER se “Vrou uit die Township”.

TANDI was van plan om minder as ’n halfuur te bly, maar Papa Jacob versoek dat sy langer vertoef.

Sy het nie verwag die ou oom is nog so vol energie nie. ’n Mens sou dink ’n man van sy ouderdom sal nie meer so stuitig wees nie.

“Jy het nie nodig om haastig te wees nie, Tandi. Daar is mos nie ’n man wat vir jou wag nie.

“Laas toe ek gehoor het, het iemand vir Jackson voor ’n trein ingestamp. Hy sal jou nooit weer pla nie. En Thembi se kinders is mos gewoond daaraan om na hulself kyk.”

“Maar Papa Jacob verstaan nie,” probeer Tandi keer.

“Ek verstaan alte goed. Jy het gekom vir besigheid. Maak jy my gelukkig en ek maak jou gelukkig. So maklik soos dit.”

Dis skuins voor middernag toe Tandi huiswaarts keer. Sy voel soos ’n slet. Sy kan nie glo sy het haar liggaam verkoop om brood op die tafel te sit nie.

Maar wat anders moes sy doen om te verhoed dat haar suster se kinders honger ly? Sy voel vuil. Wat maak haar beter as Thembi?

Kwart oor vyf se kant lui haar selfoon. Dis die hospitaal. “Jy moet dadelik kom. Dis jou suster. Ons het gewonder of jy haar nog vir oulaas wil sien. Dit lyk of sy nie veel langer gaan lewe nie.”

Tandi vlieg op. Sy kook water in die ketel, gooi dit in ’n badjie en tap koue water by. Sy was, droog af en trek vinnig aan.

In haar binneste hoop sy net sy is nog betyds. Gisteraand se manewales is tydelik vergete ...

TANDI skrik toe sy vir Thembi sien. Van die oorgewig jong vrou met die vol borste het niks oorgebly nie. Sy is net vel en been.

Is dit hoe vigs jou betaal as hy genoeg gehad het van jou? Dank Vader Papa Jacob het gisteraand kondome gebruik.

Thembi se oë gaan oop. Sy probeer glimlag, maar kry dit nie reg nie. Dit lyk of die pyn te erg is.

“Sy kan nie meer praat nie,” sê een van die verpleegsters. “Die siekte het haar stembande ook aangetas.”

Dit breek Tandi se hart om haar suster só te sien. Skielik het sy nie meer vrae in haar binneste nie. Sy is nou nie meer omgekrap omdat The­mbi se lewe só losbandig was nie. Alles is vergewe.

Toe sy die dood in die kamer gewaar, gryp sy Thembi se hand vas. “Jy kan maar in vrede gaan rus, Thembi. Ek sal mooi na jou kinders kyk. Dít belowe ek jou.”

Dis asof Thembi net gewag het om dit te hoor. Toe blaas sy haar laaste asem uit.

SKAARS ’n minuut nadat Gwenyth Scheffers se alarm afgegaan het, kry sy ’n please call me van Tandi. Sonder om te huiwer bel sy terwyl sy nog lê.

Eintlik was sy van plan om Tandi vandag te kontak om iets belangriks met haar te bespreek. Dit gaan maar moeilik met die tydelike bediende. Sy is meer op haar selfoon as enige iets anders. Gwenyth wens dit was nooit vir Tandi nodig om weg te gaan nie.

“Hallo, Mevrou,” antwoord Ta­ndi.

“Hallo, Tandi, hoe gaan dit daar?”

“Gan hom sleg, Mevrou, baie sleg. Dis Thembi.”

“Het Thembi iets gesê wat jou ontstel het, Tandi?”

“Nee, Mevrou. Thembi is gone, ekhaya toe. Die angel of death hy het hom Thembi kom vat by die hospital. Thembi is free van die suffering. Nou ek weet nie hoe ek moet hom break die news by die kids. Hulle gaan devastated wees.”

Gwenyth sit regop, ’n kussing teen haar rug. Tandi se woorde haal die wind uit haar seile.

Haar dag is sommer bederf. Sy sal nie op haar werk kan konsentreer nie. Haar gedagtes gaan heeltyd by Tandi wees. Miskien moet sy by die huis bly.

“Ek is so jammer, Tandi. Kon jy darem vir Thembi sien voordat sy ... voordat sy ...weg is?” Die woorde sukkel om uit te kom.

“Ja, Mevrou, ek was daar in Thembi se final moments. Sy het tired gelyk, maar peaceful, maar nou ek sit met bigger problems.”

“Watse probleme, Tandi?”

“Ek weet nie hoe ons sal Thembi bury, Mevrou. Thembi was nie by die policy nie.”

Gwenyth besef sy moet nou inspring. Tandi het genoeg ander goed om haar oor te bekommer.

“Moenie stres oor die begrafnis nie, Tandi. Ek sal daarvoor betaal. Dis die minste wat ek kan doen. Ek sal sommer vandag ’n bedrag in jou rekening sit. Hou maar jou foon dop vir die SMS.”

Sy hoor hoe Tandi begin snik.

“Dankie, mev. Gwenyth. Baie, baie dankie.”

“Dis ’n plesier. Laat weet maar as jy nog iets nodig het. O, ja, daar is nog iets.”

“Mevrou?”

“Wanneer die begrafnis verby is, wil ek hê jy moet terugkom. Nie net jy nie, Thembi se kinders ook. Ek het klaar met my dogter daaroor gepraat. My huis het genoeg plek vir almal van julle. Ek wil hê julle moet hier kom bly. Ek gaan jou nie kans gee om daaroor te dink nie, want ek gaan nie nee vat vir ’n antwoord nie.”

Sy hoor hoe Tandi na haar asem snak. “Ek ... ek weet nie wat om te sê nie, Mevrou.”

“Jy hoef net ja te sê, Tandi. Dis al.”

“Maar Mevrou, Thembi se kin­ders... die skin colour is swart. Julle is wit. Die mense hulle gaan nie gossip nie?”

“Die mense kan maar skinder. Ek gee nie om nie. Ek sal nooit in my leeftyd al my geld kan gebruik nie, veral noudat ons produkte oorsee ook gaan versprei. Ek wil teruggee en ’n verskil maak in die lewe van Thembi se kinders.”

“Ons sal kom, Mevrou, ons sal kom. You are like an angel from heaven.”

Wat Tandi nie weet nie, is dat Gwenyth ook binnekort ’n organisasie op die been gaan bring om veral jong vroue teen die gevare van seksueel oordraagbare siektes te waarsku. Sy het besluit om dit die Thembi Molope Foundation te noem.

Gwenyth se hart klop sommer warm by die gedagte dat die raakvatter Tandi een van die dae weer lid van die huishouding gaan wees.

Miskien moet sy een van haar vriende by die koerant vra om ’n artikel oor Tandi te doen, om ander mense te inspireer om dieselfde te doen. Die wêreld kort meer Tandi’s.

Gwenyth lig haar voete van die bed af en loop stadig in die gang af badkamer toe. Poedelnakend.

Dan tref dit haar. Noudat sy meer mense onder haar dak gaan hê, moet sy dit seker afleer om so kaal in die huis te loop.

Dit gaan omtrént ’n aanpassing wees, maar sy sien uit na die challenge.

Sy glimlag. Die lewe het soms sy eie manier van dinge doen. Dat ’n arm vrou uit die township dit eendag sou regkry om só diep in haar hart te kruip, is iets wat Gwenyth haar as kind nooit sou kon voorstel nie.

Dit bewys net weer: Iemand wie se hart op die regte plek sit, is baie ryker as ’n persoon met ’n klomp geld in die bank.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters