16 dae gelede
Suster Ronelle kla haar onderklere is ook nou spoorloos
 ~ 

HAAI, Sonlanders! ’n Gestresde Lientjie vertel aan Cathy dat haar onderklere van die wasgoedlyn af verdwyn het. Cathy dog dit is net weer een van LIentjie se drama queen-grille, maar Lientjie klink oortuig van haar saak. Sy het gesien hoe ’n man haar delikate onderdingetjie vir homself toe-eien. Geniet hoofstuk 2 van ELDRIDGE JASON­ se “Die Online Shopper”.

‘HOE mean jy dan nou ‘wat gaan ons maak’?’ vra Cathy vies.

“Ons gaan daai perv vang, dis wat ons gaan maak.

“Dis elke dag Women’s Day en ons kan nie sulke dinge duld nie.”

Lientjie trek haar asem skerp in en skud terselfdertyd haar kop.

“Ek weet darem nie so mooi nie, Cathy,” sê sy dan.

“Wat as daai man nog ’n serial killer ook is?”

Cathy skud haar kop in ongeloof. “Waar pas dit?” vra sy dan. “Vir iemand om ’n serial killer te wees, moet ’n moord gepleeg word.

“En, vrou, wanne’ laas is ’n moord hier in Paternoster gepleeg?”

“Is nou ook weer waar,” stem Lientjie in.

“Hier word net oom Olof Bergh die meeste van die tyd nek omgedraai en dis die naaste wat daar aan moord gekom word.”

Cathy skud haar kop en lag, maar sy moet Lientjie haar due gee: Hier word vir die eerste span gedrink. En nie net naweke nie, sommer elke liewe dag.

Dis seker maar een van die redes dat sy nie ’n man kan kry nie. Sy skud haar kop asof sy van haar gedagtes ontslae wil raak.

“Kon jy die man se gesig sien?” vra sy en hou Lientjie fyn dop.

Sy wil darem doodseker maak Lientjie suig nie hierdie goed uit haar duim nie.

Lientjie sit al langer as sy op die rak. Soveel so dat stof niks meer met haar te doen wil hê nie.

Maybe is hierdie ’n plan van Lientjie om ’n bietjie aandag te kry?

Lientjie skud haar kop. “Soos ek vroeër gesê het, dit was te donker. Die persoon was boonop in swart geklee. Dit lyk my hy was van plan om al my panties te steel, maar toe blaf die honde so dat hy net een gryp en vinnig wegloop.”

“In watter rigting?” vra Cathy en plooi haar neus.

“Weet nie,” antwoord Lientjie en trek haar skouers op.

“Jy weet mos Paternoster is aan die klein kant en is nie gebou vir al die windrigtings van die lewe nie. En besides, het jy vergeet dat ek op skool al my aardrykskunde-klasse gebunk het?”

Voordat Cathy kan antwoord, word die voordeur met mening oopgestoot. Albei vroue skrik groot toe ’n buurvrou, Ronelle, uitasem na binne strompel.

“En nou, suster Ronelle?” vra Lientjie. “As jy dan nou so met die deur in die huis val?

“Die biduur word mos nie hier by Cathy gehou nie. If afvallig was ever a person. Follow my eyes...”

Lientjie knik in die rigting van Cathy. Cathy gee haar ’n paar vlymskerp panga-kyke.

“Lientjie, so waar as wat Jesus Three Ships van water gemaak het, so kan jy my mos nie in my eie huis kom swak maak nie. Dis mos nie reg nie.”

“Ek grap maar net,” gooi Lientjie wal. “Ek bedoel mos niks snaaks nie.”

“Maar jou joke is nie eens snaaks nie,” kap Cathy terug.

“Anyhow, suster Ronelle, en as Suster so uitasem is soos iemand wat probeer om van die lockdown levels weg te hardloop?”

Suster Ronelle haal swaar asem, haal ’n sakdoekie voor by haar borste uit en vee dan die sweet van haar gesig af.

“Mense,” sê sy uitasem. “Ek het lank laas so vinnig gehardloop.

“Ek kom nou van die wasgoedlyn af en weet julle wat? Die onderklere wat ek gisteraand op die lyn gelos het, is gone. Gone with the window.”

Cathy en Lientjie kyk vinnig na mekaar. Suster Ronelle vang hul blik.

“Lientjie,” sê suster Ronelle streng. “Is dit dalk ’n prank van jou hierdie? Die Here gaan jou straf, jy weet daai?”

“Haai, nee, suster Ronelle,” antwoord Lientjie te na gekom. “Hoekom sal ek dan só iets doen?

“Ek is hier by Cathy, want ek het gisteraand presies dieselfde ding oorgekom.”

Suster Ronelle se hand gaan geskok na haar mond.

“Vader in die hemel,” prewel sy. “Nou watter wegraping van panties is dan nou besig om plaas te vind?

“Dit is die laaste dae hierdie. Die Bybel sê in hierdie tye-”

“Dit was g’n Biblical event hierdie nie,” val Cathy haar in die rede.

Cathy wil suster Ronelle nie nou ’n kans gee om sommer opelugdiens te hou nie.

In die goeie ou dae was suster Ronelle en Cathy groot partytjie-vrinne.

Suster Ronelle het altyd in die tavern reg voor die jukebox gedans totdat al Whitney se songs al vals begin speel het.

Nou juig sy reg voor in die kerk en sweer hoog en laag haar siel is gered.

Maar Cathy weet wanneer suster Ronelle se man, Piet, elke fortnight pay, ry hulle donkeraand na die casino in Langebaan.

“Ons sit met ’n perseverer in ons midde,” verklaar Lientjie.

Cathy wonder eers waarvan die vrou dan nou praat, maar dan gaan ’n dowwe Eskom-liggie by haar op.

“Jy bedoel seker ’n pervert,” sê Cathy laggend.

Lientjie raak uit haar nek uit bloedrooi. “Dis wat ek gesê het,” brom sy.

Suster Ronelle skud haar kop in ongeloof. “Dan sal ek broer Apie moet vra om die bose geeste by my huis weg te kom bid,” sê sy.

“Laat oom Piet tog net hierdie keer by die huis wees wanneer broer Apie alleen kom biduur hou,” fluister Cathy.

“Hoe sê jy?” vra suster Ronelle en frons.

Cathy hou haar hande beskermend voor haar.

“Ek sê dit is nie nou die tyd vir broer Apie en sy biduur nie,” antwoord Cathy.

“Ek het hom ook al gehoor kitaar speel en kan nou al sê hy gaan meer as net bose geeste wegjaag.

“Soos ek vir Lientjie gesê het, ons sal hierdie perv self moet vang.

“Ons sal saans moet patrolleer totdat ons hierdie vuil, spulse uil vastrek. Maar ons makeer nog vroue om ons te help.

“Op die mans sal ons nie kan staatmaak nie, want hulle sal als as ’n grap sien en heel waarskynlik die culprit waarsku.”

“Wat het Pritt met die prys van bloomers te doen?” vra Lientjie.

As doodkyk nou ’n persoon was, dan was dit op daardie oomblik Cathy.

Is van k*k jokes maak dat Lientjie jaar ná jaar gedop het, dink sy vies.

Om die vrede te bewaar, hou sy hierdie gedagtes maar vir haarself.

“Dink julle ons moet vir Merle en Merlene om hulp vra?” vra Lientjie om op te maak vir haar vroeëre blaps.

“Daai mal goed?” vra Cathy geskok. “Ons wil ’n perv vang, nie ’n oorlog begin nie.”

Lientjie trek haar skouers op.

“Dit is ’n panty-oorlog hierdie,” verklaar sy, “en in sulke tye het ons girls nodig wat mans haat – net soos wat hulle daai passion fruit-aanmaakkoeldrank haat.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters