3 dae gelede
Stone verander ál meer – en sy luck loop stadigaan uit
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag is dit hoofstuk 5 van CEDRIC AFRICA se “Bloedgeld”. Geniet die leesstof!

AS HY maar sy lewe kon terugdraai … As Die Beer nie daardie rustige Saterdagmiddag ongenooid sy opwagting by sy en Sharon se woonstel gemaak het nie; as …

Maar as is verbrande hout. Stone Stenekamp is nie net vasgevang in tik nie, hy bevind hom nou ook in die hande van ’n gewetenlose dwelmsindikaat waarvan Hilton Meintjies die kingpin is.

Kapt. Rollison, Die Beer en hul adjudant, Katjies, was maar net die holborsels wat hul baas, Mr. Meintjies, se bevele moes uitvoer.

Geld het asof uit ’n oop kraan ingestroom vir die tikverslaafde stafsers. Stone Stenekamp.

Maar wat hy nie geweet het nie, is dat as jy eers in is, is daar nie ’n manier hoe jy weer kan uitkom nie. Dinge het gou vir hom begin sin maak: Die Beer se vinnige rykdom en kapt. Rollison se luukse­leefstyl was alles vanweë bloedgeld, maar hy wat Stone is, het nie omgegee nie.

Mr. Meintjies se geld het hom soos ’n magneet aangetrek. As drug courier vir Mr. Meintjies het hy alle perspektief op die lewe verloor. Hy wou soos kapt. Rollison, Die Beer en Katjies leef.

Tik is ’n silent killer. Dit het ’n manier om jou persoonlikheid te transform sodat jy later sonder integriteit leef. Altyd reg om te belieg, bedrieg en jakkalsdraaie te gooi.

Sy verskonings aan Sharon oor waar sy skielike rykdom vandaan gekom het, het elke dag meer agterdog gewek. Die waarheid het egter ’n manier om altyd op die verkeerde plekke uit te steek. “As jy lieg, moet jy lieg om voor te bly, of jou leuens kom haal jou in,” was haar woorde toe sy in sy weermaguniform op ’n vet pakkie tik afkom.

Natuurlik het Stone toe weer jakkalsdraaie gegooi, maar later het hy nie meer omgegee dat die mense geweet het die eens gerespekteerde stafsersant is ’n tikverslaafde nie.

DIT was ’n Maandagoggend toe Sharon haar besittings kom haal het. Die balkon waar hulle gereeld lugkastele oor die toekoms gebou of oor die see gestaar het, het ’n bymekaarkomplek geword vir die gebruik van dwelms en sterk drank.

Onbewus van Sharon wat hulle toe reeds geruime tyd met minagting dopgehou het, was Stone weer besig om saam met die dorp se ongure karakters dwelms te rook.

Dit was Harry Pikaan, allias Harry Panga, wat haar eerste deur sy bedwelming raakgesien het – te laat om Stone te waarsku oor haar teenwoordigheid op die balkon.

Harry Panga is net ’n paar weke tevore op parool vrygelaat nadat hy vyf jaar gebandiet het vir die sinnelose moord op een van die dorp se oudste vissermanne.

Arme ou oom Abraham, wat die see soos die palm van sy hand geken het, moes met sy lewe boet net omdat hy daardie noodlottige oggend nie ’n pil twak vir daardie stuk skuim Harry Panga gehad het nie.

Haar Stone, die eens prim en proper soldaat, sou hom ’n paar maande tevore nooit met sulke vullis opgehou het nie. Trane het vrylik oor haar wange gerol toe sy met groot teleurstelling na hom kyk terwyl hy die button-rook uitblaas.

“Stone Stenekamp, ek het alles probeer om jou weer op die regte pad te kry, om jou weer die trotse man te maak wat jy eens was, maar ek is moeg. As jy nie baie gou tot jou sinne kom nie, gaan jy val, en jy gaan hard val. En daardie dag gaan daar niemand wees om jou op te tel nie.”

“THE man with the golden banana,” het Die Beer ná parade spottend opgemerk. “Ek meen, die een sussie is nog nie eens reg uit nie, toe trek die jonger, sexy een in.”

Stone het net sy skouers opgehaal. “Ek weet nie of daai ’n goeie idee is nie, maar as daai klimeid iets in haar kop gekry het, is dit nag.”

Hy was nie gemaklik met haar teenwoordigheid in die woonstel nie, nog minder met die kort, deursigtige nagrokkies waarmee sy saans voor hom geparadeer het.

Die feit dat mense, veral die Evasgeslag, nie altyd hul verwagtinge verbaliseer nie, wil nie sê dat hulle nie verwagtinge het nie.

Hy was een aand erg ontnugter toe sy aan sy kamerdeur klop en ongenooid binnekom.

Dit was nie die skinkbord met aarbeie en room wat sy aandag getrek het nie; dit was haar poedelnaakte liggaam.

’n Oomblik lank het haar naakte skoonheid hom meegevoer.

“Hulle sê mos it’s not nice to stare, maar as jy my nader nooi, hoef jy nie net na my te staar nie.”

Haar verleidelike stem het hom meteens teruggebring na die werklikheid.

Sy kop was ’n stuwende deurmekaarspul toe hy skielik uit die bed spring en haar hardhandig uit sy slaapkamer sit.

Die skinkbord met aarbeie en room het teen die kamerdeur ontplof. Toe volg ’n stortvloed beskuldigings. “Jy’s ’n f*kk*n tikkop wat net aan jouself dink. Dis hoekom Sharon jou gelos het. Jy’s slapgat, tot in die kooi.”

Hy het haar geïgnoreer. Later het hy gehoor hoe sy haar kamerdeur met geweld toeklap.

STONE glimlag opgewonde toe hy ná werk in sy bedompige motor klim. Dit was ’n lang, uitmergelende dag, maar die reëntjies wat dreigend oor die Weskus hang, sal ’n welkome lafenis bring. Net vinnig van die staat se uniform gaan ontslae raak, dan is dit ek en die lekker langpad Kaap toe, dink hy.

Mr. Meintjies het hoeka vroeg al gebel. Hy moet ’n parcel kom afhaal.

Noudat Sharon nie meer in sy lewe is nie, hoef hy aan niemand verslag te doen nie. Hy glimlag tevrede toe hy in die truspieël kyk en die motor in trurat druk.

In plaas daarvan dat Stone hartseer is oor Sharon se besluit om die verlowing te verbreek, stoot ’n allesoorheersende gevoel van vryheid meteens soos ’n sterk fontein binne-in hom op.

’n Verkeersoponthoud by die beheerpunt laat hom sy Golf GTi tot stilstand bring.

“Wat de donner gaan vandag weer aan?” vra hy ongeduldig vir ’n troep wat lusteloos verby sy motor loop.

“Middag. Nee, Staff, dis ma’ net die MP’s wat op hierie Maandagmiddag vreeslik moedswillig is. Hulle search al die karre wat uitgaan.”

Die donnerse korporaaltjie het nog wragtie tyd vir grappies maak. Ek moes hom daai aand by die tavern harder gemoer het, dink Stone toe hy die revs van sy kragtige 2F-enjin ongeduldig opjaag.

Toe Stone by die beheerpunt stilhou, ontgaan die onverbloemde vyan­digheid op kpl. “Rambo” Remedys se gesig hom nie. Hy kan hom vandag min steur aan hierdie arrogante korporaal met sy groot bek, dink Stone toe hy uitklim.

Rambo en ’n troep kyk aandagtig toe terwyl Stone die kattebak oopsluit. Vier magasyne vir R4-weermag-aanvalsgewere en twee pakke bullets lê oop en bloot in die kattebak. Stone staar verward daarna.

Rambo glimlag leedvermakerig toe hy die ongeloof op Stone se gesig gewaar.

“Ek kan dalk maak asof ek nooit daai klappers in jou boot gesien het nie, maar jy weet tog seker hoekom ek dit nie sal doen nie,” sê hy.

  • Lees Maandag verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters