6 dae gelede
Stone meen sy demone sal hom nie hier opsoek
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag is dit hoofstuk 2 van CEDRIC AFRICA se "Bloedgeld". Geniet die leesstof!

HY RY oomblikke later met ’n kronkelende plaaspad deur volstruiskampe en olyfboorde.

Hoe is dit moontlik dat daardie meisiekind met haar pragtige amandeloë en sprankelende persoonlikheid enigiets van sy verlede weet?

Hy het dan seker gemaak dat hy die spore van sy vieslike verlede doodvee voordat hy na hierdie rus­tige dorpie gekom het. Die gedagte dat sy dalk iets weet, gee hom hoendervleis.

Hy dink meteens terug na daardie oggend toe hy vir Katjies gaan groet het. Hy was glad nie verbaas toe Stone met sy oorlaaide motortjie langs hom stilhou nie.

“Aweh, Stone! Wa’ ga’ djy da’ met al daai luggage?

“Ek hoor dan djy het djou larney flat oek opgegie en al djou grand furniture aan daai skelm Somaliër vekoep.”

Hy sug swaar.

“Ja-nee, hier is niks meer vir my in die Weskus behalwe bad memories nie. Ek vat ma’ die pad na ’n ou skoolpel van my in Springbok.”

Katjies het moeite om die smile op sy vuil, gechapte gesig weg te steek.

“Jô, ma’ daai’s mos in die Northern­ Cape. Shame, en ek het nogals genuine van djou gelikes …, but jy moet safe travel, masekind.”

Sy stem is die ene simpatie, maar Stone kan dwarsdeur hom sien.

“Ek het eintlik kom hoor of jy nie dalk iets het om my lekker wakker te hou op die lang pad nie.”

Sonder om twee keer te dink druk hy twee sakkies tik in Stone se hand.

“Vi’ djou ienige tyd, ma­sekind, en dié werk nogal sterk, nuh.”

Net buite die dorp vermorsel hy die twee pakkies tik onder sy skoen.

Dié gemors sal nie nog iemand se lewe verwoes nie.

Hy bestuur die motortjie behendig deur die modderpoele. Gisteraand se reëntjie het ’n effense lafenis teen hierdie genadelose Klein Karoo-hitte gebring, maar vir hoe lank weet hy nie. Dan styg die kwik weer tot ver oor die 40 grade.

Hy bring die motor tot stilstand voor die verlate plaashuis. Hy spits sy ore vir enige vreemde geluide, maar die omgewing rondom hom is grafstil, behalwe vir ’n bosduif wat êrens eensaam koer. Hy ontspan nadat hy om die huis geloop het en glimlag wrang toe hy die ketting aan die lamlendige deur loswoel.

“Ek hoor dit spook kwaai in die winter by daai verlate huisie waar jy woon,” sê Nellie een oggend so terloops.

Sy lag spontaan toe hy haar antwoord dat hy maar eintlik die enigste spook hier rond is.

“Brekfis op ’n oop vuur en my beste vriend, goeie ou brannas en Coke. Vir wat meer kan ’n f*kk*p-soldaat soos ek nou vra?”

Brandewyn en Coke is die enigste terapie teen die innerlike leegheid wat hom soos ’n kanker van binne af opvreet. Hy drink hom elke dag oor ’n mik, maar hy verkies dit so, al is dit net ’n tydelike ontvlugting van die werklikheid, sy vieslike verlede.

Hy het nie twee keer gedink toe daardie knorpot van ’n samajoor Koemoetie hom eendag uit die bloute kom vra het of hy wat Stone is nie sy erfporsie hier in die gramadoelas wil kom oppas nie.

Dit was eintlik maar ’n bedekte seën dat hy hom eendag so drie maande gelede daar in die Weskus raakgeloop het. Dit was die tyd toe hy ’n laagtepunt in sy lewe bereik het, toe niks in die lewe meer vir hom sin gemaak het nie.

Sharon het hul verlowing verbreek ná die moord op haar rebelse jonger sussie, Naomi. Toe die mislukte poging om hom uit te haal. ’n Onskuldige laitie het toe met sy lewe geboet.

Die eens gerespekteerde wapeninstrukteur stafsers. Stone Steenkamp het hom heeltemal aan drank en dwelms oorgegee.

Vandag bevind hy hom op hierdie godverlate lappie grond aan die voet van die Swartberge. Hy het nog nie een dag ’n begeerte gehad om terug te gaan na die plek waar sy lewe so gou ’n dramatiese wending geneem het nie.

Hier voel hy veilig. Hier sal sy demone van die verlede hom nooit kry nie.

Hy eet sy ontbyt langtand waar hy hom op ’n kampstoel tuisgemaak het.

“Nog so ’n ou brandewyntjie, net om die ergste vetjies te laat afsak.”

Hy glimlag en blaai gedagteloos deur die koerant wat hy vanoggend by Nellie gekoop het. Sonder die luxuries van krag, selfoon en ’n TV is die koerant deesdae sy enigste bron van nuus.

Dit is sy daaglikse roetine vandat hy hom hier kom afsonder het. Soggens maak hy die drankwinkel oop, dan sit hy af na die deli. Nie noodsaaklik vir die aankope van sy daaglikse rantsoen nie.

Dit is daai Nellie-klimeid met haar sprankelende persoonlikheid en wakker bruin oë. Dis genoeg om enige man van sy trollie af te maak.

Tot hier kon hy ’n mate van weerstand bied, maar hy weet nie vir hoe lank hy hierdie gevoel vir haar sal kan onderdruk nie.

’n Sug ontsnap moeisaam uit sy mond. Nee wat, vir ’n liefdes- of enige ander verhouding sien hierdie ruggraatlose dronkgat Stone Steenkamp nie kans nie.

Dit is net ’n resep vir ’n nog groter mislukking. Sy gedagtes dwaal onwillekeurig terug na sy sorgelose dae saam met Sharon.

Hy dink aan ’n warm somersaand op die balkon van hul luukse huurwoonstel aan die Kaapse Weskus.

Hy het haar gunsteling-seekosgereg berei terwyl sagte jazz in die agtergrond net die regte atmosfeer geskep het. Rooiwyn, seekos en strelende musiek was die perfekte kombinasie om die groot vraag aan sy hoërskoolliefde te vra.

Sy het gretig ingestem om mev. Steenkamp te word, maar nie sonder ’n paar trane nie.

Daarna het die aand ’n droomkwaliteit onder die sterrehemel aangeneem. Daar was toe selfs sprake van kinders sodra hulle getroud is.

STONE laat die sigaretrook in sarsies deur sy neus ontsnap. Dan trek hy sy gesig op ’n plooi toe hy nog ’n glas skoon brannas in sy keel afgooi.

Hy trap die halfgerookte sigaret gefrustreerd onder sy skoen stukkend en sug swaar.

Hy het hom nog nooit deur sy emosies laat lei nie, maar drank is vandag sy reddingsboei. ’n Skild teen die mislukkings van die verlede.

Hy het dit onder beheer, maar tik is niemand se speelmaat nie. As dáái demoon jou eers in die hande gekry het, vernietig hy jou soos ’n kanker.

Hy vreet alles weg, alles waaraan jy geglo het. Jou selfbeeld, jou menswaardigheid, sommer alles totdat jy niks meer oor het nie.

Vandag sit hy hier in die gramadoelas. ’n Uitgeworpene, ’n voortvlugtige.

Daar is niks wat hy aan sy verlede kan doen nie, maar as hy net die tyd kon terugdraai, sou hy dinge heeltemal anders gedoen het.

Hy snak na sy asem toe hy nog ’n glas skoon brandy in sy keel afgooi.

Hy staar weemoedig na die majestueuse Swartberge voor hom.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters