4 dae gelede
Stone grawe ’n ál dieper, donkerder gat vir homself ...
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag is dit hoofstuk 4 van CEDRIC AFRICA se "Bloedgeld”. Geniet die leesstof!

STONE het gou besef dat hy ál meer in Die Beer se skadu begin loop het. Die gevolg was dat sy verlowing met Sharon skipbreuk gely het.

“ ’n Vroumens moet gesien en nie gehoor word nie, ou Stone,” was Die Beer se verergde opmerking toe Stone een aand nederig verskoning maak om vroeg by die huis te wees.

Sharon was glad nie tevrede met die wending wat hul verhouding geneem het nie.

Die netjiese soldaat Stone Stenekamp het elke aand meer besope by hul woonstel aangekom.

Sy het ook nie ’n geheim daarvan gemaak dat sy niks van die arrogante kapt. Solly de Beer gehou het nie. En die manier waarop hy na haar rebelse kleinsus gekyk het, het haar koue rillings gegee.

Salomie self het natuurlik ál die aandag geniet.

“Watter houvas het daardie gemors op jou? Dis mos nie asof jy enige iets aan hom verskuldig is nie!” het Sharon een Saterdagmiddag woedend gevra.

Sy het alreeds alles gereël – ’n romantiese aandjie tuis, net die twee van hulle, soos in die goeie ou dae.

Maar toe lui Stone se selfoon. Dit was Die Beer. Hy en Stone is uitgenooi na ’n braai in die dorp se rykmansbuurt.

Sharon het gesmeek en gepleit, maar dit was alles vergeefs. Sy het selfs op hom gevloek. Toe hy die deur agter hom toetrek, het sy snikkend op die rusbank gaan lê.

Onder in die parkeerterrein van die woonstelkompleks het hy ongeduldig gewag dat Die Beer opdaag.

Om verder met Sharon te stry sou in elk geval nutteloos wees. Hoe kon hy haar die waarheid vertel sonder om sy eie ego te krenk? Hy was agter met sy kar se paaiemente, en dié vir die duur furniture wat hy net ná hul verlowing gekoop het.

Een aand in sy dronkverdriet het hy by sy boesemvriend sy lot bekla.

Die Beer het gretig ingestem om ál sy skuld klaar te betaal, selfs die buitensporig duur diamantverloofring.

Ek kan dié pel doodeenvoudig nie net in die steek laat nie. En al wat hy buitendien soek, is my vriendskap, het Stone gedink.

Stone het nie veel gepraat nadat Die Beer hom met sy groot grand kar kom oplaai het nie. “ ’n Goeie begryper het net ’n halwe woord nodig. What kind, masekind? Dit lyk of die hond jou kos afgevat het.”

“ A little trouble in paradise, but niks wat ek nie kan handle nie,” het hy ongeërg geantwoord.

“Jy moenie dat daai vroumens so op jou kop sit nie, my masekind. Kom ons gaan paartie.”

Stone staar gefassineerd na die massiewe dubbelverdiepinghuis toe Die Beer stilhou. Hy lyk selfs beter versorg as in die koerante, merk hy op toe die middeljarige kapt. Rollison fluks oor die groen grasperk stap om hulle te verwelkom.

“Mnr. Stenekamp, uiteindelik kry ek die voorreg om met Solly se beste vriend kennis te maak.”

Stone glimlag effe verleë. Dis nie sommer net nog ’n vleisbraaitjie dié nie, dink Stone toe kapt. Rollison hom klaar aan die belangrikste gaste voorgestel het.

Behalwe vir Katjies, wat hy vroeër hier gewaar het, is hier geen ander bekende gesigte nie.

Ons mense is seker maar te local vir so ’n larney besigheid, dink Stone.

Kapt. Rollison het tot privaat spyseniers gekry om die braaiery te behartig. Dis in skrille kontras met die gewone ou varktjoppie en ’n stukkie wors op die kole.

Stone frons effens nadenkend. ’n Polisiekaptein pay mos tog nie so baie nie.

Kyk dié ou se huis, die tuin en sy massiewe swembad. Seker ook maar ryk geërf, gelukkige bliksems.

Stone kies koers na die goed toegeruste kroeg, wat uitkyk op die swembad, en bestel ’n dubbelwhiskey. Sy gedagtes dwaal onwillekeurig terug na sy en Sharon se bekgeveg vroeër by die woonstel. Sy het so wragtig op hom gevloek.

“Awê, masekind, it’s not nice to stare, you know.”

Stone ruk soos hy skrik. Hy was nie bewus van Katjies wat stil soos ’n kat langs hom kom sit het nie.

“Dis oukei, ou Stone, ek loer ook ma’ soe deur my donker glase na daai klompie kaasboude da’ innie pool. En wassit nie vi’ daai bad luck motjie vannie captain nie, het hy sowaar vir ons strip dancers ôk laat kô,” sê Katjies.

Stone luister met ’n halwe oor na Katjies se sinnelose gebabbel. Hy het al gewonder wat die conection tussen hom en kapt. Rollison is.

Hy’s dan die grootste drug merchant aan die Weskus en die kaptein is ’n polisiewoordvoerder en kampvegter teen drugs en gender-based vio­lence.

Stone glimlag skalks. Dalk is Katjies familie en soos ’n broer in die tronk – jy is lief vir hom, maar jy praat nie eintlik oor hom nie.

Stone het die man met die oor­dadige juwele – wat meer lyk soos ’n krismisboom met te veel decora­tions – lank dopgehou. Hy het hom vroeër ewe uit die hoogte voorgestel as Hilton Meintjies ... Mr. Meintjies.

Die Beer en kapt. Rollison volg hom al die hele middag soos twee skoothondjies.

Stone volg die trio toe hulle in die kaptein se dubbelgarage verdwyn; daar binne moet iewers ’n toilet wees.

Die drie is diep in gesprek en onbewus van Stone se teenwoordigheid.

Dan vries Stone soos iemand wat pas met ’n bad yskoue water gegooi is.

Sy oë is nie besig om hom te belieg nie. Kapt. Rollison laat die tikrook stadig deur sy neusgate ontsnap terwyl hy die glaslollie vir Die Beer aangee.

Begrip vorm stadig in sy denke terwyl hy die toneel probeer uitpluis wat hom hier voor hom afspeel.

Dis die Beer wat hom eerste gewaar. Stone tree onseker nader. Sy gedagtes is in ’n warboel.

Hy hoop nie dié ouens dink hy het hulle doelbewus afgeloer nie.

“Is jy orrait, masekind?” vra Die Beer met ’n selfversekerde glimlag. “Jy kan hierdie outjie gerus probeer. Dit sal jou laat vergeet van daai mislike motjie van jou.”

Hy wil Die Beer nie teleurstel nie, maar hierdie goed is gif. Kapt. Rollison het vorentoe getree, asof hy sy gedagtes kon lees.

“Stone, die mense wat hulle aan die goed ophang, weet nie hoe om dit te gebruik nie. Ons drie gebruik dit net op special occasions.”

Mr. Meintjies het nie ’n woord gepraat nie. Hy het net agterdogtig gestaar na Stone, wat die tiklollie huiwerig uit Die Beer se hande geneem het.

Miskien is Die Beer tog reg, dink Stone. Sharon hoef nie te weet nie. Hierdie ys sal my dalk in ’n party mood sit en my laat vergeet sy’t vandag op my gevloek.

Asof dit so beplan was, sluit Katjies hom geruisloos by hulle aan. “Welcome to the gentlemen’s club, mase­kind,” babbel hy opgewonde.

“Jô! Ek het vir ’n oomblik gedink jy gaan my drop, ou Stone.”

Die Beer gee hom ’n stywe druk. Hilton Meintjies bekyk die toneel uitdrukkingloos en kapt. Rollison glimlag selfvoldaan. Stafsers. Stone was hooked.

Hy het die volgende dag by Die Beer gehoor hy het dit gate uit geniet en was die nar op die partytjie wat gesorg het dat die gaste skaterlag.

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters