19 dae gelede
Stoffel wonder of Charmaine al haar varkies op hok het
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

"Mense en hul Dinge" is CHRISTO MEYER se nuutste skryfstuk. Geniet die sesde hoofstuk!

‘HOEVEEL suiker drink julle in jul koffie?” kom Char­maine Grootboom se skerp stem uit die kombuis.

“Drie, asseblief,” antwoord ek en Mercia gelyk.

“Ek hoop sy bring koekies ook,” fluister my kollega en glimlag.

“Met of sonder melk?” roep Charmaine weer.

Mercia kyk na my en beduie ek moet praat, wat ek ook doen.

“Ons albei drink melk in ons koffie, dankie.”

’n Rukkie later kom Charmaine ingestap met ’n skinkbord waarop drie koppies is. Sy sit dit op die koffietafel neer.

Mercia lyk teleurgesteld toe sy sien daar is geen koekies nie.

“So ja, ek het nog altyd geglo ’n mens gesels beter as jy koffie in jou lyf het. Kry vir julle.”

Ek neem ’n slukkie van die koffie en spoeg dit amper terug in die koppie. Het die vrou nie reg geluister nie? Ek het vir drie lepels suiker gevra, nie 13 nie.

Ek hou Mercia onderlangs dop en sien die trek op haar gesig. Dus is dit nie net my koffie wat hopeloos te soet is nie. Op ’n manier sal ek die koffie inkry. Ek wil nie ondankbaar wees nie.

“Kom ons begin en kry klaar. Ek is seker julle het nog ander draaie om te ry en soos julle self kan sien, het ek nog heelwat om te doen.

My huishulp het Covid en nou moet ek alles self doen. Is daar genoeg suiker in julle koffie?”

“Oorgenoeg, dankie,” antwoord ek haastig.

“Mevrou G...” Charmaine rek haar oë toe sy na my kyk. Ek onthou dadelik van die formaliteite en voel soos ’n gek.

“Jammer, ek sal nie weer vergeet nie. Van nou af noem ek jou net op jou voornaam. Charmaine, het jy enige idee waar jou dogter kan wees?”

“Dis ’n dom vraag, speurder Groentwak. As ek geweet het waar Shireen is, sou ek haar persoonlik gaan haal het. Dan was sy nou hier.

“Dis immers wat ’n goeie ma soos ek sal doen. Dan sou dit nie nodig gewees het vir jou en jou kollega om jul tyd hier te kom mors nie.

“Ek is seker julle het belangriker sake om aandag aan te gee. Maar om jou vraag te beantwoord: Nee, ek het geen idee waar my dogter kan wees nie.”

Die vrou is omtrent op die aanval. Haar stem drup van sarkasme. Ek kan haar seker nie verkwalik nie.

“Dis eintlik Groentak,” help ek haar reg. “My van is Groentak, nie Groentwak nie.”

Charmaine swaai haar een hand in die lug. “Groentak, Groentwak, wat is die verskil? Dis tog nie die einde van die wêreld nie. Sommige mense darem.”

Besef die vrou hoe heilig ek op my van is? Ek haat dit as iemand dit verkeerd uitspreek, veral as dit met opset gedoen word.

Dis nie ’n alledaagse van soos Adams of Willemse nie. Maar laat ek liewer nie ’n stryery begin nie.

“Waar was ons nou weer voor jy my onderbreek het?” vra Charmaine.

Ek wonder of die vrou haar varkies almal op hok het. Of haar kind se verdwyning nie haar brein aangetas het nie. Op die oog af lyk sy normaal, maar wat gaan als in haar kop aan?

“Die gesels was by jou dogter,” antwoord ek. “Wat kon van haar geword het?”

“Ek dink Shireen is ontvoer. Ek en sy het ’n argument gehad op die dag van haar verdwyning, maar Shireen is nie die tipe kind wat haar so sal opruk dat sy sal wegloop van die huis af nie. Iemand moes haar gegryp het.”

Sy klink seker van haar saak. Tog kom sy kalm voor, nie soos ’n ma wat bekommerd is oor haar dogter se verdwyning nie.

Is daar dalk iets wat Charmaine Grootboom ons nie vertel nie? Weet sy meer as wat sy voorgee?

“Ek glo nie hulle sal my kind leed aandoen nie,” sê Charmaine asof sy my gedagtes oor haar kalmte kan lees.

“Hoe kan jy so seker wees?” vra Mercia, wat tot dusver nogal stillerig was.

“Ek kan dit aanvoel. Vroulike intuïsie. Die ontvoerders is net agter geld aan. Hulle sal nie my Shireentjie seermaak nie.

“Ek en my man kan ons maar reghou vir ’n oproep oor ’n losprys.”

Sê Charmaine net hierdie goed omdat sy hoop haar kind kom niks oor nie of kan sy dit regtig aanvoel?

“Wat as julle nie die losprys kan bekostig nie?” wil ek weet. “Wat as die bedrag wat die ontvoerders eis te hoog is?”

“Geld is nie ’n probleem nie. My dogter se veiligheid is belangriker as enige iets anders. Ons sal dit betaal.”

Charmaine draai na Mercia. “Jy het gesê jou van is Bruinders, nè?”

“Dis reg.”

“Dis nou toevallig. Hier was vanoggend ’n joernalis met dieselfde van. Ertjies, dink ek, het hy gesê is sy naam.”

“Boontjies Bruinders,” help Mercia­ haar reg.

“Boontjies, ja. Is hy familie van jou?”

“Boontjies is my eks-man. Ons is onlangs geskei.”

Charmaine trek haar asem in. “Dis nou ’n jammerte. Hy lyk na so ’n gawe man. Goedgemanierd.

“Wat het skeefgeloop? Of nee, wag, ek wil liewer nie weet nie. Of dalk wil jy nie met ’n vreemdeling daaroor praat nie.

“As ek reg onthou, het hy nog gesê die media sal my dogter gouer as die polisie opspoor.”

Mercia vererg haar. “Dis die polisie se werk om vermiste persone op te spoor, Charmaine, nie die media s’n nie. Boontjies soek net aandag. Hy moet liewer die polisie los om hul werk te doen en hom nie probeer inmeng nie.”

“Jy klink bitter, Kaptein. Is jy nog lief vir hom? Daar moet seker ’n manier wees hoe julle kan versoen.”

Genade. Nou het Charmaine Grootboom sommer ’n sielkundige geword. Sy is nou heeltemal van die onderwerp af.

“Charmaine, hoe hanteer jou man jul dogter se verdwyning?” probeer ek die gesprek professioneel hou.

“Frankie is stukkend. Hy sukkel om te slaap. Shireen is sy oogappel.

“Hy verwys na die ontvoerders as lafaards. Hy sê hulle vat kanse met ’n kind wat haarself nie kan verdedig nie.”

“En jou swaer, Ricky Grootboom? Voel hy ook geraak oor alles? In tye soos dié staan familie mekaar mos by.”

Charmaine verkleur. Dis asof ek ’n verkeerde onderwerp aangeroer het, iets gesê het wat ek nie moes nie.

“Jy noem nooit weer daai naam in my teenwoordigheid nie. In hierdie huis praat ons nooit oor hom nie. Hy is nie werd om familie genoem te word nie.

“Ek... ek dink julle moet liewer loop. Julle is nie langer welkom in my huis nie.”

Aan Mercia se gesigsuitdrukking kan ek sien sy wonder dieselfde ding wat deur my gedagtes gaan: Wat het Ricky Grootboom gedoen dat sy skoonsuster hom so haat?

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters