17 dae gelede
Stoffel weet die moordtoneel gaan nog by hom spook
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

“Mense en hul Dinge” is CHRISTO MEYER se nuutste skryfstuk. Geniet nou gerus hoofstuk 8.

‘HET jy ook agtergekom iets is nie lekker met die kolonel nie?” vra ek vir Mercia in die kar op pad na die misdaadtoneel.

Dis ’n ou gewoonte van my. Sodra ons uitgeroep word na ’n toneel waar ’n kind betrokke is, kry ek iets anders om oor te praat. Dis asof ek die eintlike probleem tot op die laaste nippertjie probeer vermy.

Ek het nog geen kinders van my eie nie, maar ek haat dit as mense kinders leed aandoen. Toe ek onlangs op die nuus hoor van ’n ma in Nieu-Seeland wat gearresteer is vir die moord op drie van haar eie kinders, het ek my kop in ongeloof geskud.

Hoe kry ’n mens dit reg? het ek oor en oor gewonder.

Haar eie vlees en bloed wat sy nege maande lank onder haar hart gedra het? Die boeke van ander mense bly maar duister. Maar wie is ek om vinger te wys as die vrou se man reeds aangedui het hy het haar vergewe?

“Ek het niks vreemds agtergekom nie,” antwoord Mercia.

“Wat gee jou die idee iets is verkeerd?”

“Die kolonel is net nie homself nie. Daar is iets wat aan hom vreet.

“Ek kan net nie my vinger daarop lê nie. Hy’t nog nooit met ons geraas as ons inligting uit iemand probeer kry nie.

“Hy weet dan dis ons werk.”

“Ek weet darem nie so mooi nie. Vir my het dit geklink asof hy sy mes doelbewus vir ons in het.”

“Presies, Kaptein. Dis juis dít wat my bekommer.

“Ek dink daar is iets anders wat hom pla, nou haal hy sy frustrasies op ons twee uit. Ons sal gou genoeg uitvind wat dit is, mark my words. Hier in Stelrivier bly niks vir lank ’n geheim nie.”

Ons ry in stilte verder, my gedagtes by dit wat op ons wag. Nog ’n lyk, nog ’n moord. Nog ’n saak om op te los.

Op ’n afstand sien ek ’n groot groep mense. Nuuskieriges, soos op byna elke misdaadtoneel waar ek al was. Meestal volwassenes, maar hier en daar ’n kind ook.

Het hulle niks beter om te doen as om hier rond te hang nie?

Hoekom fassineer misdaad sommige mense so? Dit lyk hulle kan net nie genoeg daarvan kry nie.

Ek het nou die dag die verkoopsyfers van ’n groot uitgewer in die koerant dopgehou. Misdaadfiksie is die topverkoper.

Nie liefdesverhale nie, as jy in ag neem dat die oorgrote meerderheid vroulike lesers is.

Op die sypaadjie oorkant die stasie bring ek die motor tot stilstand. Mercia klim eerste uit.

Ek volg haar, maar eers nadat ek seker gemaak het die deure is gesluit. Hier in Stelrivier kan jy nooit te versigtig wees nie. Mense sal jou suiker uit jou koffie steel, dan sit jy met ’n bitter smaak in jou mond.

Ons stap in die rigting van die polisielint wat die toneel afsper. Mense draai hul koppe toe hulle ons gewaar. Ek wens ek kan hul gedagtes lees.

Het een van hulle dalk iets gesien? Lyk my darem nie die media het ons dié keer voorgespring nie.

Ek sien nog niemand met ’n notaboek in die hand iewers staan nie. Ons eie fotograaf is die enigste een wat foto’s neem.

“Dis nie ’n mooi gesig nie,” waarsku een van die konstabels toe ons verby hom loop. “Ek dog ek sê maar net.”

Ek maak asof ek hom nie hoor nie. Dis tyd om te fokus.

’n Entjie verder lê ’n bondeltjie onder ’n laken. Ek en Mercia kyk woordeloos na mekaar.

“Sal ek dit oplig?” vra ek en herken amper nie my eie stem nie.

Mercia antwoord met ’n kopknik.

Die oomblik van waarheid het aangebreek. Toe ek haar daar sien lê, kry ek ’n knop in my keel.

Ek was al op baie moordtonele, maar hierdie is een van die ergstes nóg. Dit gaan my nagte lank laat wakker lê.

Die konstabel was reg. Dit is beslis nie ’n mooi gesig nie.

Ek laat sak die laken. Woede stoot in my binneste op.

As ek die een wat dit gedoen het in die hande kry... daar sal niks van hom oorbly nie. Ek sal sy kop herhaaldelik teen die muur kap.

Ek sal die waarheid uit hom dwing. Hy moet kan verduidelik hoekom hy dit gedoen het. Daarna sal ek hom in ’n dam gaan gooi waar niemand hom ooit weer sal vind nie.

Hy sal nooit weer aan enige kind kan raak nie. Hy verdien nie om te lewe nie...

Ek skrik vir my gedagtes. Wat gaan aan met my?

Dis verkeerd om só te redeneer. Ek mag nie tot die vlak van ’n misdadiger daal nie. Geen mens het die reg om die reg in eie hande te neem nie.

My plig is om die skuldige vas te trek en aan die pen te laat ry. Ek wens die regering bring die doodstraf terug.

Shireen Grootboom was net ’n kind met haar hele toekoms voor haar. Watter drome het sy nie alles gekoester nie? Wie doen so iets aan ’n onskuldige kind?

Was dit nodig om haar so vol gate te steek? Waar is haar klere?

Hoekom is sy kaal? En al die bloed? Haar ouers mag haar nie so sien nie.

“Iemand sal haar ma moet gaan inlig.”

Mercia praat in ’n fluisterstem, net hard genoeg dat ek haar kan hoor.

“Ek is jammer, maar ek sien nie nou kans om dit te gaan doen nie. Sal jy die tyding gaan oordra, sersant Groentak?”

Hoekom doen Mercia dit aan my? Hoekom gooi sy my altyd by die diep kant in? Charmaine Grootboom is die laaste persoon met wie ek nou te doen wil hê.

Sy het my vroeër weggejaag.

Nogtans stem ek in. Hoe gouer ek dit agter die rug kry, hoe gouer kan ons na die moordenaar begin soek. Mercia wens my sterkte toe.

“Ek gaan nog ’n rukkie hier vertoef,” sê sy.

“WAT wil jy nóú weer hê?” raas Charmaine Grootboom toe sy die voordeur oopmaak.

“Kan ek inkom, asseblief?”

“Nee. Sê jou sê en kry jou ry. Jy het mos gehoor jy is nie welkom nie. Wat soek jy hier?”

“Ek het nuus oor Shireen. Ons het haar gekry.”

Charmaine se gesig helder op. Ek voel onmiddellik skuldig.

Sy verkeer onder die indruk ek bring goeie nuus. Hoe nou gemaak?

“Waar is my kind?” vra sy opgewonde. “Hoekom het jy haar nie saamgebring nie? Hou jy my vir die gek?”

“Ek... ons... uhm...” Die woorde sukkel om uit te kom. Ek wens daar was ’n makliker manier.

“Hoekom hakkel jy nou? Het jy jou tong ingesluk?”

“Wat ek eintlik probeer sê... jy gaan nie weer Shireen se stem kan hoor nie. Sy kom nie weer huis toe nie. “Jou dogter is...”

Ek kry nie kans om my sin te voltooi nie. Charmaine gryp haar kop vas en begin hardop gil.

Die volgende oomblik knak haar bene onder haar en sy sak inmekaar.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters