16 dae gelede
Stoffel sal seker maak Roslin gaan piekfyn wees
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

“Mense en hul Dinge” is CHRISTO MEYER se nuutste skryfstuk. Geniet nou gerus die slothoofstuk.

‘DINGE was nie ver­onderstel om so te eindig nie,” sê Charmaine toe sy tot verhaal kom.

Dit het koue water gekos om haar by te bring. Sy het my groot laat skrik. Sy sit met ’n koppie rooibostee in haar hand wat sy gevra het ek moet maak.

“Die lewe is wreed en onregverdig. Kinders moet hul ouers begrawe, nie andersom nie. Shireen was so vol energie, so vol lus vir die lewe.”

Ek luister aandagtig sonder om haar te onderbreek. “In sulke tye kan mens nie anders as om oor die Here te wonder nie. Hoekom laat Hy sulke dinge toe en hoekom laat hy die moordenaars wegkom? Ek weet nie of dié seer ooit gaan verdwyn nie.”

Toe ek Charmaine se huis verlaat, verlang ek skielik na Roslin. Dis die eerste keer vandat sy my verlaat het om saam met Ricky Grootboom te wees. Ek haal my selfoon uit my broeksak, gereed om haar te bel, maar besluit daarteen.

Shireen Grootboom se dood is in ál wat ’n koerant is onder opskrifte soos “Tiener wreed vermoor” en “Moord ruk gemeenskap”.

In die dae daarna bel joernaliste wat wil weet hoe die ondersoek vorder, my selfoon warm.

Gelukkig is dit nie my job as speurder om die media te entertain nie. Ek verwys hulle na ons woordvoerders wat betaal word om met hulle te praat.

Charmaine Grootboom word in die hospitaal opgeneem. Vir haar is die skok van haar kind se dood te groot, veral die wrede manier hoe sy aan haar einde gekom het.

Sy het gehoop Shireen gaan weer huis toe kom.

Volgens haar man het Charmaine in ’n droom gesien hoe hul dogter weer by die deur instap nadat hulle ’n losprys aan haar ontvoerders betaal het.

“My vrou was maar altyd ’n dromer,” deel Frank Grootboom sy gedagtes. “Sy’t geglo sy is met die helm gebore en dat sy dinge vooruit kan sien. Sy was so oortuigend dat selfs ek gedink het ons het nie regtig ’n rede om ons oor Shireen se veiligheid te bekommer nie.”

’n Lid van die publiek het na vore gekom met die bewering dat sy ’n minibustaxi met donker ruite in die omgewing van die treinstasie gesien het kort voordat daar op Shireen se lyk afgekom is. Sy’t ’n registrasienommer aan ons verskaf.

Toe ons dit opvolg, bring dit ons by iemand in die Wallacedene-plakkerskamp uit. Die man het erken die voertuig behoort aan hom, maar dat hy dit weke gelede al as gesteel aangemeld het. Hy het meer lof gehad vir die vrou wat so oplettend was as vir die polisie.

Ek was reg oor kol. Mbeki. Daar was iets wat aan hom gevreet het. Hy het ons almal een Maandag byeengeroep en slegte nuus vir ons gehad.

“Die grootbase het besluit ek was lank genoeg hier op Stelrivier. Ek word binnekort na die Gramdoel-polisiestasie oorgeplaas.”

“Gramdoel?” het almal gelyk gevra. “In watter deel van die land is dit?”

En die kolonel het geantwoord: “Ek weet ook nie, maar die naam alleen klink soos iewers in die gramadoelas.”

TOE ek een Vrydagaand voor die TV sit, kry ek ’n oproep van iemand van wie ek nie verwag het om sommer weer te hoor nie. Roslin Rhoode.

“Stoffel! Los alles waarmee jy besig is en kom dadelik!”

“Wat gaan aan, Roslin? Hoekom gil jy so?”

“Kom net! Kom net! Daar is nie nou tyd om te verduidelik nie! Ek is hier by Ricky se plek!”

Iets is verkeerd. Ek hoor dit aan Roslin se stemtoon. Die speurder in my brand om te weet wat dit is. Ek gryp my motorsleutels, hardloop na buite en trek met skreeuende bande weg.

Sowat 20 minute later hou ek voor Ricky Grootboom se huis stil. Toe ek uitklim, kom Roslin in my rigting gehardloop.

“Hallo, Stoffel. Dis Ricky. Ek dink hy wil ’n bekentenis maak.”

Ek kyk in Roslin se oë. Sy is nog net so mooi. Die versoeking is groot om haar in my arms te neem.

“Watter kant is hy?”

“In die sitkamer. Hy het gevra ek moet jou bel.”

Ek haas my na binne. Ricky gewaar my en kyk op.

“Awê, Stoffel, my goeie vriend. Hoe behandel die lewe jou?”

Goeie vriend? Hy sal hom wat verbeel.

“Ek gaan maar aan, jong. Baat nie om te kla nie. Ek hoor jy wil my sien.”

“Kykie, ek wil eers sorry sê omdat ek jou girlfriend afgevat het. Jy is self ’n man en dis maar net een van daai dinge. No hard feelings.”

As dít is waaroor Ricky met my wil praat, gaan ek liewer loop.

“But daai is nie hoekom ek jou invite het nie. Ek wil praat oor Shireen.”

Wag ’n bietjie. Weet Ricky iets van Shireen se dood?

“Ek is responsible vir Shireen se dood.” Sy woorde sny so diep dat ek vir ’n oomblik nie weet hoe om te reageer nie.

“Ek het haar nie self doodgemaak nie, maar dit voel ek het.”

“Jy praat in sirkels, Ricky. Wat bedoel jy?”

“Die Nigerians het haar vermoor. Ek skuld hulle ’n klomp geld. My dobbelprobleem het my ingehaal. Toe ek nie hul geld kon terugbetaal nie, het hulle gedreig om my familie een vir een dood te maak en daarna vir my.

“Ek het nie gedink hulle is serious nie, maar hulle was. My broer Frank is next op hul lys, dan Charmaine. Ek kan nie daai allow nie. Doen my ’n favour. Kyk mooi na Roslin.”

Toe ek weer kyk, druk Ricky ’n rewolwer teen sy linkerslaap. ’n Skoot gaan af.

’n Doodse stilte volg. Roslin kom nader en gryp my styf vas.

“Ek is jammer, Stoffel. Ek moes nooit ons verlowing verbreek het nie. Dit was die grootste fout van my lewe.”

“Ons almal maak foute, Roslin. Die belangrikste is om daaruit te leer.”

“Ek het ’n duur les geleer. Dít belowe ek jou. Ek het my vingers lelik verbrand. Ricky het my ’n gat in die kop gepraat. Hy het gesê speurders kies altyd hul werk bo hul lewensmaat; dat ek nooit genoeg aandag by jou sal kry nie.”

“Ek sal nooit so iets doen nie. Jy ken my beter as dit.”

“Ek weet. Ek weet. En ek is jammer. Hoop jy kan my vergewe.

“As jy nog kans sien – kan ons nie weer probeer nie? Ek is nog altyd lief vir jou.”

“En ek vir jou. G’n ander vrou sal ooit jou plek in my hart kan inneem nie. Ek wil oud word saam met jou. Maar wag, kom ons kry eers Ricky se lyk hier weg voordat ons verder praat. Die spreekwoord sê nie verniet die een se dood is die ander se brood nie.”

Ek bel Mercia en vertel haar van die drama. Sy luister totdat ek klaar gepraat het voordat sy vra: “En Roslin? Hoe hanteer sy dit? Is sy darem oukei?”

Ek lag uit my maag.

“Roslin gaan piekfyn wees, Kaptein. Daarvan sal ek seker maak.”

Voordat Mercia die foon dooddruk, hoor ek hoe sy sê: “Mense en hul dinge darem.”

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters