26 dae gelede
Stoffel kan nie glo wat Roslin hom aangedoen het nie
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

“Mense en hul Dinge” is CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk. Geniet die tweede hoofstuk!

NADAT ek die kraan toegedraai het, voel ek effens beter.

Die warm water het die ergste spanning uit my lyf gehaal.

Ek is nog ver van 100% af en ek besef alte goed daar lê nog ’n lang pad na herstel voor. Ek moet dit net dag vir dag vat.

As iemand net my skouers kan masseer. Ek onthou hoe Roslin gereeld... Nee, ek moenie aan haar dink nie.

Sy is ’n bedrieër wat nie langer deel van my lewe is nie. Sy het haar kans gehad en dit opgemors.

Hoe gouer ek haar uit my gedagtes kry, hoe gouer kan ek aanbeweeg. Ek wil haar nooit weer in my arms neem of aan haar raak nie.

Tog weet ek die liefde is nie ’n knoppie wat ek op ’n dag net kan afskakel nie. As ’n man eers ’n vrou in sy hart toegelaat het, is dit bitter moeilik om haar daaruit te kry.

Ek gaan staan voor die spieël, trek my vingers deur my hare. Ek sluit my oë en haal diep asem. So baie het in so ’n kort tyd gebeur.

As ek nie die slegte nuus self uit Roslin se mond gehoor het nie, sou ek gedink het dis net ’n nare droom.

Eintlik wens ek dit was. Tog is dit die reine waarheid.

Die lewe het maar net sy eie manier van dinge doen, nè? Soms behandel hy jou nice, maar die meeste van die tyd nie.

Wat het ek gesondig om so seergemaak te word? Is dit nie genoeg dat ek sonder ’n pa grootgeword het nie? Rus daar dalk ’n vloek op my?

Ek maak my oë oop en besef ek sal my moet regruk. Om in ’n hoekie te gaan wegkruip en myself te bejammer, gaan die probleem net vererger.

Gelukkig hoef ek my vir die volgende paar dae nie oor werk te bekommer nie.

Die kolonel was baie tegemoet­komend toe ek bel en vra of ek verlof kan vat. Hy het nie uitgevra toe ek sê ek het ’n paar dae op my eie nodig om persoonlike issues uit te sort nie.

“Jy moet net ’n amptelike verlofvorm kom invul wanneer jy terug is. En moenie te lank wegbly nie.

“Daar is misdadigers daar buite wat jy moet kom help vang.”

Kolonel Mbeki is ’n bevelvoerder met begrip. ’n Intelligente man.

Hy is vyf tale magtig. Xhosa, Zoeloe, Sotho, Engels en Afrikaans. Streng, maar nooit onredelik nie. Iemand wat nie net op grond van sy velkleur in ’n senior posisie aangestel is soos so baie ander van wie ek weet nie. Hy verdien om daar te wees.

Hy is iemand wat sy pligte na die beste van sy vermoë uitvoer.

As ’n mens so na die kolonel kyk, sal jy nooit sê hy is ook deur diep waters nie. Ek kan my nie eens probeer indink hoe hy gevoel het toe hy een aand by die huis kom en sy hele gesin dood aantref nie. Koelbloedig vermoor.

Gelukkig het die polisie alle leidrade opgevolg en drie verdagtes is binne ’n paar dae vasgetrek. Al drie is skuldig bevind, maar die naam van die meesterbrein agter die moorde het nooit in die hofsaak uitgekom nie.

Gerugte wil dit hê dat ’n glibberige dwelmbaas agter die hit sit omdat die kolonel te warm op sy spoor was.

Ek maak my gemaklik in ’n T-hemp en sweetpakbroek en sluit my by Mia in die kombuis aan. My maag grom van hongerte. Ek het vanoggend laas geëet.

“Jy het my nog nie vertel wat aangaan nie, Stoffel, “ sê Mia waar die twee van ons aan ’n pizza sit en smul.

“Jy was vanmiddag so emosioneel toe jy hier aangekom het, jy kon skaars ’n woord uitkry. Ek kon nie kop of stert uitmaak nie.

“Wat is eintlik die probleem?”

Ek skuif ongemaklik op die stoel rond. Ek wens ’n verduideliking was nie nou al nodig nie. Daar is nog so baie wat ek op my eie moet verwerk.

Dan onthou ek die woorde van ’n onderwyser uit my hoërskooldae: “A problem shared is a problem halved.” En Mia is die een persoon wat ek in my vertroue kan neem.

In my matriekjaar het my ma gesê: “Almal van ons kort soms ’n skouer om op te huil. Dit maak nie saak wie jy is nie. Niemand is te sterk om ’n traan te stort nie, al sê wie ook wat.

“Ons almal het die een of ander tyd iemand nodig by wie jy kan gaan afpak as dinge te veel raak. Iemand wat na jou sal luister sonder om jou te judge.”

My ma het geweet waarvan sy praat. Mag haar kosbare siel in vrede rus.

Mia was nog altyd my go-to person. Met haar kon ek nog altyd oor enige iets praat.

Ek steek my hand uit, skink van die lemoensap op die tafel in ’n glas en neem ’n slukkie.

Eintlik sou ek iets sterkers verkies het. Iets soos whisky of brandewyn. Maar ek het groot respek vir Mia. Sy is ’n nie-drinker.

“Dis... dis daai verdomde Roslin,” sê ek huiwerig.

Mia se oë is op my gevestig. “Roslin?” vra sy geskok.

“Wat het sy verkeerd gedoen? Moenie vir my sê haar ouers het weer ingemeng nie.”

Ek bly stil, draai my kop toe ek die wind aan ’n venster hoor ruk.

“Jy maak my bekommerd, Stoffel. Wat is dit van Roslin? Is sy in die moeilik­heid? Jy weet jy kan met my praat.”

“Ek en Roslin gaan nie meer trou nie,” wurg ek dit uit. “Die verlowing is af.”

Mia trek haar asem skerp in. “Wat? Ek kan dit nie glo nie. Dit klink so drasties, so finaal. Wat het gebeur?”

Ek skraap al my moed bymekaar. “Roslin sien nie meer kans vir my nie. Daar’s ’n ander man in haar lewe.”

Mia swyg vir ’n paar sekondes asof sy my woorde kans gee om in te sink. “Ek is jammer om dit te hoor. Só iets het ek nie van Roslin verwag nie.

“Ek het altyd gedink julle twee is die perfekte couple.”

“Dis wat ek ook gedink het. Totdat sy openlik erken het sy is verlief op Ricky.”

Mia kyk my verbaas aan. “Jy praat seker nie van Ricky Grootboom wat saam met jou op skool was nie, of hoe? Daai brêkgat wat hom verbeel het hy is beter as ander?”

Ek knik. “Dis so seer, Mia, so verskriklik seer. Dit voel asof die pyn nooit gaan verdwyn nie.”

Vertroostend sit sy haar hand op my skouer. “Jy is een van die sterkste mense wat ek ken, my neef. Jy sal hierdeur kom. Moenie toelaat dat die pyn jou onderkry nie.

“Ek weet dit klink soos ’n cliché, maar tyd genees uiteindelik alle wonde. Jy moet net vasbyt.”

Ek weet sy is reg. My liefde vir Roslin gaan nie oornag verdwyn nie.

My hart het nog altyd net aan haar behoort. Ek is stukkend van binne en dit gaan tyd vat om haar uit my sisteem te kry. Of ek haar ooit gaan vergewe, is ’n ander saak.

Sy het my te diep teleurgestel. Ek gaan bed toe en raak gou aan die slaap. Toe ek droom, is dit van my en Roslin se troudag.

’n Troudag wat Roslin besluit het nooit gaan plaasvind nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters