27 dae gelede
Stoffel Groentak is ’n anderste
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

“Mense en hul Dinge” is CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk. Geniet die eerste hoofstuk!

MY NAAM is Stoffel Groentak. Vir die meeste van my vriende staan ek as Takkies bekend. Ek is 33 jaar gelede op ’n druiweplaas naby Atlantis gebore. Van armoede en swaarkry kan niemand my niks vertel nie. As ek eendag ouer is, met meer tyd tot my beskikking, wil ek ’n boek skryf oor die omstandighede waaronder ek grootgeword het.

Ek is ’n ondersoekbeampte by die Stelrivier-polisiestasie. Ek is steeds ’n sersant, ná jare van niks minder as net my beste lewer nie. Ek glo ek moes lankal bevordering gekry het. Van die ander wat so lyf wegsteek... Wag, laat ek liewer swyg voordat ek hoor ek praat uit my beurt. Of dat ek rassisties is.

Dis die laaste ding waarvan ek beskuldig wil word. Kom ek hou liewer daai argument vir ’n volgende keer.

Ek moet seker dankbaar wees ek het ’n werk en dat ek ’n vaste inkomste verdien. Ek weet van mense met wie dit broekskeur gaan. Covid-19 het ’n stokkie voor talle se planne kom steek.

Vir diegene wat nie weet waar Stelrivier is nie: Dis ’n dorp op sy eie tussen Stellenbosch en Eersterivier.

’n Bedrywige dorp, veral oor naweke. Ons het ons hande vol met tienerbendes wat die lewe van inwoners ’n lewende hel maak.

Ons probeer maar ons bes om wet en orde te handhaaf.

Soms as dinge te veel raak, gaan soek ek die rustigheid van die platteland op.

Dit gee my kans om my batteries te recharge. Soos nou, terwyl ek met ’n groot terugslag in my lewe worstel.

Met ’n Stephen King-riller in my hand lê ek op die naat van my rug in my favourite niggie, Mia October, se drieslaapkamerhuis – die huis wat sy opgeknap en klaar betaal het met die polisgelde ná Tollie se dood.

Ten minste kan niemand sê sy het haar oorlede man se geld op onbenullighede spandeer nie. Ek noem Mia my favourite niggie omdat die band tussen ons amper soos dié van broer en suster is. Ons deel ons diepste geheime met mekaar sonder dat die een bekommerd hoef te wees dat die ander dit met outsiders sal bespreek.

My oë dwaal oor die woorde in die eerste hoofstuk van The Colorado Kid, maar my aandag is nie regtig by die storie nie. Ek sukkel om te fokus. As ek eerlik moet wees, draai ek myself eintlik ’n rat voor die oë deur te maak asof ek lus is vir lees. My gedagtes is ver van fiktiewe karakters.

Dit klink miskien na ’n baie ongevoelige ding om te sê, maar ek dink Mia was verlig toe Tollie die emmer skop.

Sy is natuurlik te trots en ordentlik om dit te erken, maar ek het haar nog nooit hoor sê sy verlang na hom nie.

Ek is oortuig sy is bly hy is permanent uit haar lewe.

Aan die begin van hul huwelik was Tollie die wonderlikste eggenoot waarvoor enige vrou kon vra. Hy het sy bruid op die hande gedra en haar gereeld met geskenke bederf. Vir Mia was hy die spreekwoordelike ridder op die wit perd.

“My kind het reg gekies,” het antie Meisie loop en spog. “As daar één huwelik is wat bestem is om ’n leeftyd lank te hou, is dit Mia en Tollie s’n. Vir ’n beter skoonseun kon ek nie gevra het nie.”

As antie Meisie maar net in die toekoms kon sien, sou sy ’n ander deuntjie gesing het.

Hulle nog skaars getroud, toe leer Mia ’n kant van Tollie ken waarvan sy nooit geweet het nie. ’n Kant van hom wat haar nagte lank bekommerd laat wakker lê het.

’n Kant van hom wat vrees en onsekerheid by haar ingeboesem het. Iets moes gebeur het wat Tollie na die drankbottel laat gryp het. Wat dit was, kon Mia nooit verklaar nie. Dit was tog duidelik dat Tollie gelukkig was in sy pos as verkoopsbestuurder by ’n bekende motorhandelaar.

Waarom het hy dan sy toevlug tot drank geneem?

En as Tollie so dikgesuip was, het sy vuiste jeukerig geraak. Hy het gereeld sy woedebuie op sy vrou uitgehaal. Mia het dit maande lank geheim gehou en vir niemand daarvan vertel nie.

Die glimlag op haar gesig sou niemand laat dink sy het huweliksprobleme nie. Tot op ’n dag toe sy besluit het om die stilte te verbreek. Mia het my een oggend wakker gebel en ek het geskok geluister hoe sy haar hart uitpraat. Sy’t my vertel sy was drie keer swanger en elke keer het sy ’n miskraam gehad.

Tydens elke swangerskap het Tollie haar aangerand en in haar maag geskop. Nie ’n enkele keer het Mia ’n klag teen Tollie gaan lê nie. Soos so baie vroue in soortgelyke situasies het Mia bly glo haar man gaan verander.

Maar hy het nie. Sy drinkery en die aanrandings het net erger geraak. Dit het eers gestop daai aand toe Tollie in sy besopenheid voor ’n taxi beland het. Die taxi driver het weggejaag sonder om te kyk of die slagoffer oukei is. Of dalk het hy geweet die slagoffer sou nooit weer opstaan nie.

Op die begrafnis het Mia heeltyd net stip voor haar uitgestaar soos iemand in ’n dwaal. Sy het g’n enkele traan gestort nie. Nie in die kerk nie en ook nie langs die graf nie. Dié gedrag was iets wat ander begrafnisgangers nie misgekyk het nie.

“Almal treur maar op hul eie manier,” het ek antie Meisie aan iemand hoor sê. “Ek kry my kind so jammer.”

Volgens die almanak teen die muur is dit veronderstel om September te wees, maar dit voel asof ek my steeds in die hartjie van die winter bevind. Die snerpende koue het nog lank nie sy ry gekry nie en dit lyk nie asof hy van plan is om dit binnekort te doen nie.

Boonop voel dit hier by my niggie op die platteland tien keer kouer as by ons in die stad. Ek kyk nooit na die weervoorspelling nie, maar ek is seker hier iewers het onlangs sneeu geval.

Ek maak die boek toe en sit dit op die bedkassie neer. Ek staan op en loop badkamer toe waar ek van my klere ontslae raak.

Terwyl ek onder die stort staan, verloor ek alle selfbeheersing. My skouers ruk en die trane rol vrylik oor my wange.

Ek het myself nog altyd as ’n sterk mens beskou, maar op dié oomblik voel ek soos die grootste mislukking op aarde. In die oë van die publiek is ek hierdie briljante speurder wat uit sy pad sal gaan om geregtigheid te laat geskied, maar my persoonlike lewe stuur op ’n ramp af.

Ek is nie ’n tjankbalie nie, maar in dié geval is dit moeilik om nie uiting te gee aan my emosies nie. Wie het gesê ’n man mag nie huil nie? Seker net iemand wat nog nooit in my skoene gestaan het nie.

Ek kan nie glo ek was so blind dat ek nie agtergekom het iets is fout in my verhouding met Roslin Rhoode nie. Is dít wat die liefde aan ’n man doen?

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters