25 dae gelede
Stoffel en Mercia kry die taak om iemand­ dop te hou
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

“Mense en hul Dinge” is CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk. Geniet die derde hoofstuk!

SLEGTE nuus en skinderstories het die nare gewoonte om vinniger as ’n veldbrand te versprei.

Dít besef ek toe ek my ’n week later weer vir diens aanmeld. Waar my kollegas gehoor het ek is nie meer aan Roslin Rhoode verloof nie, sal net hulle weet.

Sommer met die intrapslag simpatiseer hulle van ’n kant af. Ek plak ’n glimlag op en maak asof dit nie juis ’n big deal is nie. Hulle hoef nie te weet hoe seergemaak ek van binne voel nie.

Ek gaan maak ’n draai by die kolonel om my verlofvorm te voltooi.

“Het jy lekker gerus?” vra hy, maar gee my nie kans om te antwoord nie. “Ek verneem jy het liefdesprobleme. Jy moenie toelaat dat dit inmeng met jou werk nie.

“Neem liewer nog tyd af as jy moet. Jy het nog klomp opgehoopte verlof.”

“Dankie, maar nee dankie, Kolonel. Ek wil eerder besig bly.

“Dit sal maak dat ek nie te veel daaraan dink nie. Maar hoe weet Kolonel?”

Hy beduie na sy selfoon. “Dis die hele Facebook vol. Roslin Rhoode laat nie gras onder haar voete groei nie.

“Sy verwys na haar nuwe kêrel as haar ‘true love’. Nou wonder ek wat was jy. Julle was tog verloof.

“Kyk self as jy dink ek oordryf.”

“Ek wil liewer nie sien nie, Kolonel. Dit gaan my net verder ontstel.”

“Nou goed, gaan roep gou vir kaptein Bruinders, dan kom sien julle twee my. Iets belangriks wat ek met julle wil bespreek.”

Ek verlaat die kolonel se kantoor en loop in die gang af. By Mercia Bruinders se deur klop ek en wag vir haar om “binne” te sê.

Toe sy nie reageer nie, draai ek die handvatsel en laat myself in. My oog val onmiddellik op die deurmekaar lessenaar. Dossiere en ander papiere lê die hele wêreld vol.

’n Trui hang skuins oor die leuning van die stoel. Ek is nie daaraan gewoond nie. Ons almal ken Mercia as ’n netjiese mens. Elke dingetjie is gewoonlik op sy plek.

Sy haat slordigheid. Hoekom lyk haar kantoor dan só?

Die kolonel sal ’n oorval kry as hy hier instap. Mercia staan voor die venster, haar rug op my gekeer.

Ek dink nie sy het my hoor inkom nie, anders het sy lankal omgedraai.

Om haar aandag te trek, maak ek kliphard keel skoon.

“Sersant Stoffel Takkies, het jou ma jou nie maniere geleer nie?” raas Mercia toe sy omkyk en my voor haar lessenaar sien staan.

“’n Mens klop eers voor jy by ’n vertrek instap. Jy bars nie net in soos ’n misdadiger nie. Jy, van alle mense, behoort dit tog te weet?”

Ek antwoord nie, want as ek sodanig na ’n preek wil luister, sal ek kerk toe gaan.

Mercia is weer in een van haar moods.

Daar is iets soos verbasing op haar gesig. Kan dit wees dat sy so ingedagte was dat sy nie gehoor het ek draai die deurknop nie?

Dis ongewoon; ek ken min mense wat so oplettend is soos kaptein Mercia Bruinders. Sy is nie verniet een van die Wes-Kaap se beste ondersoekbeamptes nie.

Om die vrede te bewaar, maak ek liewer asof ek haar nie gehoor het nie. As ek nou moet reageer, kan dit in ’n lelike argument ontaard.

Daarvoor sien ek nie kans nie. Ek het genoeg ander goed om oor te worry.

Wat gaan aan met Mercia? Dit was nog nooit voorheen ’n probleem as ek net by haar kantoor ingeloop het nie. Eintlik is dit ’n algemene verskynsel onder ons speurders. Ons is mos soos familie.

Maar ek hét tog geklop. Dis tog nie asof ek haar sonder klere aan hier aangetref het of besig met onheilighede nie.

Dis immers ’n werkplek en nes sy is ek geregtig om hier te wees.

Op ’n manier het ek begrip vir Mercia se situasie. Haar egskeiding is onlangs afgehandel en sy is duidelik nie haarself nie. Haar hart is nog broos.

Daai donnerse Boontjies Bruinders het haar lelik verneuk. En dit nogal met een van haar vriendinne.

Hoe leef mense met hul gewete as hulle sulke goed aan ander doen? Dit maak my sommer van voor af die moer in.

Ek is deur iets soortgelyks. Maar dit gaan nie nou oor my nie.

Die kringe onder Mercia se oë skilder ’n prentjie van iemand wat te min slaap. Sy is ’n mooi vrou, maar die lewe het haar sy lelike kant gewys.

Ek kry haar jammer, wens daar was iets wat ek kon doen om haar pyn te verlig. Dis nie maklik om vrou-alleen deur sulke seer te worstel nie.

Ek wonder wat haar reaksie sal wees as ek haar ’n skouer moet bied om op te huil. Sy sal my seker uitlag.

“Die kolonel wil jou sien,” sê ek kalm. “Hy sê dis dringend.”

Mercia se oë spuug vuur. “Ek het ’n foon hier by my,” bars sy in woede uit. “Hoekom kan die kolonel nie net bel nie? Kyk die hoop dossiere wat hier lê.

“Ek het ’n klomp werk. Of dink hy miskien ek sit en speel met my tone?”

Ek trek my skouers op. “Jy fight met die verkeerde persoon. Ek is maar net die messenger.

“Die kolonel wil nie net vir jou sien nie, maar vir my ook. Daar’s glo iets belangriks wat hy wil bespreek.

“So, kom asseblief net voordat die man ’n aar bars.”

Ek sien ’n frons op Mercia se voorkop, maar ek draai om en loop uit voordat sy weer in my keel afspring. Saggies trek ek die deur agter my toe, anders is dít ook ’n issue.

Ek sal liewer in die gang vir haar staan en wag. Dis veiliger.

Kolonel Mbeki kyk op sy horlosie toe ons sy kantoor binnestap. “Vat ook jul eie tyd, nè? Sit.”

Ek en Mercia gehoorsaam.

“Ek gaan nie doekies omdraai of julle tyd onnodig mors nie.

“Ek weet ons almal wil aan die werk spring. Wat ek wil sê, is dít: Ek het ’n anonieme oproep ontvang van iemand wat beweer dat Ricky Grootboom by kinderhandel betrokke is.

“Hy is glo die meesterbrein agter ’n sindikaat wat jong meisies as seksslawe aan buitelanders verkoop. Maak glo groot geld.

“Ek wil op niemand se tone trap nie, maar dalk is dít die rede waarom ’n sekere Roslin Rhoode skielik in hom belangstel – hy rol in die kontant. ’n Speurder se salaris kan seker nie daarmee meeding nie.”

“Ten minste verdien ek my geld op ’n eerlike manier, Kolonel.”

“Die oproep wat ek ontvang het, kon natuurlik van iemand gekom het wat lus is vir gekskeer, maar ek stel voor julle volg dit op. Let wel: Ek sê nie julle moet die ander sake afskeep waarmee julle besig is nie, maar maak tyd om Grootboom se bewegings dop te hou.

“Dalk, net dalk, kan ons ’n groot slag slaan.

“Sien julle kans daarvoor, kaptein Bruinders en sersant Groentak?”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters