29 dae gelede
Sprake van ’n Kersverrassing vang my onkant
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Dié week plaas ons die verhaal “Trane Oor die Feestyd” deur CHRISTO MEYER. Geniet die laaste hoofstuk.

MY SELFOON lui. Toe ek Elaine se naam op die skermpie sien, huiwer ek nie om te antwoord nie. Elaine is een van die min persone wat al my ins and outs ken.

Ons het ’n understanding. Sy is bewus van die bagasie wat ek met my saamdra.

Van al die seer op my lewenspad. Van die dood wat my sedert my 13de verjaarsdag nie met rus kan laat nie.

Sy weet alles van my ouers, van antie Rina en oom Marthinus, van die pyn in my binneste.

Ek het haar 10 jaar gelede in my vertroue geneem en ons het goeie ... nee, beste vriende geword.

“Happy birthday, Michael. Hoop jy geniet jou dag. Kom maak vanaand ’n draai by my. Ek het ’n surprise vir jou.”

Ek frons. Van wanneer af is Elaine een vir surprises? Om die vrede te bewaar gaan ek liewer nie vra nie.

“Ek sal daar wees,” antwoord ek. “Is 7 o’clock oukei?”

“Piekfyn. Sien jou dan.”

Elaine Bester. Eienaardige mens. Twee jaar ouer as ek. Ons kom goed oor die weg.

Elaine is die tipe meisie wat nie kan besluit of ons net vriende moet wees of boyfriend en girlfriend nie.

Ons het al hóéveel keer gesoen. Elke keer as ek dinge verder wil vat, keer sy my met die woorde: “Ek is nog nie gereed nie.”

Ek sal graag wil hê ons moet ’n couple wees, meer as net vriende. Ek glo ons pas bymekaar, maar net die tyd sal leer.

Sover dit liefde betref, is Elaine ’n regte ongeluksvoël. Seker omdat sy so vol fiemies is.

Sy gaan nooit langer as ’n maand met ’n ou uit voor sy hom die trekpas gee nie.

Die meeste van die ouens, het sy agtergekom, wil net in haar onderklere klim om vinnig ’n los gelukkie te score, maar ongelukkig vir hulle is sy nie daardie tipe nie.

Sy laat nie met haar mors nie.

Sy is nie die goedkoop soort wat haar liggaam vir elke Jan Rap en sy maat te gee nie.

Ek, aan die ander kant, beskou myself as ’n alleenloper.

Ek het een keer vantevore ’n yslike fout begaan wat my baie duur te staan gekom het. Ek soek nie ’n herhaling daarvan nie.

Ek was onder die indruk iemand uit my verlede was verlief op my, maar toe ek haar probeer soen, kry ek ’n klap wat ek nooit sal vergeet nie.

Ek glo ek sal weet wanneer die regte persoon die dag haar opwagting maak.

Intussen leef ek my lewe op my manier, van dag tot dag.

Onder normale omstandighede sou ek en Elaine vanaand in ’n karaoke-kroeg uitgehang en shooters geniet het, want albei werk eers weer volgende jaar, maar met Covid-19 is niks mos normaal nie.

Ons is nou nie Idols- of Maak My Famous-materiaal nie, maar ons kry darem ’n handeklap ná elke duet.

Ek klim in my motor en ry see toe. Die president behoort seker nie daarmee ’n probleem te hê nie.

Ek dra mos my masker en my hand sanitiser is altyd byderhand.

Ek gaan in elk geval nie swem nie. Net ’n bietjie nadink oor sekere goed.

Ek gaan sit op ’n rots. ’n Ontstellende gedagte kom by my op.

Sal ek ook, as dinge te veel raak, soos ’n digter lank terug by die see inloop en my eie lewe neem?

Sal ek selfmoord as ’n laaste uitweg sien?

Sal ek dit oor my hart kan kry, wetend dat ek my geliefdes in pyn en met klomp vrae agterlaat?

Ek twyfel. Ek glo nie ek sal die moed hê om so iets te doen nie.

Ek, Michael de Craba, is te veel van ’n lafaard. Net sterk, dapper mense neem hul eie lewe.

Ek bly sit op die rots tot sononder voordat ek aanstaltes maak. My kop voel heelwat skoner as toe ek hier aangekom het.

Die seelug doen iets goeds aan ’n mens se binneste.

Nou moet ek by Elaine uitkom om te gaan kyk van watse verrassing sy praat.

Vir al wat ek weet, is dit seker ’n nuwe bottel rooiwyn wat sy iewers ontdek het.

Elaine het ook ’n klomp klappe van die lewe weg.

Soos ’n stiefpa wat nie sy hande kon tuis hou nie.

Hy’t gedreig om hulle op straat uit te sit as Elaine dit sou waag om haar mond oop te maak.

Net ter wille van die dak oor hul kop moes Elaine stilbly.

Tot op ’n dag toe hy haar beveel het om drinkgoed te maak en sy hom met ’n ketel kookwater verbrand het.

Sy kon dit nie meer verduur nie. Sy het aangevoer dit was selfverdediging en skotvry daarvan afgekom.

In ’n helderkleurige somerrokkie maak Elaine die deur vir my oop. Sy gee my ’n drukkie.

“Ek hoop jy is honger,” sê sy. “Ek het ’n nuwe resep probeer.”

“Wat is jou wens vir Kersfees?” vra ek terwyl ons eet.

“Laat ek sien,” antwoord Elaine. “Miskien moet jy ’n boek en pen gaan haal sodat ek dit kan neerskryf.” Ek lag. “Is jou wens dan so groot?”

“Ek wou ’n draai by my ouerhuis gaan maak om te gaan kyk hoe dit gaan, maar toe besef ek dat ek niks daar verloor het nie.

“Behalwe vir gesondheid en voorspoed en dat Covid-19 sy ry moet kry, het ek eintlik net één belangrike wens ... maar as jy nie omgee nie, kan ons later in die bed daaroor gesels.”

Ek verstik byna. Is dít die verrassing waarvan sy gepraat het?

Dat sy ’n besluit geneem het? Of trek sy net my been?

“Moenie so verbaas lyk nie, Michael­. Jy weet tog my hart behoort lankal aan jou.

“Ek wou dit net nie so obvious maak nie. ’n Girl moet mos ’n bietjie hard-to-get speel.

Maar ek is gereed om ons vriendskap na die volgende level te neem. Vanaand sal die eerste van vele aande wees wat jy kan oorslaap.”

Ek is sprakeloos. Ek het werklik gedink Elaine gaan nooit ingee nie, dat ons tot in lengte van dae net vriende sal bly.

Hierdie is sowaar die beste birthday present waarvan ek kon droom.

“Ek het nog ’n voorstel,” sê sy toe ons later in die donker in mekaar se arms lê.”

“Ek luister ...?”

“Ons het nou al so baie tyd gemors. Ek dink ons moet vroeg in die nuwe jaar sommer voor ’n magistraat gaan trou.

“Dan maak ons dit mos amptelik. Of wat sê jy?”

Met ’n hartstogtelike soen bewys ek ek stem saam met haar voorstel.

Hierdie is sowaar ’n aangename verrassing.

Ons begin gelyk huil, maar nie omdat een van ons hartseer is nie.

Dié keer is dit trane van blydskap. Vir die eerste keer in jare is dit weer die moeite werd om uit te sien na Kersfees.

  • Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters