12 dae gelede
Speurder Oros krap kop oor die ontvoering
Oom Sonnie  ~ 

Hallo, Sonlanders! Wat ’n straight-forward stukkie speurwerk behoort te wees, is toe nie die geval vir ’n brandarm speurder nie. Die beweerde joller wat hy moet agtervolg, word voor sy oë ontvoer en hy kan nie anders as om te wonder of daar meer agter hierdie case skuil as ’n doodgewone gejol nie. Geniet hoofstuk 2 van ELDRIDGE JASON se verhaal “O. Phillip”.

MANDY Wagenaar wip van die skrik toe sy vroeg op kantoor kom en hom daar aantref.

“O, flip?... O. Phillip?... Get it?” vra sy nadat sy oor die ergste skrik is.

“Oros? Wat soek jy so vroeg op kantoor? Gewoonlik slaap jy mos laat tot die haan eers ’n hele paar mense verraai het.”

Oros Phillip lig sy kop met moeite en gee ’n skewe glimlaggie. Die donker kringe onder sy oë getuig van ’n rustelose nag.

Veel slaap was daar immers nie vir hom nie. Hy’t heelnag wakker gelê en gewonder oor Reggie White se ontvoering.

O, daarvan is hy seker: Reggie is ontvoer. Hy weet net nie hoekom nie, want van wanneer af lei ’n jollery tot ontvoering?

Mandy het intussen verdwyn. Hy hoor die ketel se geraas en die geklinkel van koppies in die  gang af. ’n Paar minute later plak sy ’n koppie sterk, swart koffie voor hom neer.
Hy loer na die gravering op die koppie: The World’s Greatest.

Oros kan nie anders as om snaaks te kry nie. Die koppie was ’n Vadersdaggeskenk van Charné en die kinders; jare gelede voordat hy diep broke was en hulle nog gedink het hy is die greatste man en pa.

Hy vat ’n sluk van sy koffie, maar sit dit haastig neer en vloek.

“Jirre, Mandy, wil jy dan my tong verbrand? Net omdat ek geskei is, beteken dit nie ek wil eendag nie meer met ’n lekker goose vry nie.”

Mandy klik kamma vererg haar tong en grap: “Wat weet oumense soos jy van vry af?

“En besides, as jy nie eens jou werkers kan betaal nie, hoe gaan jy dit kan afford om ’n vrou te wine en dine?”

Sy sit skielik haar hand voor haar mond. “O, flip, askies. Ek het nie gemean om te?... om te?... Ek mean maar?...”

“Is oukei, Mandy,” probeer Oros die situasie red.

“Ek weet jy bedoel dit nie sleg nie, maar ek is diep in die skuld by jou. Ek het so gehoop dié job gaan ’n geldjie vir ons inbring?...”

Oros laat sy woorde doelbewus in die lug hang. Mandy gaap hom vraend aan.

“Toe nou, uit met dit,” sê sy vies. “Hierdie is nie Days dat ek tot môre moet wag oor watse goed Stefano DiMera weer gaan aanvang nie. Is Reggie White toe nie ’n joller nie?”

Oros sug swaar. Hy trek weer die koppie koffie nader, probeer dit vir ’n vale koud blaas en vat dan versigtig ’n sluk.

Tydsaam sit hy die koppie neer en kom stadig van agter sy mankolieke lessenaartjie orent.

Mandy trommel ongeduldig met haar vingers teen die lessenaar se kant. Sy haat ’n gewag. Oros weet dit en sy kry die feeling hy geniet dit om haar nuuskierige siel so uit te trek.

Hy vertel haar kortliks van die geval gisteraand toe Reggie in ’n paneelwa ingeboender is. Kortliks, want daar is immers nie veel om te vertel nie.

“Jy lieg?... July,” sê Mandy toe hy klaar vertel is. Sy sit haar hand geskok op haar bors.

Oros kan nie anders as om met sy oë te volg tot waar dié hand te ruste kom nie. Met moeite trek hy sy oë weg.

“Waar kom ons aan dié case?” vra hy aan Mandy. “Ek neem aan die kliënt is sy vrou?”

Mandy knik en draai dan vinnig om. Sy stap met lang treë die gang af tot by die ontvangsarea waar sy bedags sit.

Oomblikke later is sy terug met ’n dun lêer wat sy na Oros uithou.

Oros maak dit haastig oop en hy is glad nie verbaas om te sien dat daar net een bladsy in is nie.

“Sy was self hier. Clarissa White, as ek dit nie mis het nie. Clarissa met die sad, sad storie van Reggie die joller. Sy het die R500-konsultasiefooi sonder ’n gemoan betaal.
“Ek het gesien daai wallet van haar het heelwat note in.”

Oros sit die lêer op die lessenaar neer. “Ek sien daar is ’n kontaknommer van haar. Ek wil haar bel, maar het nie airtime nie. Ek moet nog eers daai emergency airtime betaal en?...”

Mandy gluur hom aan, skud haar kop en stap weer na haar workstation. Sy keer terug met haar selfoon in haar hand.

“Wat sal jy ook sonder my doen?” vra sy en oorhandig die selfoon met ’n groot sug aan hom.

Oros gee ’n verleë laggie. Dis so waar. Sonder Mandy?... En dat hy nog haar airtime moet gebruik sonder dat hy dit eens kan afford om haar ’n salaris te betaal?... Dis ’n pure skande. Hy druk op die selfoonskerm en merk op dat ’n wagwoord ingesleutel moet word. Hy draai die skerm na Mandy.

Sy bloos en sê: “oros001. Alles kleinletters.”

Oros vermy Mandy se blosende blik. Hy gaan maar liewer nie vra hoekom sý naam haar pass­word is nie. Haastig tik hy Clarissa White se nommer in en druk dan die groen knoppie. Hy hoor: “The number you’ve dialled does not exist?...”

“Liewe George!” skree Oros. Hy hou die selfoon dadelik na Mandy uit. Bang dat hy dit uit frustrasie teen die muur kan gooi. En waar gaan hy dan weer free airtime score?
“Die nommer bestaan nie. Clarissa White is ’n ghost.

“As ek moet raai, is sy in alle waarskynlikheid nie eens Reggie White se vrou nie.”

“So, sy wil hom opspoor? Maar hoekom?” vra Mandy uit die veld geslaan. “En hoe het sy geweet hoe om hom op te spoor as jy die een was wat op sy spoor was?”
’n Lig gaan skielik by Oros op. Hy vlieg verby Mandy wat roep: “Hei, waarheen gaan jy?”

Hy nael na buite. Hy peil op sy Tazz af en buk haastig soos watse jong man onder sy krok.

Ná ’n groot gekreun, gesteun en ’n paar lelike kragwoorde, kom hy swaar orent en hou triomfantelik ’n pikswart device omhoog wat die vorm van ’n polisie-badge het.

Mandy, wat intussen op haar high heels ook na buite gewals het, gaap Oros oopmond aan.

“Is dit?... Is dit wat ek dink dit is?” vra sy.

Oros knik. “Dis ’n klein GPS-trackertjie wat sommer met ’n magneet onder aan ’n kar kan stick. Werk soos ’n bom.

“Ek kan net nie uitfigure presies waar en wanneer dit onder my kar geplaas nie.”

Oros vryf oor sy baardstoppels.

“Dít, my liewe Mandy, is ’n interessante wending.

“Dit beteken mister en missus White is glad nie wie hulle sê hulle is nie. Ek wens net daar was ’n manier hoe ons kon weet hoe miesies White lyk.”

“O, maar daar is,” sê Mandy en vryf ingenome haar hande teen mekaar. “Daar is?...”

 Lees môre verder

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters