11 dae gelede
Simson maak 'n besluit wat hom kniehalter
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ai, hoe lyk dit dan daar is trouble in paradise nog voor Simson se verhouding van die grond af kan kom. Die jonge Simson mettie lang hare eye die fraaie Delicia. Die groot probleem is egter dat sy ma, antie Mavis, en haar pa, dominee Lackay, glad nie oor die weg kom nie. En dan is daar nog die hartebreker – die eerstespan-rugbykaptein, Carlos Koekemoer – wat ’n oog op Delicia het. Simson en Delicia stry heavy toe hy haar tydens ’n pouse met Carlos sien gesels en dit lyk dat die verhouding iets van die verlede is. Geniet nou die voorlaaste hoofstuk van ELDRIDGE JASON se Simson se Hare.

DIS ’n dikbek Simson wat die middag ná skool by die huis aankom.

Hy smyt sy sak in sy kamer neer en gaan lê op sy bed.

Antie Mavis gee die affêre een kyk en besef dadelik dis sake van die hart wat haar klong so terneergedruk maak.

Vir wat moet Simson nou ’n ogie op Delicia van alle meisies het? wonder sy effe vies.

Daar is Sarah Kannemeyer se dogter, Riana, wat net so oulik is. ’n Bietjie aan die skeel kant ... maar steeds oulik.

Sy sug swaar, staan van die kombuistafel af op en begin maar die skorrelgoed was.

Vanuit sy slaapkamer hoor Simson die potte en panne klap en wens hy kan Carlos net so uit sy en Delicia se lewens skrop.

Teen Carlos se charm is sy magteloos. Dit help ook nie dat Carlos se pa ’n hele spul besighede in die dorp besit nie.

So, natuurlik sal ál die meisies vir hom val. Delicia ingesluit.

Girls likes benefit. Hy wat Simson is, se lang hare is vir niemand ’n benefit nie.

Hy sug swaar en beur stadig orent. Hy sal iets moet doen.

Delicia is sommer simpel. Hy sal haar net moet oortuig hý is die regte ou vir haar.

Vir ’n oomblik sit hy stil en staar na ’n gaterige sokkie van hom wat uit ’n laai try ontsnap. Toe kom ’n blink plan by hom op. Nog beter as die een waarvan hy Delicia vroeër wou vertel.

Simson vlieg van sy bed af op en sy trek skooluniform uit. Sommer so newwermaaind gooi hy dit wasgoedmandjie se kant toe.

Haastig trek hy sy Redbat T-shirt aan – die een wat hy sy ma so voor moes gesoebat het – tesame met ’n sweetpakbroek en die paar tekkies wat hy gewoonlik net oor naweke dra.

Vinnig spuit hy sy blikkie body spray amper leeg en trek sy kamerdeur agter hom toe.

In die kombuis mompel hy iets wat antie Mavis om die dood toe nie kan uitmaak nie.

Maar voordat sy iets kan sê, is Simson die huis uit.

Met ’n drafstappie soos ’n tikkop wat vinnig ’n skarrel se ware in die pan wil gaan sit, kry hy koers na Delicia-hulle se huis.

Tot Simson se verligting staan Delicia-hulle se hek oop toe hy daar aankom. Daar is ook geen sien van die honde nie.

Ook nie van dominee Lackay se spoggerige Audi nie.

Hy was nog nooit by Delicia-hulle se huis nie, maar weet aan watter kant van die double-storey haar slaapkamer is.

Versigtig loop hy om die huis, nog baie bewus daarvan dat die pit bulls wat hy al gehoor het – dominee Lackay noem hulle sy dissipels – in die omtes kan wees. Maar dit lyk of die gode vandag aan sy kant is, want daar blyk geen sien van die honde te wees nie.

Reg onder Delicia se kamervenster hoor hy musiek deur die venster speel.

Thought I’d end up with Sean

But he wasn’t a match

Wrote some songs about Ricky

Now I listen and laugh

Even almost got married

And for Pete, I’m so thankful ...”

Simson frons. Hy was nog nooit ’n fan van Ariana Grande nie. Klink maar vir hom asof daai girls veels te veel outjies het.

“Delicia ...? Delicia ...” roep hy saggies. Te hard wil hy ook nie praat nie, want Delicia-hulle se neighbour antie Bettie is ’n skinder-queen van formaat.

Daarvan getuig die talle huwelike wat weens antie Bettie se stories in die slag gebly het.

“Delicia ...! Delicia!” roep Simson harder toe daar geen reaksie is nie.

Haar musiek speel te hard, besef hy. Hy loer om hom rond en sien ’n kissie wat eenkant staan.

Nog veels te kort, maar as hy sy hare teen die venster kan swing en homself kan ophys ...

Simson weet hy is sterk. Niemand weet van sy oefensessies in sy kamer waar hy sommer sy kooi met die een hand oplig nie.

Dit kom nie vir een oomblik by Simson op dat hierdie nie net ’n baie waaghalsige plan is nie, maar ook ’n verskriklike dom een.

Maar so vasberade is hy om met Delicia te gesels dat dit nie eens ’n halwe klokkie by hom lui dat hy sy lewe in gevaar stel nie.

Nadat Simson homself met groot moeite op die kissie gebalanseer het, maak hy sy hare los.

Hy vergaap hom aan die lengte daarvan toe dit neerval, so asof hy dit vir die eerste keer sien.

Sy plan is nie rocket science nie, maak hy homself wys. Sodra hy sy hare deur Delicia se kamervenster gegooi het, behoort dit iewers vas te haak en dan hys hy homself daaraan op.

Nêrens gaan dit deur sy mind dat hy net aan die voordeur kan gaan klop, of selfs die deurklokkie kan lui nie.

Simson loer op, eye die hoogte met die oog en blaas dan sy asem hard uit.

Dan gooi hy sy hare so hoog soos wat hy kan die lug in.

Hy slaak ’n sug van verligting toe dit iewers hoog bokant hom vatplek kry.

Maar toe hy aan sy hare pluk, plof die hele klomp hare hard op hom neer.

Simson vloek saggies. Maklik gaan dit nie wees nie, besef hy nou.

Aanhouer wen, het antie Mavis haar seun jare gelede al geleer.

Weer gooi hy die hare en hierdie keer, selfs nadat hy daaraan gepluk het, tuimel dit darem nie na benede nie.

Hy blaas sy asem weer ’n laaste maal uit en begin homself dan na bo hys. Halfpad na Delicia se kamervenster begin Simson dink sy plan werk nogal nie te sleg uit nie.

Maar dan gebeur daar iets wat tot vandag toe nog by hom spook.

Uit die bloute kom die honde om die draai gehol en pyl reguit op hom af.

Voordat Simson tot verhaal kan kom, hardloop die honde die kissie uit die pad dat dit doer eenkant waai.

So opgewonde soos ’n tikkop wat deur die dak van ’n tik-fabriek geval het, begin hulle aan Simson se broekspype te hap.

Een van die honde kry ’n grip en begin wild aan die broekspyp swaai soos hy vasbyt.

Simson se paniekerige voertsekkery het geen impak op die honde nie. Hulle is immers bekeerde honde­.

Dan voel hy hoe sy eie hare om sy keel span en begin om hom stadig maar seker te wurg.

Om hom begin dit gou donker word en hy begin iets sien wat helder oordag soos ’n skynende lig lyk ...

  • Môre: Slot

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters