13 dae gelede
Simson is tot oor sy ore verlief op die mooie Delicia
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Antie Mavis kry ’n liefdesteleurstelling waar sy nie net swanger raak nie, maar die daddy ook die pad vat. Met die dag van haar kraam is die hospitaalpersoneel egter verstom­ toe haar klonkie gebore word met ’n bos hare wat almal aan die gons het. Antie Mavis noem haar seuntjie Simson. Wat die nurses egter nog meer verbaas, is dat die baba al op ’n dag oud sommer probeer kruip. Geniet nou hoofstuk 2 van ELDRIDGE JASON se Simson se Hare.

ANTIE Mavis is geensins geskok toe die verpleegsters haar van Simson en sy kruipery vertel nie.

Sy knip nie eens ’n oog toe daar vertel word dat nurse Vuyelwa nie meer haar varkies op hok het nadat sy gesien het hoe baba Simson probeer kruip nie.

Antie Mavis is ashes en wil net by die verpleegpersoneel weet wanneer sy ontslaan word.

Die hospitaal laat hom nie twee keer nooi nie en organise haar ontslag binne ’n japtrap.

By die huis gekom, lê antie Mavis Simson versigtig in sy kot neer en sit toe die ketel aan.

Terwyl sy nog in die kombuis staan en wag vir die ketel om te kook, is daar ’n klop aan die deur.

Dominee Lackay staan ongemaklik op die drumpel en rondtrippel toe sy die deur oopmaak.

“Suster Mavis, ek groet u in die wonderlike naam van ons Koning.

“Daar is net een soete naam. Hy is die roos van Saron, die lelie–”

“Die lelie wat ook maar lekker naweke in die tavern sit,” val antie Mavis hom in die rede.

Arme dominee Lackay weet nie hoe hy dit het nie. Daar was nie ’n blik om sy gebloos en gestotter in te bêre nie.

“Hoe ... hoe mean die suster dan nou?” probeer die dominee weer.

Antie Mavis druk haar wysvinger in die herder se gesig. ’n Wit, dunnerige skuim van woede verskyn langs haar mond.

“Dominee, ek kan alles in die lewe vat, maar nie valse mense nie.

“Ek is nie suur oor die sensuur waaronder julle my geplaas het nie, maar ek sien regtig nie hoekom jy vir my moet kom kuier nie.

“Mis julle my tiendes dan so baie in hierdie tyd van Covid-19?”

Dominee Lackay se gesigsuitdrukking vertel vir antie Mavis dat sy nou op ’n sensitiewe spot gedruk het.

Dominee Lackay druk die Bybel nog stywer onder sy blad vas.

“Geen enkele lidmaat van die kerk het my tydens my swangerskap kom besoek nie,” vaar antie Mavis verder uit.

“Nie eens suster Sarie Verwey, ons senior kerkvrou, nie.

“As Sarie my by die winkels gesien het, het sy ’n wye draai om my geloop, so asof ek melaats is.

“Maar ek het dit nooit teen Sarie gehou dat sy doerie jare ’n taxi queen was en op ’n tyd van ’n gevaarlike gangster verwag het nie.

“ ’n Gangster wie se kind sy–”

“Hokaai, hokaai,” probeer dominee Lackay walgooi.

“Die Bybel sê ons moet vergewe en vergee–”

“God forgives, I don’t,” kap antie Mavis terug.

“Gaan sê maar vir die kerkraad hulle kan hul sensuur druk.

“Broer Gawie dowwel elke naweek om. Suster Miena wil nie admit dat haar meisiekind tik en laas jaar die basaargeld gesteel het nie.

“Broer Willem en suster Katriena het ’n ding aan, maar die kerkraad plaas mý onder sensuur?

“I’m very sorry, ek laat my nie meer vir ’n kind vat nie.

“Ek maak nou ’n kind groot. Koebaai.”

En net so smyt antie Mavis die deur in die godsman se gesig toe.

Dominee Lackay draai verstom om en stap stadig na sy kar.

Daar is ’n gees van verbittering in suster Mavis en hy weet nie hoe hulle dit uit haar gebid gaan kry nie. Deur die venster kyk antie Mavis hoe die dominee wegry.

Dit kook nog binne haar.

Sy was hoeka lankal lus om vir dominee Lackay te vertel presies waar Dawid die wortel in die pan gaan sit het.

Toe sy omdraai, sien sy met skok hoe baba Simson op die vloer sit.

Hoe het hy uit sy kot gekom? wonder sy paniekerig.

“Ai, Simson,” sê antie Mavis kliphard. “Dit lyk nie asof jy in ’n kerk gaan grootword nie, my kind.”

Tot antie Mavis se stomme verbasing lag Simson. Soos een wat verstaan. Soos een wat absoluut nie pyne daaroor het nie ...

SIMSON was soos wat hy grootgeword het maar ’n taamlike alleen-kind.

Die buurt se kinders wou nie met hom speel nie.

Nie dat antie Mavis veel gemind het nie, want die kinders was ook maar taamlik nasty.

Arme Simson was altyd onder trane soos wat die kinders hom oor sy lang hare gespot het.

En antie Mavis was nie lus om met ander grootmense te stry nie.

Dis mos nie háár skuld dat haar kind nie korrels vir hare het nie, het sy altyd gedink.

Dat Simson bright was, was vir almal duidelik om te sien.

Sy gebrek aan vriende het ’n liefde vir lees by hom gekweek wat geskrik het vir niks.

So lief was hy vir lees dat hy die Bybel selfs ’n paar keer kafgedraf het.

Skool het hom ook vroeg al verveel, want ná die eerste skooldag het hy ál sy boeke klaar gelees en moes toe sit en luister hoe die ander kliphard probeer lees en klank.

Laerskool kon nie vinnig genoeg vir Simson tot ’n einde kom nie.

Daar was ook ’n eindelose stryery oor sy hare, wat die skoolhoof gesny wou hê.

Tot vandag tot weet hy nie wat sy ma vir die skoolhoof gesê het nie, maar nadat sy eendag agter geslote deure met die hoof vergader het, het niemand hom ooit weer oor sy hare gepla nie.

Daar was dae dat hy egter self gewens het die goed kon net van sy kop afgeknip word.

Rugby kon hy nie speel nie, want iemand het hom altyd aan die hare beetgekry. En dan het die ander seuns hom ook gereeld gespot as hy gesit en kyk het hoe die meisies netbal speel.

Maar daar was ’n baie goeie rede hoekom hy so langs die netbalbaan geboer het.

Nee, dit is nie omdat hy met balle wou speel nie, sy oë was gefokus op iets heeltemal anders.

Die mooie Delicia Lackay. Dominee Lackay se mooie dogter.

So skaam soos wat Simson was, kon hy nie sy oë van haar afhou nie. Sy het die love songs in hom aangewakker.

Saans het hy sy oë toegemaak en gewens hy droom heelnag van haar.

Eendag het hy sy ma van sy crush vertel, maar sy het amper sy kop van sy lyf afgebyt.

Simson kon nie verstaan hoekom hy nie die mooie Delicia kon date nie. Van die onderonsie jare gelede tussen sy ma en die dominee wis hy mos nie.

Hy is in love en wat is dan nou mooier as tienerliefde?

Toe dit aanbreek dat hy finally hoërskool toe moet gaan in ’n buurdorp, begin dinge finally vir Simson in plek val. Die girl wat met hom ’n skoolbank deel, is niemand anders as Delicia nie. ..

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters