14 dae gelede
Simson gee die nurses die skok van hul lewe
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons skop vandag af met ’n splinternuwe verhaal uit die pen van ELDRIDGE JASON. Hy noem dit Simson se Hare. Geniet die eerste hoofstuk!

’N HOND k*k hare.

Só het die oumense altyd geglo.

Daar was min simpatie vir mense wat te veel van ’n aanhang wou maak oor die draad op hul koppe.

Maar niemand het antie Mavis van Waterblommetjiestraat dit vertel nie.

Styl van draad was antie Mavis self nie. Dodgy Johnny, die ou met wie sy ’n ding aangehad het, het bietjie van gladde hare gehad.

Maar Johnny was gladder met die mond en selfs nog gladder van voet.

Toe antie Mavis swanger was, het Johnny hoog en laag gesweer hy het ’n job by die Simba-fabriek in Darling gekry.

Hy moes Darling toe trek, het Johnny ge-explain. Hy sou gereeld kom kuier en meer as gereeld geld vir kimbies en melk stuur.

Kaantie het Dodgy Johnny ’n ander darling in Darling gehad.

Daar was ook g’n job by die chips-fabriek nie, het antie Mavis uitgevind toe sy al ver swanger was.

Dodgy Johnny het sommer ál die ander ouens se kanse wim gemaak by antie Mavis, want ná haar liefdesteleurstelling het sy nooit weer in ’n man belanggestel nie.

Dwarsdeur haar swangerskap het sy kop omhoog geloop met dun, stywe lippe.

Aan die geskinder van Waterblommetjiestraat en die aangrensende Appelkosiestraat se mense het sy haar nie gesteur nie.

Toe die kerk haar onder sensuur wou plaas, het antie Mavis besluit om van daai tyd af stoksielalleen biduur by haar huis te hou.

Dit was vir haar ’n pyn om tydens haar swangerskap vir haar check-ups te gaan. Mense het onbeskaamd na haar swanger magie gestaar. Sommige het selfs kliphard gewonder of dit nie twins was wat sy verwag nie. Twee Simba-leeus, het hulle gegrap en haar in haar gesig uitgelag.

Hierdie inwoners se gespot het slegs bedaar nadat die skande een vir een aan hul deure ook kom klop het.

Antie Mavis het in stilte gelag oor hierdie spotters wat een vir een oor die balke in hul eie oë gestruikel het. Toe antie Mavis se water een aand breek en sy in kraam gaan, het donker, dreigende wolke in die lug saamgedrom.

Swaar, steunend en met moeite het sy oorgeloop na haar buurman die wewenaar Ronnie Vetcob.

Niemand het ooit grappe gemaak oor Ronnie se van nie. Hy was immers ’n reus van ’n man – seker so 1,9 m lank, met boomstompe vir arms. En bene.

Ronnie was ’n inkommer. Iemand wat maar selde met die locals gemeng het. ’n Alleenloper. ’n Kluisenaar, sonder ’n kluis in sy huis, het menige tikkop-inbreker altyd te laat besef wanneer Ronnie hom op heter daad betrap en halfdood gebliksem het. Maar Ronnie het ’n sagte sy gehad waarvan nie baie mense geweet het nie.

Antie Mavis was een van min mense wat geweet het Ronnie likes Kurt Darren se “Kaptein” in die shower sing. Sy het ook geweet dat hy amper albei sy bene gebreek het van die Jerusalema met sy twee linkervoete probeer dans.

Ronnie was voor die TV besig om hom te vererg vir boeta AB Samsodien en Farah Adjerahn se sondige dinge in Suidooster toe antie Mavis aan sy deur klop.

Toe hy haar sien, het hy onmiddellik besef wat aan’t gebeur was en net daar met ’n vaart omgedraai om sy ou krok van ’n stasiewa se sleutels te gaan kry.

Tydens die rit na die hospitaal het Ronnie probeer om antie Mavis te oorreed om asemhalingstegnieke toe te pas wat hy op een of ander TV-show gesien het.

Antie Mavis was egter nie gemaklik hiermee nie, want vir haar het dit darem net te veel gevoel asof sy een of ander hygroman in ’n reality show probeer omskep.

By die hospitaalhek wou die security hom nog slim staan hou, maar toe Ronnie uit die stasiewa klim en hom so klein soos sy payslip laat lyk, het hy met bewende hande die hek oopgemaak.

Die nurses aan diens was ook nie lus vir verskonings maak toe Ronnie by ingevalle ingestorm kom met antie Mavis in sy arms nie.

Antie Mavis is onmiddellik na die maternity ward geneem, waar ’n pynlike en lang kraamproses hom afgespeel het. Die pyn was by tye só erg dat antie Mavis hier en daar ma-se-goeters gevloek het.

Die sweet het haar afgestroom en toe dit voel of sy flou wil word, het sy ’n laaste druk gegee en moeg terug op die bed geval.

Toe hoor sy die geskreeu van ’n babatjie­. Dit het vir haar gevoel asof die kind oor ’n loudspeaker skreeu – amper soos broer Andy-hulle wat altyd so in Waterblommetjiestraat geraas maak met hul opelugdienste.

Antie Mavis het bewus geword van die verpleegsters rondom haar wat onder mekaar gefluister het.

Bekommerd het sy gewonder of daar dalk iets verkeerd is met haar baba.

Maar toe ’n nurse die kind in haar arms sit, het sy onmiddellik besef waaroor die gefluister gegaan het.

Die eerste ding omtrent die kind wat antie Mavis opgemerk het, was sy hare. Hare, hare, hare ...

Sy kon skaars die ou babatjie se gesiggie tussen al die klompie hare sien.

Iewers het sy ’n nurse hoor sê dat dit ongewoon is vir ’n baba om met soveel hare op sy koppie gebore te word, maar antie Mavis het haar nie hieraan gesteur nie.

Sy het in die baba se oë gekyk en dit het gelyk asof hy smile met haar. “Ek noem jou Simson,” het antie Mavis geprewel. “Jy gaan ’n toring van sterkte wees. Met ál jou hare en al.”

Die verpleegpersoneel het agter antie Mavis se rug hul oë vir mekaar gerol en gesiggies getrek.

Later, tydens ’n tea break, het hulle onder mekaar gegis oor wat antie Mavis dan nou besiel om haar baba se naam Simson te gee.

“Daai naam is so outyds. Imagine sy Facebook profile: Simson ... Simson Poggenpoel ... die een met die profile pic waar jy net hare sien.”

Die nursies het lekker gelag oor hul nasty grappie, maar almal het opgevlieg toe daar ’n gil deur die maternity ward weergalm.

Terwyl ’n paar daarheen gehaas het, het suster Vuyelwa verby hulle gehardloop gekom. Met oë so groot soos ’n hele piering-collection het suster Vuyelwa gehardloop en in tale gebid wat niemand verstaan het nie. Reguit huis toe. Sonder haar groot lunchbox. Toe die verpleegsters in die kraamafdeling kom waar die pasgebore babas in die broei­kassies gelê het, het hulle stom gaan staan van verbasing.

Op die vloer het baba Simson Poggenpoel gesit. Hoe hy daar gekom het, het niemand geweet nie.

Maar dat hy probeer kruip het, was vir ál die nurses duidelik.

Simson se hare het soos ’n trougewaad agter hom aangesleep.

“Watse kind is dit hierdie?” wou nurse Kelly geskok by haar kollegas weet. Niemand het egter ’n antwoord vir haar gehad nie.

Wie kon dan nou ook explain hoe ’n dagoud kind al kon kruip?

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters