12 dae gelede
Shaun sê sy sê en dan maak Layla ’n besluit
 ~ 

HALLO, Sonlanders!

Vandag gaan ons voort met die verhaal “Die Geheim­” uit die pen van Nicolette Fouldien. Geniet­ nou die slothoofstuk.

SHAUN staan gebukkend oor die wasbak, sy kop op sy arms gestut. Trane van magteloosheid loop oor my wange en ek wens ek kon iets aan die situasie doen.

Sy seer is tasbaar. Ek draai in my spore om. Vir nou sal dit die beste wees om hom alleen te los, ondanks my allesoorheersende behoefte om na hom uit te reik. Ek trek die kamerdeur agter my toe en klim huilend in die bed.

Hoe sal ek ooit my ontrouheid aan Shaun kan verduidelik? Sal hy my kan vergewe?

Ek verwag dit nie van hom nie. Nie ná dit wat vandag hier gebeur het nie.

Dit voel soos ure voordat hy die kamer binnekom.

Ek spring verward op. Ek voel ek móét met hom praat, my kant van die saak stel en ’n einde bring aan al die leuens.

“Shaun …? Asseblief, ons moet praat.”

“Layla … dink jy nie dis nou bietjie te laat daarvoor nie?”

Sy stem is yskoud.

Hy is lank weg, toe lê ek steeds na sy plek in die deur en staar.

Ek is besig om toebroodjies in te pak toe Shaun se yskoue stem my tot stilstand ruk.

“Layla, ek dink op dié stadium sal dit vir ons albei die beste wees as ons die verhouding verbreek.”

“Wat?! Maar Shaun!”

Die trane pers uit my oë toe hy my met ’n sagte “Sjjt” stilmaak.

“Ek sê dit nie omdat ek jou nie liefhet nie of dink dat ons verhouding nie sal werk nie. Ek doen dit juis omdat ek nog die hele tyd oor die saak nagedink het en op die ou einde het ek tot die slotsom gekom, dat as ek jou regtig liefhet, Layla, ek jou moet laat gaan.

“Dis vir jou eie beswil. Die ding tussen jou en daai man lê te swaar tussen ons. Hy was té betrokke in jou lewe om alles net so te vergeet en aan te gaan.

“Gister kon ek dit tussen julle aanvoel. Dit het my lank geneem, maar toe ek dit eers vir myself kon uitpluis, het ek besef hoekom ek regtig so woedend was.

“Alles wat gebeur het en gesê is, was tussen julle twee.

“Ek was net ’n byspeler, ’n pion in ’n spel waar slegs julle twee die reëls ken. Ek dink nie hy is die een wat ’n houvas op jou het nie, Layla.”

Ek kyk Shaun betraand aan, vrae in my oë.

“Dis jy wat ’n houvas op hóm het.”

Ek trek my asem geskok in.

“Toe jy van hom weg is, het jy dit reggekry om sonder hom aan te gaan. Jy kon ’n ander lewe begin, maar hy kon nie.

“Dis net iemand wat liefhet wat tot sulke uiterstes gedryf sal word.

“G’n mens sal verniet honderde kilometers ver ry net om onskuldige kwaad te stook nie. Die storie oor julle verlede het my baie stof tot nadenke gegee. Hy is ’n vark en ek haat hom vir dit wat hy aan jou gedoen het, maar dit maak hom nie minder lief vir jou nie.

“Jy is syne, Layla. Nie myne nie. Jy sal nooit myne wees voordat die band wat julle deel finaal verbreek is nie.

“Daai band is op die oomblik nog te sterk. Jy dink dit bestaan nie omdat ons verhouding besig is om jou denke te beïnvloed. Glo my, Layla, dis daar.

En dit het my gister sinneloos mal gemaak. Om daardie rede wil ek hê ons paaie moet vir eers skei.” Hy leun oor en lig my gesig op na hom.

“Layla, moet asseblief nie van my verwag om te settle vir second best nie.

“Ek is nie bereid om in ’n ander man se skaduwee te leef nie. Gaan en kyk of jy sin kan maak uit jou lewe sonder dat ek of daardie man jou beïnvloed.

Vergeet van die gemors wat jy agterlaat en miskien eendag, as jy vir seker weet watter paadjie jy wil loop, kan jy na my terugkom. Ek is lief vir jou, my meisie. My hart behoort aan jou en ek sal op jou wag.”

Hy bly ’n lang ruk stil en ek kyk met dooie oë na sy mooi, slanke vingers wat oor my hande streel.

“Layla?” dwing sy stem my oë terug na syne.

“Dis nie asof ek bereid is om jou net so te laat gaan nie.

“Die laaste ding wat ek wil hê, is dat jy verder saam met Mandy swerf. Só gooi ek jou nie vir die honde nie.

“Daar het onlangs ’n nuwe char agency in Goodwood oopgemaak.

“Hulle verskaf werk aan meisies oral in die Wes-Kaap. Hulle kry weekliks ’n lys van werkgewers wat werkers soek en gee dit dan aan werksoekers wat by hul deure kom aanklop. Hulle het al honderde meisies gehelp vandat hulle oopgemaak het.”

Ek kyk hom net stil aan.

“Dis net ’n voorstel wat ek maak, Layla, en ek sê nie jy móét dit doen nie, maar vir eers is dit so ’n voor die hand liggende oplossing.

“Jy sal ’n werk hê en ’n ordentlike blyplek en ek sal gerus wees in die wete dat jy oukei is, al weet ek nie hoe ek met die verlange gaan saamleef en die selfverwyt dat ek jou moes laat gaan nie.

“Ek sal elke aand bid dat ek nie eendag my besluit hoef te berou nie.”

Hy vee saggies die trane af wat oor my wange loop.

“Ek is só jammer, Layla.”

Hy is al lank weg werk toe, toe eggo die woorde nog in my brein.

Ek voel lewensmoeg, soos een wat aan die einde van ’n lang tog gekom het, maar steeds is die einde nie in sig nie.

Ek weet sommer reeds wat ek moet doen.

Shaun verwag dit van my en as dit hom gelukkig maak, sal ek ook miskien daardeur bevrediging vind, al lê my hart nou aan duisend stukke. Dalk leer ek ook hierdeur om beheer oor my eie lewe te begin neem.

Ek is siek en sat dat ander gedurig my lewensverloop moet bepaal. Dis tyd dat ek ál die ou bagasie afskud en ’n nuwe hoofstuk begin – ’n hoofstuk sonder ’n Mandy, Riaan of Shaun om my te beïnvloed.

Ek sal Mandy altyd dankbaar bly vir haar bydrae in my lewe, maar die tyd het gekom om te groet.

Stadig begin ek my goedjies inpak.

Ek huiwer voordat ek die deur agter my toemaak, wetend dat dit finaal sal wees.

Ek gaan Shaun nooit weer sien nie en ek wil nie hê hy moet verder sy tyd mors om op my te wag nie. Ons is by die omdraaipad verby. Hiervandaan is dit vir albei vorentoe.

Ek voel die koue van sy hangertjie teen my bors. Dan sluit ek my oë en hoor vir ’n oomblik sy woorde.

“Layla, hierdie hangertjie is vir my ’n simbool van ons liefde. Jy haal dit nie af voordat ek dit met ’n trouring aan jou vinger vervang nie.”

Ek haal die hangertjie af.

Ek loop op my spore terug. Plaas dit op sy kussing neer voordat ek beslis omdraai.

Shaun sal my boodskap kry en verstaan.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters