16 dae gelede
Selfs die skatryk Gwenyth kan nie alles beheer nie
 ~ 

HAAI, Sonlanders! In “Vrou uit die Township” leer ken ons vir Gwenyth Scheffers, ’n suksesvolle sakevrou wat nou sonder haar betroubare domestic worker oor die weg moet kom. Geniet hoofstuk 2 van CHRISTO MEYER se mees onlangse verhaal.

NADAT Gwenyth haar koffie gedrink het, sluit sy die voordeur oop en gaan staan buite op die stoep.

Sy kan nog ’n rukkie vertoef voordat sy werk toe ry. Daar is nog genoeg tyd. Lorenzo, haar dogter se chauffeur, behoort nou enige oomblik hier te wees. Hy is nooit laat nie.

Gwenyth lig haar kop en kyk na die hoë heining en die elektriese bedrading rondom die huis.

Sedert haar ouers op hul wynplaas in Stellenbosch vermoor is, het Gwenyth ’n obsessie oor sekuriteit. Sy kan dit nie verhelp nie.

Haar ouers was goeie, eerlike, hardwerkende mense. Hulle het nie só ’n wrede dood verdien nie.

Die vreemdste van alles is dat geen besittings uit die huis vermis word nie. Niks is gesteel nie. Roof was dus nie die motief vir die moorde nie.

Is die aanvallers dalk betaal om haar ouers dood te maak? Wie sou só iets wou doen?

Geld is iets waaraan Gwenyth beslis nie ’n tekort het nie.

Sy kan lag-lag die duurste en nuutste sekuriteitstelsels bekostig.

Sy wil veilig voel. Sy sal spandeer wat nodig is om ongenooide gaste buite haar erf te hou, veral noudat sy en haar dogter alleen woon.

Sybrand bly nie meer hier om hulle te beskerm nie. Hy kom kuier wel van tyd tot tyd vir Tanika. Dis sy reg om sy dogter te sien, maar Gwenyth laat hom nie toe om oor te slaap nie, al is daar twee spaarkamers wat nooit gebruik word nie.

Sybrand is nie meer deel van haar lewe nie. Hy het sy kans gehad en dit opgeneuk.

As jy jou bed elders opgemaak het, moet jy jou kop op daardie kussing gaan neerlê. Só glo sy.

Van Gwenyth se bure het honde wat hul woonplek dag en nag soos soldate patrolleer en hul alarmstelsel is direk met die polisie én ’n privaat sekuriteitsfirma verbind.

Gwenyth besit nie ’n troeteldier nie. Sy hou niks van honde, katte en papegaaie nie.

Wat veiligheid betref, weet Gwenyth alte goed sy kan nie te oorgerus wees nie. Sy kan niks as vanselfsprekend aanvaar nie. Met die hoë misdaadsyfer in die Kaap moet sy gedurig op haar hoede wees.

’n Skollie bly maar ’n slinkse en uitgeslape karakter en moet nooit onderskat word nie.

Net verlede week het twee skurke wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het, die hoof van ’n privaat skool hier naby in haar huis oorval en beroof. Die verdagtes is steeds op vrye voet.

Die somer staan einde se kant toe. Een van die dae lê die herfs­blare die hele wêreld vol. Soos ander jare sal die suidooster ook vroeër of later uit sy skuilplek kruip en sy teenwoordigheid laat geld.

Intussen teister die bloedigste hittegolf ooit die provinsie. Niemand weet wanneer dit sy ry gaan kry nie. Dis ongewoon warm vir hierdie tyd van die jaar.

Gwenyth onthou iemand het nou die dag op Facebook die volgende oor die hitte te sê gehad: “Dit voel of die dae moedswillig daarop uit is om mekaar soos boksers in ’n kryt die stryd aan te sê om te bepaal watter een van die sewe aan die einde van die week as die warmste dag aangewys gaan word.”

Van kouefronte, donker wolke of die moontlikheid van reën was daar weke laas sprake en daar is niks in die vooruitsig vir die volgende drie tot vier dae nie.

Selfs die wind, wat gewoonlik hierdie tyd van die jaar ’n oorlas van homself maak, is effens skrikkerig om ’n geluid te uiter. Of só kom dit voor. Dus is daar niks vreemds aan hierdie snikhete dag nie. Dit verskil nie veel van die vorige week of twee nie. Die son kook behoorlik.

Gelukkig het Gwenyth nie ’n probleem met die hitte nie. Dit pla haar nie in die minste of dit warm of koud is buite nie. Sy het lugverkoeling in elke vertrek by die huis en by haar werkplek. Met die druk van ’n knoppie kan sy verstellings maak soos dit haar behoeftes pas.

Gwenyth het iets om te vier. In ’n moeilike jaar het die besigheid steeds goeie wins gemaak. Weliswaar nie so goed soos in die jare voor corona nie, maar steeds.

Sy is trots op haar span. Hulle maak dit vir haar so maklik om suksesvol te wees. Wanneer sy smiddae 14:30 haar kantoordeur agter haar toetrek, doen sy dit met ’n geruste hart.

Dis nie vir haar nodig om heeldag op kantoor te wees nie. Scheffers Pharmacy is in goeie hande. Sy het die regte personeel aangestel. Mense wat sy kan vertrou, op wie sy kan staatmaak; mense wat ’n ekstra myl of twee vir haar sal stap.

NIE ver van waar Gwenyth bly nie breek die branders teen die rotse. ’n Seevoël rek sy nek en tuur nuuskierig na iets in die verte.

Die weer, met ’n verwagte maksimum temperatuur van 35º, is eintlik ideaal vir swem en om uitbundig op die strand te baljaar, maar weens die Covid-19-regulasies is sulke voornemens vir eers op ys.

Lede van die weermag is spesiaal ontplooi om toe te sien dat hierdie reëls eerbiedig word.

Gwenyth en die ander rykes van die buurt het nie nodig om by die see te ontspan nie.

Hulle kan dit in die gerief van hul eie woning doen, langs hul eie massiewe swembad. Hulle hoef ook nie, soos die gewone man op straat, te wag totdat die verbod op alkohol opgehef word nie; daarvan het hulle in oorvloed.

Die dag verloop nie heeltemal soos Gwenyth dit beplan het nie.

Op pad werk toe ry sy byna ’n boemelaar raak wat so ewe non­chalant oor die pad stap. Sy swaai net betyds uit.

Sy skrik, draai die ruit af en skree uit woede: “Jou idioot! Kan jy nie kyk waar jy loop nie?”

Haar afspraak met die oorsese bemarker vind ook nie plaas nie.

Toe sy by die kantoor instap, kry sy dié boodskap by haar sekretaresse: “Mnr. Naidoo kan jou nie dié week sien nie. Hy moes dringend Johannesburg toe.”

Gwenyth se dag is sommer bederf. Sy wens sy het liewer by die huis gebly. Sy het dan só uitgesien.

Selfs vir mense wat in weelde leef, werk alles nie altyd uit soos hulle wil hê nie. Dít het Gwenyth op die harde manier geleer. As dinge die dag skeefloop, is dit seker maar die noodlot se manier om te sê jy moet jou trots in jou sak steek en terug aarde toe kom.

Geld kan baie goed koop, maar as die lewe sy eie manier het van dinge doen, kan geen bedrag opmaak vir die skade nie. Dit word iets waarmee jy net moet saamleef.

BAIE ver daarvandaan, in ’n township iewers in die Oos-Kaap, sit ’n hartseer Tandi met ’n yslike probleem. Sy weet nie hoe en waar sy ’n oplossing gaan vind nie. Haar hande is afgekap.

Vir die eerste keer ooit wens Tandi haar suster Thembi het nie so losbandig gelewe nie. Sy is nou die een wat met die sak patats opgeskeep sit. Het sy die regte ding gedoen deur al hierdie verantwoordelikheid op haar te vat?

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters