24 dae gelede
Sabrina skrik haar boeglam vir ’n onverwagte gas
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Hierdie week plaas ons GWENDOLINE KORDOM se verhaal "Stanley se Kerswens". Geniet hoofstuk 1.

SABRINA staan vir ’n oomblik doodstil in die deuropening nadat sy die deur oopgesluit het. Dit neem ’n rukkie voordat sy moed bymekaar skraap om vorentoe te beweeg.

“Tannie Ellis! Dis Sabrina. Ek het vir tannie Ellis kos gebring.”

’n Doodse stilte volg. Het die ou vrou boonop doof geword? Kan sy nie hoor sy roep na haar nie?

Sabrina sou al teen dié tyd haar voetstappe oor die plankvloer hoor aankom. Wat as iemand die arme vrou in haar huis oorrompel het?

Sê nou die een wag iewers in die huis vir haar? Of erger. Tannie Ellis in ’n plas bloed op haar kamervloer.

Haar oë fokus op die opening wat na die gang lei. Sy moet nader beweeg en ondersoek instel. Hoekom voel dit dan asof haar voete teen die vloer vassit?

Sabrina skud haar kop. Haar ooraktiewe verbeelding is alweer op hol.

Dan hoor sy duidelik die kraakgeluid van ’n deur. Angstig staan en wag sy. Toe niks ná ’n paar sekondes gebeur nie, wonder Sabrina of dit nie weer een van die antie se speletjies is nie. Sy besluit om die sakkies op die kombuistafel te los.

Sabrina loop dan haastig in die rigting van die kombuis verby die sitkamer en steek in haar spore vas toe sy ’n beweging uit die hoek van haar oog gewaar.

In tannie Ellis se stoel wat in die sitkamer staan, sit ’n figuur. In haar plek ’n vreemdeling. Sy wens dit was net ’n aaklige droom, maar die onbekende figuur het opgestaan en staar nou na haar.

In die lig wat deur die venster stroom, sien sy dis ’n man. Sy klere is vuil en sy hare staan in alle rigtings. Hy is kaalvoet.

Die sakkies val uit haar hande en dan spring sy om en nael vir die oop deur. Sy hardloop al gillend by die erf uit.

Haar ma moes haar seker van ver af hoor skreeu het, want sy is die eerste een wat haar tegemoet hardloop. Sabrina beduie uitasem agter haar en nael vir die voordeur.

In die sitkamer val sy op die naaste bank neer. Haar pa verskyn agter haar ma en albei staar nou bekommerd na haar.

“Sabrina, wat is fout? Dit lyk asof jy ’n spook gesien het,” sê Maria.

“Daar is ’n man in tannie Ellis se huis. Hy sit daar op die stoel waar sy altyd sit. Verder is daar nie ’n teken van haar nie. Mammie moet die polisie bel. Hy het haar vermoor,” blaker sy uit.

Beide is by die voordeur uit nog voordat Sabrina ’n verdere woord kan uiter. Angstig staar sy hulle agterna. Sy weet nie hoe lank sy in daardie posisie gesit het nie.

Meteens voel alles soos een groot nagmerrie. Sy besef dan ook ’n hele paar minute het al verby gevlieg.

Waar is haar ouers? Wat as die man hulle ook oorrompel het? Dalk moet sy die polisie bel. Of dalk self teruggaan na die huis?

Haar arme ma met die goeie hart. Sy is ’n verpleegster en het regdeur die pandemie gewerk om ander se lewens te red. Nie eens die virus kon haar onderkry nie.

Oor ’n paar dae is dit Kersfees en sy wil dit graag met albei haar ouers vier. Sabrina besluit om die polisie te bel.

Terwyl sy besig is om die nommer in te tik, hoor sy voetstappe buite.

Sy vlieg op vanuit die rusbank. Toe sy opkyk, staan haar ma in die deur. Sy gee ’n snik en storm blindelings in haar ma se arms in.

“Toemaar, kindjie, alles is oukei,” troos haar ma. “Tannie Ellis was toe vas aan die slaap toe ons daar aankom.”

Sabrina lig haar betraande gesiggie. “En die man?”

“Hy is ’n boemelaar oor wie tannie Ellis haar onlangs ontferm het. Sy naam is Stanley en hy was daar om die tuin reg te trek.”

“Hoekom het hy dan niks gesê nie?” vra Sabrina.

“Kom kyk self, my kind.” Sabrina laat haar willoos begelei deur haar ma. Toe hulle daar aankom, sit haar pa, tannie Ellis en die vreemdeling ewe cosy en tee drink. Sabrina moet twee keer haar oë knip om seker te maak sy sien reg.

“Hallo, Sabrina. Kom nader, my kind. Stanley sê jy het jou boeglam geskrik toe jy hom hier in die huis raakloop,” sê tannie Ellis.

“Middag, tannie Ellis,” sê Sabrina met haar blik vasgenael op die vreemdeling. Verdwaas sien sy hoe hy nader beweeg en sy hand na haar uitsteek. Sabrina staan ’n entjie terug om hom beter te aanskou.

Hy is lank en maer met klein swart oë wat effens te naby mekaar sit. Noudat sy naby hom staan, sien sy ook dat sy gesig skoon is.

“Ek is jammer ek het jou vroeër die skrik op die lyf gejaag,” sê hy met ’n diep stem. Selfs sy tande skitter soos een in ’n Colgate-advertensie. Sowat van ’n vreemde dag het sy lanklaas beleef. Behalwe natuurlik toe Lisa haar onverwags op die bus gesoen het. Die gedagte laat haar gesig vlamvat.

“Waar is jou maniere, kind?” vra haar ma skielik langs haar.

Sabrina ignoreer sy uitgestrekte hand en beweeg agteruit.

“Ek moet waai,” sê sy en loop by die deur uit. Haar rug kriewel toe sy daar wegstap.

“Ons is nou daar,” skree haar ma agterna, maar Sabrina loop sonder om een keer terug te kyk.

Stanley White staar die fyngeboude meisiekind agterna. Dan glimlag hy beleef en sink weer in die stoel neer, sy gedagtes ver.

Anastachia. Dis aan wie sy hom laat dink. Dis hoekom hy vroeër net kon staar. Nou dink die kind hy is ’n reeksmoordenaar. Hy sal ’n manier vind om haar anders te oortuig.

Sabrina voel nog die Stanley-man se oë in haar rug brand toe sy hul oprit betree. Hoekom het hy net daar gestaan en staar na haar?

Wat as die man iets met tannie Ellis aangevang het en haar nou dwing om saam te lieg?

In sy oë sien Sabrina ’n afwesigheid soos een wat met ’n donker geheim rondloop. Haar ma sou nou sê sy lees te veel spanningsverhale.

Hoe lank het hy tannie Ellis se huis dopgehou voordat hy toegeslaan het? Of probeer hy eers haar vertroue wen?

En haar ouers. Wanneer het hulle so goedgelowig geword? Hulle waarsku haar altyd teen die gevare daar buite, maar laat ’n vreemdeling in tannie Ellis se huis toe?

Dit kan tog nie die Kersgees wees wat almal aangetas het nie. Sy gaan staan voor die Kersboom in die middel van die sitkamer. Ingedagte streel sy oor die blink versierings.

Kersfees is ’n tyd vir feesvieringe saam met familie. Haar ma het juis voorgestel hulle eet Kersfees in die tuin as ’n voorsorgmaatreël. Hierdie Stanley sal vinnig sy ry moet kry.

Dit lyk kompleet asof hy haar ouers ook onder sy mag het. Dit help ook nie sy probeer hulle waarsku nie. Hy is nie te vertrou nie.

Daar is iets omtrent hom wat haar kriewelrig laat.

“Sabrina?”

Sabrina slaan amper neer van skok toe sy die stem herken. Stadig draai sy haar kop. Stanley staan daar met ’n onleesbare uitdrukking op sy gesig na haar en kyk.

“Hoe het jy hier ingekom?” vra sy angstig.

“Die deur was oop. Ons moet praat,” sê hy. Sy oë deurboor hare.

  • Sabrina staar met groot oë na hom.Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters