23 dae gelede
Sabrina is vies dat haar ma Stanley vir ete genooi het
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Hierdie week plaas ons GWENDOLINE KORDOM se verhaal “Stanley se Kerswens”. Geniet hoofstuk 3.

‘EK EN jy het op die verkeerde voet weggespring. Ek wil om verskoning vra.

“Ek het, nes jy, ook geskrik,” sê Stanley.

Sabrina staar onseker na hom. “Waar is my ouers?”

“Hulle is nog daar by tannie Ellis se huis. Ek het jou ma se toestemming gevra om hierheen te kom.”

Sabrina snork hardop.

“En sy het jou wragtig laat kom? Ek glo dit nie.

“My ma sou saamkom. As ek jy is, sal ek liewer sorg dat ek baie vinnig hier padgee.”

“Hoekom?” vra Stanley.

“Want ek het die polisie gebel en hulle vertel van ’n rondloperman wat van ’n ou vrou se goedhartigheid misbruik maak,” lieg Sabrina.

Sy oë rek. “Hoe durf jy so iets doen? Ek het niemand skade aangedoen nie. Mense soos jy is die rede hoekom ander in die tronk beland.

“Julle gee nie ? flenter om oor ’n ander een se gevoelens nie. Onskuldige mense moet mos altyd boet vir ‘goeie mense’ se roekelose, selfsugtige optrede,” bulder hy.

Dan gee hy haar ’n vuil kyk voordat hy uit die vertrek storm. Sabrina beweeg vinnig op die deur af.

Dan gooi sy dit toe en sluit dit met bewende vingers.

Sy draf na die venster en is net betyds om Stanley in die teenoorgestelde rigting te sien hardloop.

Verdwaas staar sy hom agterna. Die gesprek met Stanley is nie wat sy verwag het nie. Dit het egter ál haar vermoedens bevestig.

Hy is niks anders as ? skelm met lelike intensies nie. ? Onskuldige man sou nie van die gereg vlug nie.

Sy voel byna verlig dat sy so maklik van hom ontslae kon raak.

Haar selfoon vibreer in haar broeksak en sy haal dit vinnig uit. Vererg staar sy na die teksboodskap van Lisa: Wanneer sien ons mekaar weer? Ek mis jou.

Daardie een soen het alles ver­ander. Lisa glo nou wragtig sy het dit gelikes oor sy haar nie teëgesit het nie. Sy was in die eerste plek te geskok.

Dit help ook nie sy probeer dit aan Lisa verduidelik nie, want sy glo vas hulle deel nou iets spesiaals.

Dit laat Sabrina nog meer aan haar seksualiteit twyfel. Wanneer het haar lewe so gekompliseerd geraak?

Hoe laat verstaan sy vir Lisa dat sy ’n delayed reaksie op haar soen gehad het?

Vir weke aaneen stoei sy met die gedagte dat sy dalk soos Lisa ook ’n lesbiër is. Nog meer oor haar ouers se reaksie as hulle moet uitvind ’n vriendin het haar gesoen.

Sabrina skrik toe daar ’n harde klop van die voordeur af kom.

“Sabrina, maak oop. Dis ons.”

Verlig herken sy haar pa se stem. Sy spring op om die deur oop te sluit.

“Ek het nuus,” blaker haar ma uit toe sy oor die drumpel stap.

“Tannie Ellis het ingestem om by ons te kom woon.”

Haar ma se gesig straal. Sabrina gaap haar oopmond aan.

Maria kyk rond en sê: “Ek het ook vir Stanley oorgenooi om die Kersmaal met ons te geniet. Waar is hy?”

“Mammie het wat gedoen?” vra Sabrina.

“Die arme man bly op die straat en leef uit vullisblikke. Hy wens om vir een Kersdag saam met ander om ’n tafel te sit en eet. Iets wat hy in jare nie kon doen nie.”

“Ek glo dit nie,” sê Sabrina.

“Moet ek wraggies dié jaar saam met ’n boemelaar eet?”

“Sabrina! Wanneer het jy so ’n snob geword?” vra Maria.

“Mammie ken nie eens die man nie. Wat van Covid?

“ ’n Mens laat nie sommer enige een in jou huis toe nie.”

“Sabrina, dis nou genoeg,” sê James­. “Stanley sê hy’t hom laat toets en sy uitslae was negatief.

“Hy lyk na ’n ordentlike mens en daarom sien ons kans om hom oor te nooi. Omstandighede het hom waar hy vandag is, maar daar skort niks met sy maniere nie.”

“Hy flous vir Daddy-hulle. Hy is ’n misdadiger. Hy was vroeër hier.

“Toe ek hom vertel ek het die polisie gebel, kon hy nie vinnig genoeg hier wegkom nie.”

“Ai, Sabrina, hoe kon jy so iets doen? Die man het alreeds sy straf vir sy dade uitgedien,” sê haar ma.

“Watter straf? Beteken dit hy was in die tronk?” vra Sabrina grootoog.

“ ’n Ongelukkige sameloop van gebeure het hom daar laat beland.

“Hy was nes jou pa ook lief vir die bottel. As hy so besope was, het hy die huis omgekeer.

“Sy vrou moes dan dikwels onder sy vuiste deurloop terwyl sy dogter dit aanskou. Wanneer hy weer nugter was, kon hy nie genoeg om vergifnis pleit nie.”

“Sy vrou het telkens gedreig om hom te los. Dan sou hy vir ’n kort tydjie stop totdat dinge weer na normaal terugkeer.

“Intussen was daar gerugte dat sy vrou hom met sy beste vriend verneuk en ’n nuwe lewe saam met die ou beplan het. Stanley het hom op die betrokke aand dronk gesuip.

“Toe hy haar daaroor konfronteer, het sy alles bevestig. In ’n oomblik van woede het hy ’n mes gegryp en na haar gesteek.

“Sy dogter, Anastachia, het voor die mes ingespring en dit het haar hart deurboor. Sy het in Stanley se arms gesterf.

“Anastachia was omtrent jou ouderdom toe sy sterf.

“Stanley het ná sy vonnis op straat beland en probeer nou sy lewe agtermekaar kry.”

Sabrina staar verdwaas voor haar uit.

“Hy soek ’n tweede kans. ’n Kans om oor te begin,” sê haar ma.

“Daardie man loop met ’n diep seer in hom rond waarmee hy vir die res van sy lewe moet saamleef.

“Hy het sy straf uitgedien. As tannie Ellis hom ’n tweede kans wil gee, wie is ons?” sê Maria.

“Hoe kry Mammie dit reg om altyd die goeie in ander te sien?”

“Hoe gaan die wêreld ’n beter plek word as ons nie naasteliefde teenoor mekaar kan betoon nie?

“Is dit nie waaroor Kersfees gaan nie?

“Die meeste mense dink dit gaan oor mooi klere en swaar gedekte tafels. Terwyl die helfte van daardie disse in die vullisdrom beland, sit baie mense honger op Kersdag.

“Daar is so baie wat wens vir alles wat ons besit. Sien jy nou kans om saam met Stanley om een tafel te sit?” vra James.

Sabrina haal haar skouers op.

“As Mammie-hulle goed in hom sien, wie is ek om te oordeel?”

“En tannie Ellis wat hier kom woon?” vra Maria.

“Daar het ek seker nie ’n keuse nie,” sê Sabrina met ’n glimlag.

“Daar is iets wat ek moet deel,” sê Sabrina en haal diep asem.

“Lisa het my op die bus gesoen,” blaker sy uit.

Haar ouers staar verward na haar.

“Hoekom het Lisa jou gesoen?” vra James.

“Want sy dink ek is soos sy,” antwoord Sabrina.

Maria se oë rek toe sy begryp wat Sabrina sê.

“Is jy?” vra Maria

“Ek dink so,” sê Sabrina.

“Die skande,” sê James en keer net betyds toe Maria inmekaarsak.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters