22 dae gelede
Sabrina besef nou wat werklik in die lewe belangrik is
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Hierdie week plaas ons GWENDOLINE KORDOM se verhaal “Stanley se Kerswens”. Geniet die slothoofstuk.

SABRINA kyk verdwaas hoe haar pa haar ma ná ’n kort pouse wakker skud en dan na die hoofslaapkamer lei.

Versigtig volg sy hulle. Haar ma se bewegings is soos een wat bedwelmd is. Terwyl haar pa sukkel om haar op die bed te kry, trap Sabrina onrustig rond.

Wat as die skok te veel was vir haar? Hoe gaan sy ooit met haarself lewe as haar ma iets oorkom?

Sy het nie bedoel dinge moet so uitdraai nie. Sy is mos nie werklik soos Lisa nie. Sy hou van seunskinders en bloos wanneer Chadley, ’n klasmaat, in haar rigting kyk. Die voorval met Lisa was onverwags.

Dit is egter die eerste keer dat Lisa so na haar gekyk het. Die hele voorval het boonop hul vriendskap beduiwel. Sy ignoreer Lisa se Whats­Apps en hoop sy kry een of ander tyd die boodskap.

Haar pa se bewegings verstil. Dan kyk hy met graniet-oë na haar.

“Wat maak jy nog hier? Trap! Ek soek nie ’n mannetjie-wyfie in my huis nie!”

Maria se ooglede fladder oop. Dan staar sy vir ’n paar tellings na Sabrina voordat sy weer haar kykers sluit.

“Ek’t gesê loop!” bulder haar pa.

Sabrina vlug verwilderd voor sy skroeiende blik uit. Toe sy in die straat kom, slaan sy blindelings ’n koers in.

Hier en daar sien sy kinders sonder maskers in die straat speel. Die versengende hitte van die dag het mense in die laatmiddaguur na hul stoepe gedwing. Nou en dan lig iemand hul hand in ’n groet.

Sabrina is siende blind daarvoor. Vir solank as wat sy op Biesiedam woon, het sy nog nooit die skoonheid van die dorp so misgekyk soos vandag nie.

Dan bevind sy haar in die park. Die wilgerbome se skadu’s is ’n welkome lafenis ná die warm dag. Aan die ander kant van die bome blink die dam helder in die son.

Motors is eenkant geparkeer, terwyl ’n paar feesgangers naby die oewer ’n sitplek soek. Sy loop nader en staan verwese teen die soom van die dam. Sy weet nie hoe lank sy daar gestaan het nie, maar toe sy opkyk, staan Stanley langs haar.

“Wat maak jy hier? Het iets met tannie Ellis gebeur?” vra hy met ’n bekommerde frons.

Sabrina vererg haar. Wat skort met die man? Dink hy nou werklik hy is deel van hulle? Hoe durf hy dink dat hulle nou iets in gemeen het? Kyk hoe lyk hy. Hy is ’n boemelaar, for crying out loud.

“My kom en gaan het niks met jou uit te waai nie,” sê Sabrina vies.

“Tannie Ellis makeer niks. Nie dat dit jou aangaan nie.”

“Is jy altyd so gemeen? So ? mooi gesiggie met ’n skerp tong. Wat ’n skande,” sê hy.

Warm trane spring onverwags in haar oë. Sy draai haar gesig weg.

“Los my uit,” sê sy gesmoord.

Sy voel sy oë op haar en wonder hoekom hy nie sy ry kry nie.

“Mens voel altyd beter as jy daaroor praat,” sê hy onverwags. Vir ’n lang ruk kan sy net na hom staar. Dan stort sy alles teenoor hom uit.

Daar heers ’n kort stilte tussen hulle voordat hy praat.

“Misverstande en wankommunikasie is die grootste ongelukkigheid in ’n mens se lewe. Jy moenie toelaat dat dié ding tussen jou en jou ouers kom nie. Gaan huis toe en stryk dit uit. Maak jou gevoelens duidelik en verduidelik aan hulle hoekom jy so gevoel het.

“Dit was immers jou eerste soen. Ek dink dit is die rede hoekom jy skaam en verward voel. Maak seker jy vra om vergifnis. Mens kry nie altyd ’n tweede kans nie.”

“Praat jy nog van my of praat jy met jouself?” vra Sabrina.

“Dit maak nie saak nie,” sê hy.

“My ma het my van Anastachia vertel,” sê Sabrina sag.

Stanley se oë verdonker vir ’n oomblik. Dan haal hy skouers op.

“Dit het gebeur en ek sal nooit die geleentheid kry om jammer te sê nie. Dié tyd van die jaar is veral swaar. Dis familietyd. ’n Tyd waarin almal vir ’n oomblik vergeet van die jaar se probleme en in vrede met mekaar verkeer.

“ ’n Tyd waarin daar geskenke uitgedeel word en jy kosbare tyd met geliefdes deurbring. Vir my is dit verlore. Jy het nog ’n kans. Gaan huis toe.”

Sabrina wil iets sê, maar strompel weg toe hy waarskuwend na haar kyk. ’n Entjie verder gaan sy staan en kyk terug. Stanley sit op sy hurke met sy skouers vooroor gebuig en staar voor hom uit.

’n Diepe jammerte vir hom stoot in haar op. Sy het hom dalk te gou geoordeel. Hoe ’n groot vrag dra hy nie saam met hom nie? Om elke dag met die wete te leef dat jy jou enigste kind vermoor het, is seker een van die swaarste dinge wat ’n ouer kan dra.

Toe sy verby tannie Ellis se huis loop, sien sy haar in die venster staan. Sy draai outomaties in en loop tot op die voorstoep. Die deur staan oop en sy stap huiwerig binne.

Tannie Ellis het in haar gunstelingstoel gaan sit.

“Kom in, kind,” nooi sy.

Sabrina plak haarself in die naaste bank neer.

“Ek is so bly jy is hier. Ek het die slangetjiebord vir ons gereed gekry. Nou kan ons lekker speel.

“Ek het geweet jy sal kom ná Stanley daar was. Hy het hierdie wonderlike gawe om die beste uit ander te bring. Dis jammer oor sy omstandighede.

“Boonop is hy so trots en weier om ’n sent vir die tuinwerk te aanvaar. ’n Bord kos is genoeg vir hom.

“Die res gaan deel hy dan met twee vriende. Stanley is voorwaar een van daardie mense wat soos ’n engel onder ons leef. Dink jy nie so nie?” vra tannie Ellis.

Sabrina besef haar houding het in die laaste uur verander. Miskien is dit Stanley se woorde of vandag se gebeure. Oor een ding moet sy egter met Stanley saamstem: Daar is baie selfsugtige mense in die wêreld en sy is een van hulle.

Daarom het sy besluit om Stanley se Kerswens te help vervul.

“Ja, tannie Ellis. Stanley is soos ’n engel wat spesiaal vir ons gestuur is. Ten minste sal hy dié jaar ’n goeie bord kos op Kersdag geniet.”

“Dis nes jy daar sê, my kind. Begin jy maar speel.”

Sabrina skuif nader met ’n groot glimlag. Sy sal later huis toe gaan. Dan sal sy ’n rustige gesprek met haar ouers hê. Daarna sal sy twee briewe skryf vir tannie Ellis se kinders om hulle te herinner waaroor Kersfees gaan.

Sy sal ook ’n spesiale Kerskaartjie vir Stanley maak waarin sy hom om vergifnis sal vra. Dié jaar sal sy genoeg foto’s neem sodat sy dit volgende jaar as versierings aan die Kersboom kan hang.

Miskien sal Stanley se tyd vir ween en verlange ná die Kersete afneem.

Sy sal met Lisa regmaak, want ’n soen tussen vriendinne het byna in iets leliks ontaard.

Sy sal nie gepla wees deur alle vreemde gesigte wat waarskynlik dié jaar by hul huis sal wees nie. Daar’s belangriker dinge as duur geskenke en mooi klere. Soms moet ’n mens jou hand uitreik na ander.

Kersfees is immers die tyd vir vergifnis en die tyd om in liefde saam met familie te verkeer.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters