20 dae gelede
Ricky Grootboom se skooljare lewer nog ’n leidraad op
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

“Mense en hul Dinge” is CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk. Geniet die vyfde hoofstuk!

‘SAL jy omgee om my ’n bietjie meer van Ricky Grootboom te vertel?” vra Mercia terwyl ons op pad is na die adres wat ons by die skoolhoof gekry het.

Die straat is nie juis bedrywig nie, maar ek verkies om ’n veilige volgafstand te hou. Daar is geen rede om te jaag nie en met al die onverskillige drivers op ons paaie kan ’n mens nie kanse waag nie. Jy moet gedurig op jou hoede wees.

“Asseblief, kollega,” soebat sy byna. “Ek wil net ’n idee kry van sy agtergrond. Ek besef mos nou ek weet eintlik niks van die man nie, behalwe dat julle saam op skool was. En daarmee gaan ek nie veel uitgerig kry nie.”

Mercia se nuwe belangstelling in Ricky Grootboom maak my opgewonde.

Dis mos die kaptein Bruinders waaraan ek gewoond is. Die een wat sal krap en krap tot sy gevind het waarna sy op soek was.

Ek besluit om my volle same­werking te gee. Dis tog tot ons albei se voordeel.

“Daar is nie veel oor hom wat ek jou kan vertel nie, Kaptein. Ricky was maar altyd ’n dark horse. Eenkant, teruggetrokke, besig met sy eie ding. Geheimsinnig.

“Die stille waters-tipe. Nie eintlik gemeng met die res van ons nie.”

“Wil jy vir my sê Ricky Grootboom het niks vriende gehad op skool nie? Watse soort kind was hy dan?”

“Nou vra jy my vas, Kaptein. Alle skoolkinders is mos nie dieselfde nie. Sommige staan uit en ander bly in hul dop. Gerugte het geloop dat Ricky se ouers bang was hy meng hom met die semels, dat hy sy vriende verkeerd sou kies en in die moeilikheid sou beland.

“Daar was in ons dae mos al leerders wat aan bendes behoort het. Daar was destyds twee tienerbendes, die Skobbe en die Jakke.”

“Ek hoor wat jy sê, kollega, maar nog altyd – hoe gaan ’n kind sonder vriende deur sy skoolloopbaan? Dit klink mos nie normaal nie.”

“Ricky was maar altyd vol van homself. Altyd gereken hy is beter as ander. Kan jy glo hy het op ’n dag voorgestel ek moet my ma gaan aangee vir naamskending?”

“Wat? Hoekom sou hy so iets kwytraak?”

“Ricky het op ’n dag voor my kom staan en gesê hy hou nie van my naam nie, dat ek my naam moet verander en dat Stoffel die lelikste naam op aarde is. Sommer net so. Hy het niks daarvan gedink nie.”

“Sjoe, dis nou nie juis ’n sensitiewe ding om vir iemand te sê nie. Hoe het jy daarop gereageer? Ek hoop jy het hom die leviete voorgelees. ’n Mens se naam is jou trots.”

“Ag, ek het my nie eintlik aan Ricky gesteur nie. Niemand anders het ’n probleem met my naam gehad nie.”

“Ek sien. En het Ricky ooit aan sport of skoolaktiwiteite deelgeneem?”

“Ricky was goed in atletiek. Baie goed. In daai sportsoort het hy kop en skouers bo die res uitgestaan. Nie in die naellope nie, maar die langer afstande. Hy’t drie jaar ná mekaar provinsiale kleure gekry en ons skool se naam hoog gehou. Van sy rekords staan vandag nog in die 800 m en 1 500 m.”

“Dit klink interessant,” sak Mercia af. “Was hy ooit in die moeilikheid by die skool oor iets soos byvoorbeeld skelm rook of dat hy van die ander leerders rondgepluk of gevloek het?”

Ek voel soos iemand onder kruisverhoor, maar ek gee glad nie om nie. As Ricky se agtergrond my kollega ’n idee kan gee van die persoon met wie sy te doen het, kan dit haar dalk vorentoe in haar ondersoek help. Niks sal my groter plesier verskaf as om Ricky vas te trek as hy wel by kinderhandel betrokke is soos vermoed deur ons stasiebevelvoerder, kol. Mbeki, nie.

Ek dink ’n rukkie na en meteens gaan daar iets soos ’n helder lig in my gedagtes aan. Natuurlik! Hoe kon ek daarvan vergeet het? “Nou dat jy dit noem, daar was ’n geval waar ’n onderwyseres deur Ricky se toedoen in die pad gesteek is.”

“Nou maak jy my nuuskierig. Wat presies het gebeur?”

“Ons was in matriek. Dit was kort ná Ricky se 18de verjaarsdag. Soos skoolkinders maar onder mekaar kan praat, was daar allerhande stories dat die jong juffrou Taylor ’n ogie op Ricky gehad het.”

“’n Onderwyser wat verlief is op ’n leerder is mos moeilikheid vra. Maar vertel gerus verder.”

“Ricky en juffrou Taylor was een middag ná skool alleen in haar klas. Ricky moes glo agterbly vir ekstra lesse of iets. Die opsigter het op hulle afgekom en vir Ricky met sy broek om die enkels betrap.”

“Nooit, Sersant, wat vertel jy my nou?”

“Dit was ’n groot ding. Ricky se ouers wou niks verstaan nie. Hulle het geëis dat juffrou Taylor summier afgedank word. Volgens hulle was Ricky ordentlik opgevoed en juffrou Taylor het hom skaamteloos verlei.

“Daar was ’n verhoor, maar juffrou Taylor het nooit haar kant van die saak gestel nie. Sy het besluit om haar swygreg uit te oefen.”

“Ek dink ons moet uitvind waar hierdie juffrou Taylor woon,” stel Mercia voor. “Wie weet, miskien is sy ná al hierdie jare gereed om te praat oor daardie dag.”

Skielik verander ek die onderwerp. “Dink jy ook Stoffel is ’n lelike naam, Kaptein? Jy kan maar eerlik wees. My vel is dik genoeg.”

“Ek... wel... uhm,” stotter Mercia.

Haastig trap ek rem. Ek draai my kop en kyk in Mercia se verbaasde gesig. ’n Swart hond het vanaf nêrens voor die kar ingehardloop. Ek maak my sitplekgordel los, klim uit en stuur ’n skietgebed op dat die hond nie iets oorgekom het nie. Ek haat dit as mense diere seermaak.

Met groot oë gluur die hond my aan. Ek is nie seker wie van ons twee die grootste geskrik het nie.

Hy swaai sy stert, blaf in my rigting en draf oor die pad.

Ek sug van verligting. Die hond is ongedeerd.

Ek klim terug agter die stuurwiel en ry verder.

Mercia skuld my ’n antwoord, maar ek besluit om nie verder daarop te hamer nie. ’n Naam is tog net ’n naam, maak nie saak wat mense daarvan dink nie.

Voor ’n huis met blou geverfde mure bring ek die Toyota Corolla tot stilstand.

Ons klim uit en loop tot by die voordeur, waar ek die klokkie lui.

’n Vrou in haar middeljare maak die deur oop.

“Hallo, my naam is Charmaine Grootboom. Is julle van die polisie?”

Ons groet, stel ons voor en vra of ons kan inkom.

“Kom binne en verskoon die deurmekaar plek. Ek is besig om skoon te maak. Het julle enige nuus oor Shireen se verdwyning?”

“Nog niks, mevrou Grootboom, maar hopelik binnekort,” sê Mercia.

“Ek hou van jou optimisme, maar ek hou niks van formaliteite nie. Noem my asseblief op my voornaam, as jy nie omgee nie.”

“Ek maak so, mev... ek bedoel Charmaine.”

“Nou maar toe, maak julle gerus tuis. Ek gaan sit solank die ketel aan vir drinkgoed, dan kan ons lekker gesels.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters