Verlede maand
Ragel le Fleur gee haar dogter ’n verrassing
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Danksy die brief wat oom Spekko aan Meisiepop gegee het, weet sy nou waar haar ma bly. Toe Meisiepop later haar grootmaakma se slaapkamer binnegaan, besef sy dadelik dat sy weet dat oom Spekko bos gelos het. En dis veral die uitdrukking op haar ma se gesig wat Meisiepop laat worry... Geniet nou hoofstuk 5 van EL­D­RIDGE JASON se “Meisiepop”.

RAGEL le Fleur lyk soos iemand wat ’n hele jaar lank “Weer Ontmoet” by ’n begrafnis gesing het.

Daar sit ’n mengsel van hartseer en teleurstelling vlak in haar oë.

Meisiepop het nog nooit haar ma so gesien nie. Dis asof ’n hele begraafplaas se spoke op een slag by haar ma kom spook het.

“Ek het gewag vir die regte oomblik om jou self te vertel,” sê antie Ragel in ’n moeë stemtoon.

Sy lyk skielik sommer jare ouer, met die plooie wat nou soos diep groewe in haar gesig lê.

“Wanneer, Ma?” vra Meisiepop saggies. “Wanneer? Ek is dan al amper mondig, maar Ma behandel my asof ek nog ’n kind is. Moenie ’n fout maak nie, ek is dankbaar.

“Dankbaar vir alles wat Ma al vir my gedoen het. Maar die lewe wil gelewe wees en Ma gee my eenvoudig nie die kans om my eie lewe te leef nie.

“Van die meisies wat saam met my op skool was, het al kinders. Nie dat ek soos Sannie hier om die draai drie kinders voor my 23ste verjaardag wil hê nie, maar ek het nog nie eens ’n outjie gehad nie.

“Ek ken nie eens van speen met ’n ou nie. Laas jaar wou Darryl van die slaghuis my uitvat vir ’n movie, maar toe skrik Ma hom mos af deur hom met strikvrae uit Levitikus te peper.”

Antie Ragel sug swaar. Sy laat haar selfoon op die bed val.

“Jy is reg,” sê sy dan. “Die dag toe ek jou die eerste keer in die hospitaal sien en jy sommer my hand vashou ... ek was nie reg vir ma-skap nie, weet jy.

“Net ’n paar maande voor daai het Freddy Louw my nét so voor die kansel gedrop en gesê ek is te suu ... um ... suutjies na sy sin. Toe loop hy weg met daai Marietjie-vroumens wat kastig ’n hairdresser wou wees, maar die mense se kopvelle so gebrand het.

“Ek was seergemaak, rou van die seerkry. En toe jy my hand met daai kleine handjies van jou vasgryp ... ewe skielik was daar ’n doel in die lewe vir my.

“So, verskoon my as ek nie ’n ma vir jou kon wees soos daai stukke op TV nie. Ek het maar net my bes probeer en dit was te alle tye my doel om jou te beskerm.

“Die wêreld is wreed daar buite. Jou pa het jou ma op ’n wrede wyse hier kom wegruk en ek wou jou net teen al die euwels van die lewe beskerm.”

Meisiepop loop tot by haar ma en gaan sit op die kant van die bed. Sy gryp een van haar ma se verrimpelde hande en hou dit teen haar wang.

“Ma was die beste. Ís die beste, en sal altyd wees.

“Daar was nie één aand wat ek honger gaan slaap, of met stukkende klere skool toe is nie.

“Ek ... ek ken nou die waarheid. Daar was ondanks alles wat Ma altyd vir my gedoen het, steeds ’n leemte in my hart.

“Ek weet nou daai leemte is weens die ma wat ek nooit geken het nie. As ek haar nie nou gaan opsoek nie, sal ek altyd onbeantwoorde vrae het. Kan Ma dít verstaan?”

Antie Ragel knik. Haar oë is vol trane en sy trek vinnig haar hand uit Meisiepop s’n.

“Wag,” sê antie Ragel en maak keel skoon. “Sal ons dan nou soos twee ou anties bewoë raak.

“Maar dis mos altyd hierdie een oog van my wat nie weet wanneer ek al lankal ophou ywe sny het nie. Gaan maak solank vir ons koffie. Ek is nou daar ...”

Meisiepop is al ’n hele ruk in die kombuis doenig toe haar ma eers daar aankom. Sy let dadelik die groterige handsak in haar ma se hand op.

Antie Ragel kom sonder ’n woord tot by die tafel geloop en gaan sit. Sy sit die handsak op die tafel neer en toe Meisiepop ook gaan sit, stoot sy dit oor die tafel na haar dogter toe.

Meisiepop kyk vraend na haar ma en maak die handsak dan oop. Haar oë rek groot toe sy die inhoud sien.

“Ek het geweet hierdie dag gaan aanbreek. Die dag dat jy die nes gaan verlaat,” sê haar ma.

“Oor die jare het ek hier en daar ’n geldjie afgeknyp en dit vir jou gespaar. Vir die dag dat jy Kaap toe moet gaan.

“Ek self was nie baie in die Kaap nie, maar dis ’n duur plek daai. ’n Lawaaierige plek met die vuilste van lug en waar mense jou in die oë kyk en aanstap sonder om te groet. ’n Plek waar mense dink jy is ’n easy target as jy vriendelik van geaardheid is. Ek gaan maar niks van hul Engels-pratery sê nie.

“Daarvoor het Anna Moss-Surtie, jou ma, my baie male aan herinner. Die mans was destyds mal oor haar Engelspratery.

“Maar ál wat ek gehoor het, was ‘you know mos’, ‘uncle Manie them’ en daai gruwelike woord ‘yous’ – wat dit ook al beteken.”

“Ma!” Meisiepop los ’n gilletjie van blydskap, spring op en loop vinnig om die tafel om haar ma ’n stywe drukkie te gee.

“Ek het altyd gewonder wat steek Ma in hierdie bag weg, maar het nooit kon dink ...

“Ek weet nie wat om te sê nie. Dankie, Ma. Ma weet mos ek gáán weer terugkom, nè?”

“Jy beter,” sê antie Ragel en vryf weer oor die een oog van haar wat so allergies vir ywe is.

“Meisiepop, jy moet nooit vergeet van die waardes wat ek jou geleer het nie.

“Moet nooit jou waaksaamheid verslap nie, want anders sluk die Kaap jou in.

“Onthou, daar is nie ’n ding soos Kaapse lekkers nie en hoewel daar goeie mense ook in die Kaap is, is daar areas waar jy maar liewer weg moet bly.

“Soos wat Spekko my vertel het, bly Anna Moss-Surtie in Tafelsig in Mitchells Plain ... of Mitchells Vlei, soos daai versin ou man vas glo.

“Ek het baie oor die nuus gehoor hoe rof dit daar is. Ons sal jou behoorlik moet hande oplê én met olive oil moet salf.”

Meisiepop lag. “Mammie, ek dink darem nie dis só erg nie. Ek mean maar, van wat ek nou al gehoor het, is die gevaarlikste ding in Mitchells Plain die Engels wat die mense daar praat.”

“Wat praat jy?” vra antie Ragel. “Maar elke plek het maar sy goeie en slegte eienskappe. Hier by ons sal almal eendag sterf van skinder en in Mitchells Plain ... daar vermoed ek die Engels gaan hulle doodmaak.”

  • Meisiepop kan nie anders as om te lag nie. ’n Opgewondenheid broei in haar. Sy gaan Kaap toe! Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters