Verlede maand
Potgieter het self ’n groot appel te skil met Meintjies
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag is dit hoofstuk 7 van CEDRIC AFRICA se verhaal “Bloedgeld”. Geniet die leesstof!

DIE vreeslose Hilton Meintjies is vanoggend ’n diep bekommerde man.

Hy gooi die lêer met geklassifiseerde inligting oor stafsersant Stone Stenekamp gefrustreerd op sy lessenaar neer.

Dit is nou reeds meer as drie maande vandat hy soos ’n groot speld verdwyn het. Dit was ná daai mislukte hit op hom in Atlantis se Dura flats, waar nóg ’n onskuldige laitie met sy lewe geboet het. Sy contacts in die Northern Cape kon ôk niks oplewer nie.

Hulle het die dorp Springbok van hoek tot kant gefynkam, maar dis asof daar nooit ’n Stone Stenekamp bestaan het nie.

’n Sug ontsnap moeisaam toe hy nog ’n dop whiskey in sy leë glas gooi. Daai bliksem-tikkop-soldaat het Katjies doelbewus om die bos gelei, maar hy moet gekry word voordat hy besluit om te praat.

Hy weet te veel, en Meintjies se sakevennote, wat almal hooggeplaaste en vooraanstaande sakemanne is, blaas nou in sy nek.

Hy staar ’n oomblik uitdrukkingloos na die groot plasmatelevisieskerm teen sy muur. Van hier kan hy elke beweging in sy geheime kelder dophou.

Sy drug lab. Hy smile ingenome. Hier werk sy manne wat met die hand uitgesoek is dag en nag om voor te bly met die groot vraag na verwerkte tik en Mandrax-tablette.

Dit is sy koninkryk dié. Hier swaai hy die septer. Niemand gaan dit van hom af wegneem nie, nie eens daai tikkop-soldaat van special forces, Stone Stenekamp, nie.

Dan glimlag hy meteens geheimsinnig. Daar is dalk tog ’n manier om Stone Stenekamp in die hande te kry en vir goed van hom ontslae te raak ...

DIS nog vroegoggend toe hy vir Nellie by die winkel gaan groet. Sy was nog alleen daar toe sy karretjie voor die deli stilhou.

Hy wou nie verwagtinge skep nie, maar hy moes haar gaan sê hoe hy oor haar voel. Sy het hom omhels en in trane uitgebars toe hy vir haar sê dat hy vir ’n rukkie weggaan ... en dalk nie sal terugkeer nie.

“Gaan jy om van daai demons ontslae te raak?” het sy snikkend gevra nadat sy haar emosies onder beheer gekry het. Stone het haar nie geantwoord nie; net weggestap en in sy motor geklim.

HY VOEL goed, soos ’n nuwe sikspens. Ná sy ure lange gesprek nou die dag met maj. Potgieter het hy besluit om hulle te join in hul stryd teen dwelms.

Hulle is ’n klein groepie oudsoldate en poeliesmanne wat gatvol is vir die misdaad in hierdie mooi land, maar dit klink asof hulle kwaai georganise is. Hy het nooit besef hoe gevaarlik Hilton en sy sindikaat regtig is nie, totdat die majoor hom nou die dag vertel het hoe hy sy eie laitie ook aan hulle moes afstaan.

Sy verkoolde liggaam is ’n paar maande gelede op die ou Darlingpad ontdek.

Volgens die nadoodse ondersoek het hulle eers ’n bullet in sy kop gesit en hom toe aan die brand gesteek.

Dit was nadat hy een nag net spoorloos verdwyn het.

“My Johan was, soos jy, ’n be­lowende soldaat, maar hy het ook, soos jy, met die verkeerde mense gemors. Hulle het by die basis wapens gesteel en dit aan Hilton Meintjies se sindikaat verkoop.

“Die nag voordat hy verdwyn het, het hy my gebel en alles vertel. Hy wou uit, maar moes met sy lewe betaal.”

DIT is nog vroegmiddag toe hy voor ’n netjiese huisie in Protea Park, Atlantis, stilhou. Hy gaan weer vinnig die notas na wat die majoor hom gegee het. Jip, dit is die plek, maar alles lyk grafstil.

Die volgende oomblik gaan sy passasiersdeur oop. ’n Ou man wat sy pa se portuur kon gewees het, klim fluks in.

“Jy’s van ’n pos af, soldier.”

Stone staar ’n oomblik verward na die kaal geskeerde kop van die man wat strak voor hom kyk.

Sy naam is Tiger, stel hy hom voor sonder om na Stone te kyk.

Dan beduie hy Stone moet ry. Hy praat nie veel nie; sê net hy was ’n soldaat in die Suid-Afrikaanse Weermag.

’n Paar kilometer buite die dorp stop Stone by ’n plaashek. Toe Tiger fluks uitspring en die verroeste ketting sonder moeite losmaak, kan Stone nie help om ’n oomblik lank te wonder wat die destydse army hul manne gevoer het nie.

Op hierdie pad was bitter lank laas ’n ryding, merk hy ingedagte op toe hulle met die grondpad tot by ’n verwaarloosde opstal ry.

Tiger spring weer vinnig uit en sluit die ou waenhuis oop. Stone fluit deur sy tande toe hy na die staalkiste voor hom kyk. Hier is genoeg wapens om nog ’n Anglo-Boereoorlog mee te begin.

“Moenie uitgevreet raak nie, soldier. Vat net wat jy nodig het,” hoor Stone die oudsoldaat se stem agter hom. Hy vat net die nodigste. Klink soos Mission Impossible.

Sy volgende stop is meer bekend, maar hy frons effens nadenkend toe hy voor die dubbelverdiepinggastehuis stilhou. Dit is skuins oorkant Hilton Meintjies se massiewe huis.

Die outomatiese hekke van die gastehuis met sy hoë sekuriteits­heinings skuif geruisloos oop. Hy wonder meteens of die kort vroutjie wat ’n bietjie oorborrel van vriendelikheid ook lid is van die majoor se spannetjie.

“Olga,” het sy haarself laggend voorgestel. Sy moes gesien het hoe hy frons toe hy die verblyfregister teken. Hy is dan die enigste gas in hierdie plek.

“Ons het maar sopas oopgemaak. so jy is ons eerste gas,” het sy weer laggend verskoning gemaak.

Dis moontlik bedoel om hom minder agterdogtig te maak, want hy kan nie onthou dat hier ’n gastehuis so na aan Hilton Meintjies se huis was nie. Hy onderdruk met moeite sy opgewondenheid toe hy na die groot dubbelbed kyk.

Lekker groot kooi, maar dit sal moet wag. Ek het lank genoeg gelê en my eie wonde gelek.

Stone trek die gordyn op ’n skrefie oop. Van hier het hy ’n goeie uitsig oor Hilton Meintjies se huis.

Hy ken elke hoek en gangetjie in daardie huis, maar dit sal nie maklik wees om daar in te kom nie.

Stone frons verward toe ’n verkeersmotor voor Meintjies se huis stilhou. “Slaan my met ’n pap snoek dood,” is ál wat oor sy lippe kom. “Giep Basson. Vet Giep … Wat soek hy hier?”

Sy gedagtes is in ’n warboel. Dit is die einste Giep met wie sy Sharon op die eerste geleentheid in die kooi gespring het nadat sy hul verlowing verbreek het.

Giep Basson met sy hangpens, die Weskus se slapgat trafic cop, is nie lank binne nie, maar hy lyk skielik anders. Sy hempsknope is afgeruk en daar is bloed aan sy mond.

Stone druk die verkyker effens stywer teen sy oë. Daai ou het sopas ’n goeie opdonner daarbinne gehad.

Arme ou Giepie, wat reeds vanaf hul hoërskooldae ’n ogie op Sharon gehad het, moes seker op Hilton Meintjies se payroll kom om haar te kan onderhou.

Die traffic-kar trek stadig weg. Stone loer nog ’n oomblik oor Hilton Meintjies se woning, maar steeds is niemand in sig nie.

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters