Verlede maand
Pokken Booze doen wat hy die heel beste doen
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Wel, wel, wel! Praat nou van ’n twist. En hier praat ons nie van ’n Lemon Twist nie! Skylar sê vir Bennie sy ken net die regte ou om hom te help om Rufus en sy manskappe aan te vat. En dit is niemand anders nie as die elusive Pokken Booze, wat jare gelede ’n laksman onder die gangsters was. Maar sal hy Bennie help? Geniet nou die slothoofstuk van EL­DRIDGE JASON se “Wraak”.

BENNIE het nie woorde nie.

Hy sit in die F-Pace saam met Skylar voor ’n wendy waarheen hulle gery het.

Volgens haar bly Pokken Booze hier. Die einste legendariese Pokken Booze,­ wat jare gelede net van die aardbol verdwyn het.

En as sy geheue hom nie in die steek laat nie, was dit juis kort nadat Booze Die Organisasie se bedrywighede ’n gevoelige slag toegedien het.

Rufus het vir jare gesweer hy gaan Pokken Booze gelyk vee met die aarde en hy wat Bennie is, is aangestel om Booze op te spoor.

Maar met ál die suksesse wat hy oor die jare behaal het deur mense te track, kon hy Pokken Booze eenvoudig nie met of sonder ’n tracksuit aan opspoor nie – net om nou te hoor een van die mees legendariese kastyders van die onderwêreldse dikdinge, bly nie ver van Skylar nie.

Nou hoe is dié vir ’n coincidence? Hy draai na Skylar.

“Is jy seker van jou saak? Pokken Booze? Ons praat hier van blerrie effen Pokken Booze – die man wat die Kaapse gangster-base soos girls laat gil het … en hy bly hier in Saldanha?”

Skylar lag. “Ek het ook maar voordat ek Kaap toe is, uitgevind wie hy rêrig is. Altyd hom in of uit by ’n liquor store sien kom en net geweet die man hou van drink. Hy het eendag toe hy lekker ge­tjwala was, sy verlede teenoor my uitgepak. Maar kom sien self as jy my nie glo nie.”

Skylar klim uit en Bennie volg haar voorbeeld. Sy maak met baie selfvertroue die hekkie oop en by die wendy se voordeur maak sy dit net oop en stap binne. Bennie talm vir ’n oomblik by die voordeur.

“Jirre, Pokken,” hoor hy Skylar se stem van binne na hom aangesweef kom. “Dis nog vroeg, maar jy suip reeds.”

Hy hoor ’n manstem iets brom, maar kan nie uitmaak wat hy sê nie. Bennie maak plak vas en stap die wendy binne. In wat soos ’n sitkamer lyk, loop hy hom byna in ’n man vas. Hy herken die man.

Dis waar, dink hy in ongeloof. Dis Pokken, sowaar. Pokken frons toe hy Bennie herken, skiet na vore en voordat die oorblufte Bennie kan reageer, kry Pokken hom aan die keel beet. Skylar gil. Bennie voel hoe die suurstof sy longe soos ’n vuil uil verlaat.

“Wh ... wh … whoa,” prewel hy. “Hou … jy … vir … jou … dja …”

Pokken verslap so vinnig sy greep dat Bennie amper sy balans verloor. Hy vryf dadelik oor sy keel waar hy oortuig is merke van Pokken se skurwe hande moet lê. Pokken swaai om en gluur Skylar aan.

“Het jy Kaap toe gegaan om my te kom verraai?” sis hy. Bennie maak ’n paar keer keel skoon.

“Dis ek wat jou hulp nodig het,” sê hy toe hy weer sy stem kan vertrou. Lugtig dat Pokken hom weer aan die keel kan beetkry, vertel hy vinnig van die penarie waarin Skylar haar bevind. Bennie is nog besig om uit te pak, toe Pokken omswaai, tot by die tafel loop en die inhoud van ’n glas in sy keelgat afgooi. Dan draai hy hom sonder ’n woord om en stap na sy slaapkamer.

Bennie hoor hoe kaste leeggemaak word. Dan hoor hy hoe ’n vuurwapen gecock word. Skylar loer grootoog na hom.

Bennie is spyt dat hy nie ge­wapen is nie, maar voordat hy nog aan selfverdedigingsakkeltjies kan dink, staan Pokken weer voor hom.

“Moet ek jou ’n invite met ’n posduif stuur?” blaf hy.

“Ek is al lankal lus vir Rufus met die ou gevreet. Kom ons ry voordat ek my mind change.”

Pokken skuur verby ’n stomgeslane Bennie en stap die wendy uit.

“Die ou is nie lekker in sy kop nie,” prewel hy verdwaas.

“Wel,” antwoord Skylar. “Jy het ’n ou gesoek wat lus is vir oorlog, en nou het jy een.”

Toe Bennie in die kar klim, kyk Pokken hom vierkant in die oë.

“Ek sal verkies dat jy ry asof die duiwel jou drankwinkel toe gejaag het voordat dit toekap. Ek smaak al jare vir wraak. Moet my asseblief nie ’n sekonde langer laat wag nie.”

Bennie skakel die kar aan en is stilweg dankbaar dat sy naam nie Rufus is nie ...

Toe hulle bietjie meer as ’n uur later voor Rufus se huis stilhou, gee Pokken hom skaars kans om die kar af te skakel. Hy vlieg uit die kar en Bennie sit versteen en kyk hoe Pokken die twee wagte by die hek effortlessly buite aksie stel – so asof hy net besig is om vir hom ’n snoek-parcel te bestel.

Dan vloei die bloed terug na sy bene. Hy spring uit die kar en stap haastig agterna.

Sy ore tuit soos wat die een ná die ander skoot deur die erf weergalm. Pokken is op ’n spoed soos iemand wat nog glo die Olimpiese Spele is steeds aan.

Bennie moet koes toe ’n koeël verby sy kop vlieg, maar dan sien hy hoe die skieter ook inmekaarsak, met Pokken wat reguit in die gang af loop waar Rufus se kantoor is. Drie skote weergalm deur die huis.

Toe Bennie in die gang af loop, kry hy Voksie Mulder daar lê.

Mulder se oë is so asvaal soos ’n man wat lanklaas gepay het. Toe Bennie in die studeerkamer kom, sien hy Pokken wat half gebukkend oor Rufus staan.

Die vrees sit kaalstert in Rufus se oë.

Sy normale arrogansie het die pad gevat. Hy kyk smekend na Bennie toe hy hom gewaar.

“Ons kan dié ding uitpraat. Violence is nie die antwoord nie. Ek het geld ...”

Toe blaf die 9 mil in Pokken Booze se hand. Twee, drie maal. Rufus sug en val agteroor.

Pokken blaas sy asem hard uit, druk die pistool voor by sy broek in en stap dan met afgemete treë op Rufus se drankkabinet af. Hy skink vir hom ’n stywe dop whiskey en sluk dit in een teug af.

“Moet ons nie maak dat ons wegkom nie?” vra Bennie en trippel ongemaklik rond. Hy is seker iemand het al die cops gebel.

Pokken Booze swaai om en gluur hom aan. “Ek het nie geweet jy kan dink nie,” antwoord hy kil en gooi vir hom nóg ’n shot.

“Moenie dink ek weet nie dat jy hierdie ding se vuil werk altyd vir hom gedoen het nie. Ek het nog ’n paar spare bullets, you know.”

“Ek is al jare uit die game,” antwoord Bennie. “Ek sou seker nog met Rufus gepraat het en nie in ’n haas wees soos jy nie, maar ek sou dieselfde gedoen het.”

Pokken snork hard deur sy neus en sluk sy dop weg.

“Laat ons dan maak dat ons wegkom. Ek het drank by die huis wat vir my wag.”

Bennie skud sy kop en volg Pokken dan.

Hy moet tog onthou om nooit swaarde te kruis met ’n man wat lanklaas wraak geproe het nie ...

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters