Verlede maand
Plig is belangriker as hul vrese, kliek die geskokte cops
Oom Sonnie  ~ 

GENIET vandag hoofstuk 2 van nog ’n verhaal deur die ou hand SALMON SMITH. Hy roep hom “Die Vreemde Klong”.

SERS. Wicus Bruwer staar na die plek waar hy nog sekondes tevore die klein seuntjie in die pad gesien staan het. Daar is nou geen teken van die klong nie.

“Seun?!” roep hy. Hy fynkam die gebied rondom die flou ligkol van die patrollievoertuig.

Hy hardloop terug en haal sy flits uit die paneelkissie.

Hy swaai die flitslig na die donker bosse aan weerskante van die pad. Die lig gooi spookagtige skaduwees tussen die bome.

’n Rilling gaan agter Bruwer se rug af. “Seuntjie?! Hallo, waar’s jy?!” roep hy weer benoud uit.

Die wind begin ál sterker waai. Hy tuur in die lug op en sien dat die donker wolke nou die hele hemelruim bedek.

Hy kan dit nie verstaan nie. Minute voordat hy oor die kloof ingery het, was die hemelruim nog oop en die helder Melkweg duidelik sigbaar. Nou is dit skielik bedek met donker wolke.

Hy onthou hy het so ’n kwartier tevore donderweer gehoor. Hy het selfs ’n weerligstraal gesien.

Hy het gedog hy het hom verbeel, want die sterre het die hele hemelruim vol helder geskitter.

Weer hardloop ’n ysige gevoel agter sy rug af.

Hy swaai vir oulaas die flitslig tussen die bomme deur.

’n Snaakse suisgeluid laat hom opkyk – net betyds om te sien hoe die sluise van die hemel ooptrek en die reën in vlae op die aarde neerstort.

Bruwer mol vir die patrollievoertuig. Hy spring in, sit die ding in rat en trek vinnig weg. Hy wou net vlugtig in die truspieël loer, maar die beeld in die spieël vang sy oë vas. Grootoog staar hy in die spieël na die pad agter hom. Dit voel asof sy bloed stol …

Agter die voertuig, in die donker pad, sien hy die spookagtige klein seuntjie. Dié staar hom met sulke hol en donker oogkasse agterna. ’n Wasige lig omring hom. Sers. Bruwer sit voet in die hoek.

Minute later storm Bruwer, spierwit in die gesig en met oë soos pierings, by die aanklagkantoor in.

Adj. Leon Geswindt en sers. Salmon Parring is besig om Uno te speel. Hulle ruk soos hulle skrik.

Geswindt spring onmiddellik op. “Wat de donner! Bruwer, dit lyk of jy ’n spook gesien het. Jy lyk dan nou glad witter as jouself!”

Bruwer kom voor die toonbank tot stilstand. Hy is die ene bewerasies. “Adjudant, ja, e-ek sweer e-ek het nou ’n spook gesien!” stotter hy vreesbevange.

Geswindt se oë rek groot. (Hy is self ’n bygelowige mannetjie.)

“W-wat sê jy nou daar?! Waar?!” uiter hy.

Bruwer beduie by die deur uit. “D-daar op die bospad daar in D-Duiwelskloof, Adjudant! E-ek … o, Jarra, ek’t my amper bek*k!”

“Adjudant, ek dink Bruwer makeer suikerwater. Kyk hoe bewe hy van skok,” sê sers. Parring, baie simpatiek.

LATER staan die hele skof van ses lede grootoog rondom sers. Bruwer terwyl hy vertel van sy ordeal in Duiwelskloof.

“ … en toe ek wegry, toe sien ek daai klong duidelik in my tru-spieël. Waar sy oë moet wees, is sulke donker gate en dit het gelyk asof hy skyn,” sluit hy sy relaas af.

’n Doodse stilte daal in die aanklagkantoor neer. Elkeen is besig met sy eie gedagtes. Hulle probeer sin maak van Bruwer se vertellings, asook oor die skielike donderstorm wat hul dorp so ’n halfuur tevore getref het en steeds voortwoed.

“Dit smaak my vanaand gebeur hier snaakse goed met ons dorp,” onderbreek Geswindt die stilte. “Die een oomblik was die hemel nog wolkloos en vol sterre en die next oomblik toe weergalm die knal van weerlig deur ons dorp.

“Toe, ewe skielik, steek die wind op en die wolke pak saam. En nou reent dit honde en katte! En dan spook dit ook nog boonop daar in Duiwelskloof.”

Weer daal ’n stilte in die kantoor neer terwyl al die polisielede diep nadink oor die gebeure.

Skielik maak sers. Parring hard keel skoon.

“Askiestog, Adjudant?”

Almal se kop swaai in sy rigting.

“H’m … Ek dink aan wat sers. Bruwer gesê het oor daai … h’m … spook-klonkie,” stamel hy. “Dalk is dit ’n regte klong wat in die kloof verdwaal geraak het. Dink u nie ons moet dalk na hom gaan soek en-”

“Hei, is jy mal!” val Bruwer hom bruusk in die rede.

Geswindt hou sy hand in die lug. “Honou, Bruwer, laat Parring klaar praat!”

“Dankie, Adjudant,” sê Parring. Hy wissel vinnig ’n blik met Bruwer. “Ek meen, ons sal nooit weet as ons nie self in Duiwelskloof gaan soek vir daai klong nie,” gaan hy voort. “Ek meen, ons is polisielede. Dis ons plig om verlore kinders te soek.”

“Maar, Parring, niemand hier in Rustenville het vanmiddag of vanaand enige kind missing kom report nie,” sê Geswindt.

“Dalk weet die ouers nie eens hul kind is weg nie. Hulle lê seker nog en tiep. Adjudant weet mos hoe gaan dit hier in Rustenville,” kap Parring terug.

Geswindt krap sy ken terwyl hy diep oor die saak nadink.

“Ja, jy’s nogal reg, Parring,” sê hy skielik en kyk na Bruwer, wat hom met groot oë aanstaar.

“Ha-a, ek gaan nêrens saam met julle na dáái kind soek nie! Ek weet wat ek in Duiwelskloof gesien het. En dit was ’n spooklaitie!” maak Bruwer vinnig kapsie.

“Oukei, dan bly jy en konst. Abel hier by die charge office. Ek en die ander drie gaan daardie bosse fynkam vir daai laitie,” besluit adjudant Geswindt toe.

Bruwer sug hoorbaar. “J-julle moet versigtig wees, Adjudant.”

Nadat Bruwer hulle die presiese ligging gegee het van waar hy die laitie gesien het, val die vier polisiemanne, gewapen met sterk soekligte, in die pad.

DIS net ná een in die oggend toe ’n helse rumoer op haar werf Lena Karbonkel uit haar diep slaap wek.

Voor haar slaapkamervenster gaan Pluto histeries te kere. Hy blaf en tjank gelyk.

Lena wip uit die kooi terwyl sy die slaap uit haar oë vee. Sy loer versigtig uit. “Wat is dit, Pluto?” vra sy dringend.

Toe Pluto haar sien, gaan hy éérs te kere. Hy blaf na die voordeur se kant toe. Met ’n skok besef Lena daar is ’n indringer in haar jaart.

Sy gaan loer versigtig deur die voorhuisvenster. Haar hart mis ’n beat toe sy die kind in die gietende reën voor haar deur opmerk.

“Wat de hel!” gil sy. Sy sluit die voordeur vinnig oop en loer uit. Sy sien net die seuntjie, niemand anders nie. Sy skat hom so agt of nege jaar oud.

“Haai, jitte boetie, waar dwaal jy so in die reent rond?! Kom in!”

Toe hy in haar voorhuis voor haar staan en sy hom reg bekyk, val haar mond oop van skok.

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters