22 dae gelede
Perdjie besluit om sommer dadelik met Bianca te deal
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Gebeure Rondom ’n Hofuitspraak” is CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk. Lees gerus nou die slothoofstuk!

PERDJIE de Ridder uiter ’n string vloekwoorde.Woede stoot in hom op. As hy nóú vir Bianca in die hande kry...

Hy haat lastige mense. Hy laat hom deur niemand hiet en gebied nie.

As Bianca van Eck nie haar plek ken nie, sal hy sorg dat sy ’n les geleer word. Hy hoef net die opdrag te gee en die job is gedoen.

Niemand sal vinger na hom kan wys nie, want hy sal sy spore doodvee. Bianca mors nou met die verkeerde persoon.

Sy verbintenis met Clayton Bonthuys het niks met haar of enige iemand anders uit te waai nie. Vir wat karring die vroumens so?

Hy sal niks daarvan dink om groot geld te betaal om Bianca se bek stil te kry nie. Hoe gouer, hoe beter. Anders word sy later ’n pyn in die gat. Dan neem hy ’n impulsiewe besluit.

Hy skakel ’n nommer, wag vir die persoon aan die ander kant om te antwoord.

“Homeboy, ek het ’n job vir jou. Iemand wat jy moet uithaal.”

“Kan nie nou praat nie,” kom die reply. “SMS die details. Soos altyd, sal ek dit delete sodra ek dit gelees het.”

Perdjie huiwer geen oomblik nie. Hy stuur die SMS.

Doen dit vanaand nog. Ek wil môre in die koerante daarvan lees.”

Perdjie lees nie graag koerant nie, maar môre sal hy moeite doen om te lees hoe Bianca aan haar einde gekom het. Hy sal hom daarin verlekker.

Hy is desperaat om van haar ontslae te raak. En wie anders as Roger, die een persoon wat hy met sy lewe vertrou, om die taak uit te voer?

Strike while the iron is hot, was nog altyd Perdjie se leuse. Hy skink nog whisky in sy glas en glimlag tevrede.

Geld is alles in Perdjie se lewe. Daarmee kan hy doen net wat hy wil, selfs iemand betaal om van ’n geitjie ontslae te raak.

Die lewe is wonderlik. Sy rykdom sal hy vir niks op aarde verruil nie ...

BIANCA is glad nie verbaas toe Perdjie nie weer sy foon beantwoord nie.

Sy wou dit nie glo nie, maar sy weet nou vir ’n feit hy het iets om weg te steek. Wat dit is, sal sy wel uitvind. Daarvan kan hy seker wees.

Dit blyk daar steek waarheid in die gerugte oor Perdjie se beweerde betrokkenheid by dwelms.

Besef hy nie hy maak dinge net erger vir homself deur haar oproepe te ignoreer nie?

Sy gaan krap totdat sy op iets afkom. Bianca som vir Perdjie op as iemand wat niks toelaat om in sy pad te staan nie, iemand wat altyd sy sin kry en nie bevele van ander vat nie.

Hy maak ’n fout as hy dink sy gaan so maklik tou opgooi.

As hy dan nie telefonies met haar wil kommunikeer nie, sal sy hom by sy huis gaan opsoek.

Haar gedagtes word onderbreek deur ’n oproep van boeta Solly.

“Bianca, ek soek jou oor tien minute in die conference­ room. Daar is iets belangriks waaroor ons moet praat.”

Net dit, toe druk hy die foon dood. Sy frons. Hoe werk boeta Solly se kop vandag?

ANDRIES Boggelblaar se voordeurklokkie lui. Toe hy oopmaak, is hy verbaas om Wimpie Windmeul daar te sien staan.

Hoekom lyk die speurder so bekommerd? Is die ondersoek na Julia se moordenaars besig om te ontspoor?

“Kaptein Windmeul, ek neem aan dié is nie ’n social visit nie?” sê-vra Andries.

“Julle overworked and underpaid polisiemanne werk mos soos slawe in die nuwe Suid-Afrika.”

“Andries, ek het nie tyd vir grappies nie. Jy moet saam met my kom. Solomon Sauls wil ons sien.”

“Wie?”

“Boeta Solly, man. Die redakteur van Snuffel.”

“Kaptein, wil jy vir my sê julle maak nou op die koerante staat om jul werk te doen? Dis nou ’n skande. Waarheen is ons land op pad?”

“Kom jy saam of nie? Ek het nie heeldag tyd nie.”

“Oukei, oukei, laat ek net gou toesluit.

DIE atmosfeer in die conference room is gespanne. Almal kyk onderlangs na die onbekende man met die donkerbril en swart hoed op in die verste hoek.

Boeta Solly breek die ys en verwys na die vreemdeling as Persoon X.

“Ons mag nie sy identiteit bekend maak nie.

“Dit sal regdeur die hofsaak ’n geheim bly.

“Soos die saak aangaan, sal nog getuies na vore tree. Persoon X het my uit sy eie genader en besluit om sy hart uit te praat.

“Hy is ’n sleutelgetuie en beskik oor inligting wat Perdjie de Ridder vir baie lank tronk toe gaan pos.”

Boeta Solly vat ’n slukkie water.

“Terwyl Persoon X by my gesit het, het hy ’n opdrag van Perdjie gekry om vir Bianca dood te maak.”

Bianca trek haar asem skerp in.

“Jy hoef oor niks te worry nie. Alles is onder beheer,” stel boeta Solly haar gerus.

“Persoon X het verander vandat hy onlangs sy hart vir die Here gegee het. Hy gaan ’n staatsgetuie word.

“Kaptein Windmeul het klaar reëlings getref vir polisiebeskerming. Reg so, Kaptein?”

Windmeul knik bevestigend.

“Ons gaan nou vir Persoon X kans gee om te praat. Hy het toestemming gegee dat ons die gesprek mag opneem.

“Ek wil versoek dat niemand hom moet onderbreek nie.

“Die man het berou oor sy verkeerde dade ...”

DIE volgende oggend kan Perdjie nie wag om van Bianca se dood te lees nie. Hy besluit om dit sommer aanlyn te doen.

Tot sy verbasing is daar niks daaroor op Snuffel se webblad nie – wel ’n berig wat hom erg ontstel, geskryf deur Bianca van Eck.

Perdjie se naam word nie genoem nie, maar hy weet onmiddellik die “vermeende dwelmbaas” na wie daar verwys word, is niemand anders as hy nie.

Hy verstaan dit nie. Het Roger hom sowaar verraai? Hoekom sou hy so iets doen?

Hy lees die hele berig. Dis die een skokbewering op die ander.

Hy kry byna ’n hartaanval toe hy lees: “Dit het ook aan die lig gekom dat die bekende rugbyspeler Clayton Bonthuys en die vermeende dwelmbaas nie net goeie vriende was nie, maar lovers ...

Hy besef hy moet vlug. Hy het genoeg geld om hom op enige ander plek te gaan vestig.

Wat Perdjie nié besef nie, is dat kaptein Windmeul die dag tevore reeds gereël het dat sy huis dopgehou word. Dit was te wagte dat hy op die vlug sou slaan.

Die dwelmbaas kry nie kans om weg te kom nie. Toe hy sy voordeur oopsluit, loop hy hom vas in die polisie en word in hegtenis geneem.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters