24 dae gelede
Peet vervies hom toe Dick van die ou tannie vertel
 ~ 

DIÉ week skop af met splinternuwe leesstof deur NICOLETTE FOULDIEN. Sy noem haar verhaal “Vloek”. Geniet gerus hoofstuk 1.

DIE tienverdieping-gebou kyk uit oor die Kaap se westelike voorstede en die diep blou see.

Tafelberg lê snoesig in sy mistige wolkombers toegevou.

Peet Venter strek hom uit en draai sy indrukwekkende kantoorstoel na die venster sodat hy die uitsig in ál sy glorie kan gade slaan.

Sy oë dwaal oor die geboue. Die Lilian-gebou, wat hy na sy moeder vernoem het, troon bo die ander uit. Dit huisves verskeie prokureursfirmas.

’n Paar meter verder blink die Venter-woonstelle soos ’n gepoleerde diamant. Modern en slegs vir uitgesoekte, stinkryk oorsese gaste wat privaat verblyf soek.

Net oorkant dit paradeer die Kelsey Hotel. Vernoem na sy vierde bruid. Die jong, wulpse Kelsey, wat twee keer so jonk soos hy is, is ’n ambisieuse sakevrou. Geen mens sal sê sy kom uit een van die Kaap se armste voorstede nie.

Die Kelsey Hotel huisves verskeie boetieks en skoonheidshuise – Kelsey se eie reeks produkte.

Hierdie jong vroutjie van Peet is ’n miljoenêr in eie reg. Nie so lamlendig en uitgevreet soos sy vorige drie vroue nie. Hy is trots op haar.

’n Klop aan die deur vee die tevrede glimlag van sy gesig.

Sy werkgewers ken hom as ’n ongenaakbare sakeman en werk­gewer. Hulle sal hom nooit sien glimlag nie.

Hy swaai sy stoel terug na die lessenaar voordat hy die knoppie druk wat die deur laat oopklik.

“Goeiedag, Meneer ...”

Dick Smit hou die lêer in sy hand na Peet uit en wag eers vir die teken voordat hy aan die ander kant van die lessenaar plaasneem.

Peet kyk net vlugtig na die lêer, maar maak dit nie oop nie.

“Praat!” Hy loer na die duur Rolex om sy arm. “Jy het 10 minute. Ek het ’n vergadering.”

Dick knik vinnig. “Dis ’n mooi stuk grond, Meneer. Sowat 100 hektaar. Hope fynbos, grasgroen en volop dierelewe. Daar loop ’n rivier wat volgens die dorp se inwoners nog nooit, nie eens tydens die onlangse droogte, opgedroog het nie.

“Daar is selfs ’n waterval wat uit die berg vloei. Dis baie beslis die ideale plek vir ’n vakansieoord.

“Meneer se oorsese gaste sal gek wees na die plek.”

Peet knik en vou sy vingers in mekaar. Dis presies wat hy wou hoor en dit stem ooreen met wat hy uit die lug gesien het met die vorige helikopter-rit.

Hy is moeg van die stad. Daar is geen opwinding meer daarin om eiendomme te koop en te ontwikkel tot reuse-spoggeboue nie.

Hy is gatvol van sukkel met domonnosele werknemers, bouers, agente, prokureurs, firmas en kliënte. Hy wil uitbrei na die platteland.

Die ontwikkeling van ’n luukse vakansieoord behoort rustiger te wees. Op sy ouderdom smag hy nie meer na te veel opwinding nie.

Ná 30 jaar in die bedryf het hy sy fair share van bedrog, oneerlikheid en tirannie gehad.

Hy weet wie hy is en dis nie meer nodig om homself te bewys nie. Die sakelui vrees hom.

“Nou toe, Dick, waarvoor wag jy? Kry die wiele aan die rol.”

“Ja, Meneer, maar daar is nog een iets, Meneer.”

“Wat, Dick?” Die ergernis maak dat ’n frons op Peet se voorkop verskyn. “Ek het gesê jy’t 10 minute!”

“Ja, Meneer; ‘skies, Meneer.”

Peet lig sy hand om te beduie Dick moet klaar praat.

“Daar is ’n ou tannie, Meneer. Sy woon op die oewer van die rivier.

“Die inwoners van die dorp sê sy is horingoud en bly daar al vandat hulle kan onthou. Sy’s glo ’n afstammeling van die Khoi-stam wat eeue gelede in die gebied gewoon het.”

Peet sug. “Nou wat is die probleem, Dick?”

“Die tannie weier om te trek, Meneer! Sy sê die grond behoort aan haar, maar die plaaslike munisipaliteit het niks op rekord nie. Dis regeringsgrond, Meneer.”

“Dick, ek sien geen probleem nie. Kry haar van daai grond af!

“Dit traak my nie hoe nie en jy bemoei my nie weer met sulke onnodige goed nie! Toe, loop nou!”

“Ja, Meneer ... ‘skies, Meneer ...” stamel Dick verleë en skarrel by die deur uit.

Peet sug. Dis een van die redes hoekom hy hier wil wegkom – dom mense frustreer hom.

Hy het genoeg van hulle gehad. Dis tyd dat hy die leisels aan Luke oorgee. Luke is sy enige kind uit sy eerste huwelik.

Hy werk nou al vyf jaar saam met sy pa en is bekwaam genoeg om oor te neem. Hy moet trots erken die appel val nie ver van die boom nie. Luke aard na hom. Hy het niks van die temerige, sieklike Elna geërf nie.

Hy het nie eens geworry toe Elna ’n oordosis pille sluk en die tydelike met die ewige verwissel nie.

Gelukkig was Doreen toe alreeds vir twee jaar sy minnares en kon sy na die negejarige Luke omsien.

Hy mis nogal soms vir Doreen. Sy was ’n goeie stiefma en vrou voordat sy begin drink het.

Hy het dit aan die begin verdra. Gedink sy is net verveeld, maar toe begin sy ’n verleentheid word. Veral tydens funksies waar sy haar beste voetjie moes voorsit. Hy sal nooit die skande vergeet toe sy vir dronkbestuur gevang is nie. Die koerante het mal gegaan. Hy moes sy reputasie beskerm.

Gelukkig het niemand vrae gevra toe Doreen se motor in Gordonsbaai in die see stort nie. Dronkbestuur is ’n lelike ding.

Toe ontmoet hy Lea. Voormalige skoonheidskoningin. Mooi soos ’n engel, maar gierig soos die hel.

Al wat sy heeldag wou doen, was koop, koop en koop. Klere, skoene, grimering!

Daar was later nie meer plek vir al haar goed nie. Hy het maandeliks geld in haar persoonlike rekening betaal, maar dit was leeg nog voordat ’n week om was.

Hy kon nie verstaan hoe sy sulke groot bedrae kon spandeer en waarop nie. Totdat die privaat speurder hom van Lea se dobbelverslawing ingelig het.

Dobbel en dwelms gaan gewoonlik hand aan hand. Peet se vriend in die onderwêreld was maar alte bly vir die job. Dit was nogal hartseer om die mooie Lea se lyk in die vuil stegie te sien lê.

Oordosis heroïen. Die skinderkoerante het mal gegaan en daar was allerhande bespiegelings.

Niemand kon egter iets bewys nadat hy sy derde vrou op ’n tragiese manier verloor het nie.

Hy was soos gewoonlik die hartseer, gebroke eggenoot wat sukkel om die tragedie te verstaan, maar met sy lewe moes aangaan.

Honderde mense is op sy payroll. Hulle maak staat op hom en hy kan nie sommer so gaan lê nie.

Soos gewoonlik kry koerante gou iets anders om oor te skinder. Hy is min gepla.

Die hoogste bome vang die meeste wind. Peet kom orent en haal die nodige lêers uit sy liasseerkabinet.

Hy skink eers ’n dop whisky en sluk dit met een teug weg voordat hy, lêer onder die arm, die lig afskakel en sy kantoordeur sluit.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters