22 dae gelede
Peet vang slange toe Dick nie doen wat hy moet nie
 ~ 

DIÉ week se lekker storie kom uit die pen van NICOLETTE FOULDIEN. Sy noem haar verhaal “Vloek”. Geniet nou hoofstuk 3.

DICK Smit maak eers doodseker daar is geen siel in sig nie voordat hy die kookskerm betree.

Die reuk van rou vis en bloed hang swaar in die lug. Hy sien die vars stukke biltong aan ’n haak hang en sluk teen die naarheid wat in sy keel opdam. Kole gloei nog warm in die herd, wat met rivierklip en klei gebou is.

Hy verkyk hom aan die netjiese bouwerk en wonder wie dit gedoen het. Dit spreek van goeie vakmanskap. Vir seker nie die antie nie.

Soos hy verneem, het sy geen kinders of nabye familie nie. Hy kyk rond. Die hele skerm is van klip en klei en dis ongeveer ’n meter hoog gebou.

Daarvandaan is dit met stokke en strooiagtige klei-materiaal tot dakhoogte gebou. Die dak bestaan uit stokke en riete.

Dit skakel mooi in met die omgewing.

As hulle die plek koop, moet hy Peet oortuig om dieselfde tipe boustyl en soortgelyke materiaal te gebruik. Dis iets besonders.

Die res van die vertrek bestaan uit meubels wat uit klip gebou is. ’n Groot plat rots dien as tafel.

Dié vertrek moes hulle rondom die klip gebou het, want geen mens sou dit kon skuif nie.

Die sitplekke is groot houtblokke. So ook die kapblok vol bloedkolle wat langs die herd staan.

In die een hoek lê ’n bondel vuurmaakhout.

Uit die rietdak hang hake waaraan swart gebrande kastrolle en houers hang. Ook waskomme en houers wat sy waarskynlik vir slagdoeleindes gebruik.

Die biltong en visse hang hoog. Buite die bereik van nagdiere wat dalk wil kom aas.

Die antie moet seker op iets staan om dit te hang, want sy is kort van postuur. Hy moet toegee, die antie se plek is eenvoudig maar prakties.

Dick voel meteens of hy oortree en loop haastig na buite.

Hy haal diep asem. Alles is nog doodstil en daar is geen teken van die antie nie.

Hy vries in sy spore toe ’n onheilspellende gegrom agter hom opklink.

Sy hart klop in sy keel en angssweet slaan oor sy hele lyf uit. Hy draai stadig om. Die hond staan in die middel van die skerm. Sy tande is kaal en kwyl drup vanuit sy oopgesperde kake.

Hy wieg grommend op sy pote. Dick wil skree en hardloop, maar sy hele lyf is verlam. Dis net sy brein wat oortyd werk.

Hy besef iets is groot fout. Dit moet sy verbeelding wees wat met hom op loop gaan, want hy kan sweer die hond was nie daar nie.

Daar is nie wegkruipplek in die skerm nie!

Om in te kom, moes die hond verby hom gekom het en hy het nie! Maar nou is daar nie tyd om hieroor te redeneer nie.

Die groot swart gedrog kom dreigend nader. Die oë is twee woedende donker gate!

Dick hoor homself skree. Hy is weer sewe jaar oud. Hy tree agteruit en val op sy sitvlak toe iets hom pootjie.

Hy hou sy hande beskermend oor sy keel toe die gedrog op hom afstorm.

Dick weet vandag is sy laaste dag op aarde. Hierdie dier is waarskynlik hondsdol.

Dick wieg heen en weer terwyl hy kermend pleit.

Hy staal hom teen die pyn en wag ... maar niks gebeur nie.

Bewend waag hy om sy oë oop te maak. Die antie staan voor hom. Klein en krom. Haar oë vraend. Hy kyk verward rond.

Maar hoe? Dit kan mos nie wees nie. Nêrens is ’n teken van die groot swart hond nie.

Die hoenders skrop steeds rustig op die werf rond. Die voëltjies fluit vrolik en ’n duif sit en koer op die strooidak.

Niks het hulle versteur nie, maar hy kan sweer ...

En die antie? Waar kom sy so skielik vandaan? Hy het haar nie hoor aankom nie en dis etlike meters van die rand van die bome tot by die skerm.

Al het die antie ook gehardloop, sou sy nooit die afstand so vinnig kon aflê nie.

Hy staan op en skud sy kop verbouereerd.

Hy verstaan nie. Die antie beweeg nie. Sy staan hom net doodstil en aankyk.

Asof dit nie genoeg is dat hy sopas sy naam met ’n plank geslaan het nie, laat sy hom nou nog meer ongemaklik voel. Hy wens hy het nooit hierheen gekom nie.

Hy wens hy het nooit vir Peet Venter leer ken nie, want dis alles sy verdomde skuld.

Hy het genoeg gehad van Peet se gierigheid.

Volgende keer kan hy self met die antie kom praat.

Hy wat Dick is, is klaar.

Hier sit hy nie weer sy voete nie. Sonder om sy teenwoordigheid te verduidelik draai hy om en kies koers na die Jeep.

Hy klim haastig in en trek met tollende wiele weg.

In sy truspieël sien hy die antie steeds net daar staan waar hy haar gelos het.

Sy is op dieselfde plek waar hy die groot swart hond gesien het voordat hy sy oë bang gesluit het.

PEET Venter se hand kom met ’n slag op die lessenaar blad neer.

“Waddehel, Dick! Hoe de bliksem kan jy nie doen waarvoor ek jou betaal nie?

“Jy was nog altyd ’n luisgat en gatkruiper, maar ten minste kon ek op jou staatmaak. Wat gaan aan?”

Dick skud sy kop en wend sy blik afwaarts. Hy kan dit nie verduur om in sy baas se woedende gesig te kyk nie. Hoe verduidelik hy iets wat hy self nie verstaan nie?

Vir die eerste keer vandat hy vir Peet Venter werk, is hy nie bang vir die man nie. Hoe kan hy wees? Iets veels ergers oorheers sy gemoed en vul hom met vrees.

Hy ril merkbaar toe die beeld van die wrede swart hond voor sy geestesoog opdoem.

Peet tier voort. “Wil jy my sê ’n blerrie ou antie wat al verby haar vervaldatum is, sit jou ore aan?”

Peet staan langs Dick en buig na hom af.

Hy neem Dick se ken stewig in sy handpalm. Sy vingers boor pynlik in Dick se wange. Sy oë spoeg vuur.

“Môreoggend gaan jy terug daarheen. Ek gaan nou skakel met Springbokkloof se burgemeester, John Douries.

“Hy sal saam met jou gaan en toesien dat jy jou verdomde werk reg doen.

“Nooit gedink die dag sal kom dat ek vir jou ’n blerrie bodyguard moet huur nie! Jy’s pateties, man!”

Dick probeer wegdeins van Peet se drank-en-knoffelasem wat in sy gesig blaas.

Peet los Dick so vinnig dat sy stoel omval en hy op die grond beland.

Dick is vinnig op sy voete en maak haastig verskoning.

“Skies, Meneer ... Ek is jammer, Meneer … Dit sal nie weer–”

“Uit! Uit!” sis Peet deur sy tande. Dick skarrel haastig na die deur.

“En Dick,” keer Peet hom voordat hy die deur agter hom wil toetrek, “jy wys jou gesig nie weer hier voordat daardie grond op my naam is nie!”

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters