15 dae gelede
Peet se trawante kom al hoe meer bisarre goed oor
 ~ 

DIÉ week se lekker storie kom uit die pen van NICOLETTE FOULDIEN. Sy noem haar verhaal “Vloek”. Geniet nou hoofstuk 8.

DICK Smit skrik met ’n ruk wakker. Wat ’n slegte droom! Asof hy nou nie al net mooi genoeg gehad het van honde nie.

Die vreemde ondervinding daar by ou Mieta se plek spook nog heeltyd by hom. Om dit te vererger, droom hy nou ook nog van honde.

Dis om van siek te word. Hy sal by ’n dokter of iets moet uitkom. Hierdie vrees begin nou die oorhand oor hom kry.

Dit was nog altyd by hom; daarom het hy tot dusver gesorg dat hy nie naby honde kom nie.

Tot nou. Eintlik weet hy ook nie. Hy het nooit regtig die paar keer dat hy by Mieta se plek was, honde gesien nie.

Dick draai op sy ander sy. Hy probeer slaap.

Dan hoor hy dit ... Fyn tjankgeluidjies. Hy luister fyn.

Hy verbeel hom baie beslis nie. Dit kom vanuit die badkamer. Hy sit regop en staar na die badkamerdeur, wat wawyd oop staan.

Die maanlig skyn helder in die vertrek en hy kan ’n gedeelte van die bad, stort en wasbak sien, maar niks verder nie. Die getjank word ál dringender. Knaend. Soos ’n babahondjie wat na haar ma roep.

Hy sal die deur moet toemaak, maar hy bewe van vrees.

Dan hoor hy woedende gegrom iewers van buite.

Dick gryp na sy kussing en klem dit voor sy bors saam. Asof hy homself só sal kan beskerm.

Die kleintjie se gekerm word ál harder. Dis asof sy haar ma gehoor het. Dick dwing homself om op te staan. Voetjie vir voetjie stap hy tot by die badkamerdeur.

Agter hom word die gegrom ál erger. Dit klink asof die dier onder sy venster is. Toe hy by die deur is, gryp hy haastig na die handvatsel en klap die deur hard toe. Die slag donder deur die vertrek.

Hy staan bewend teen die toe badkamer deur aangeleun. Dan besef hy die groter dier is by sy voordeur en dit is nie gesluit nie! Hy hoor die voorpote teen die hout krap en die diep gegrom.

Hy probeer beweeg, maar hy kan nie. Sy bene is lam van vrees. Dan sien hy hoe die deurknop begin beweeg.

Die gekrap en gegrom word dringender. Toe die deur oopspat, duik Dick vorentoe. Die deur tref sy kop met ’n slag, maar hy slaag daarin om dit toe te druk voordat die berserkte dier kan inkom. Sy hande bewe, maar hy kry die slot op.

Dick sak lam teen die deur af terwyl die dier se kloue woedend daarteen kap. Hy kruip na die mini bar en stoot dit tot teen die deur.

Dan kruip hy na sy bed en gaan sit wiegend met die kussing oor sy kop getrek. Dit verdoof nie die geluide van die grommende dier buite sy deur en die kermende een in sy badkamer nie.

Die twee manne wat die volgende oggend aansit vir ontbyt, lyk oes.

Hulle sit in die gemeenskaplike eetkamer. Gelukkig is daar nie ander gaste nie. Nie een van die twee is honger nie en niemand vra vrae toe albei whisky vir ontbyt bestel nie.

Toe John hom later by hulle aansluit, lyk hy nog slegter. Die geselskap wil nie vlot nie, maar hulle het ernstige dinge om te bespreek. Niemand praat oor die vorige nag se gebeure nie.

PEET Venter gooi die foon terug op die mikkie. Hy het sopas met Luke gepraat en vir die eerste keer is hy regtig kwaad en teleurgesteld in sy seun.

Hy het verwag dat Luke en die dom Dick Smit vandag al op pad terug sal wees met die verdomde getekende papiere, maar nou moet hy hoor hulle het nóg tyd nodig.

Tyd vir wat? Wat de duiwel gaan regtig op Springbokkloof aan?

Lyk meer vir hom hulle is daar vir plesier en nie om hul job te doen nie, want hoe anders kan hulle nie ’n ou antie oortuig om afstand te doen van die simpele grond nie? Hoe moeilik kan dit wees?

Peet staan op vanuit sy imposante stoel en stap na sy drankkabinet.

Voordat hy na die bottel whisky reik, verander hy van plan en neem sy baadjie van die stoel. Hy dink hy moet ’n bietjie uit die kantoor kom. Sy dagboek is nie vol nie en die paar afsprake wat hy het, kan sy sekretaresse kanselleer. Hy het ’n break nodig.

Dis eers toe hy voor die casino stilhou dat hy besef waar hy is.

Hy kan nie verstaan hoekom hy hiernatoe gekom het en wat hy hier kom soek nie, maar op die oomblik voel dit net vir hom reg. Hy parkeer en klim uit.

Die atmosfeer voel verwelkomend toe hy deur die oopswaaideure stap en hy ontspan sommer dadelik.

Hy kan amper verstaan dat die mooie Lea, sy derde vrou, verslaaf kon raak aan dié plek.

Hy stap na die naaste kroegtoonbank. Hy bestel ’n dubbel-whisky en gaan maak hom tuis op een van die gemakstoele. Hy sluk die vloeistof dorstig af terwyl sy oë oor sy omgewing dwaal.

Die mense by die dobbelmasjiene en roulettetafels lyk almal so gelukkig en ontspanne.

Dis asof die casino ’n wêreld op sy eie is. ’n Wêreld waar jy kan vergeet van alles buite die luukse-skuifdeure. Hy wil ’n kelner vra vir ’n refill toe hy verbaas sien sy glas is reeds vol. Wow! Die diens is uitstekend!

Hy wens hy kan dieselfde van sy eie personeel sê.

Hy drink sy vierde dop toe hy haar sien. Die vrou by die dobbel­masjien lyk op ’n haar na sy mooie Lea. Hy skud sy kop. Dit moet die whisky wees. Hy het dalk te vinnig gedrink.

Dis asof die vrou aanvoel iemand kyk na haar en sy draai haar kop skuins. Hul oë ontmoet en hy voel sy hart bollemakiesie slaan. Die ooreenkoms is verstommend!

Sy knipoog vir hom en kyk dan weg. Peet sluk sy glas haastig leeg en staan op.

Hy drentel nader. By haar masjien gaan staan hy stil.

Tot sy verbasing is die stoel leeg. Die vrou moes opgestaan het toe hy weggekyk het. Hy gaan sit voor dieselfde masjien en begin speel.

Gou is sy aandag vasgevang. Hy begin ál meer verstaan hoekom Lea verslaaf geraak het aan dobbel.

Wonderbaarlik bly sy glas whisky vol. Hy sluk behaaglik aan die vog terwyl die spanning uit hom vloei. Vir die eerste keer in jare voel hy sorgeloos vry.

Hy voel oë op hom en kyk om. Lea se ewebeeld sit op ’n leunstoel naby die roulettetafels. Hy sien nou sy het ’n rooi rok met ’n lang spleet aan. Haar slanke been wieg op en neer. Uitnodigend. Dit trek hom soos ’n magneet.

Sy staan op en wink na hom voordat sy omdraai en na die rus­kamer stap. Hy volg haar gewillig.

Sy staan vooroor gebuig toe hy die deur oopstoot. ’n Gerolde noot in haar hand. Sy lyk sexy terwyl sy die wit poeier vanaf die tafelblad deur haar neus optrek.

  • Hy vou sy arm om haar middel en druk sy groeiende ereksie teen haar aan. Sy giggel en draai om. Haar bloedrooi lippe vou oop onder syne. Haar tong proe soet toe hy haar soen. Sy gly uit sy omhelsing. Hy buk om ook van die wit wonderstof te proe. Die hemel ontplof voor hom.Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters