Verlede maand
Paulus se pa was beslis nie wat hy voorgegee het nie
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Gebeure Rondom ’n Hofuitspraak is CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk. Geniet nou die tweede hoofstuk!

DIS baie weke later. Die saak wat almal aan die praat het – die staat teen Carol Bonthuys – begin darem nou einde se kant toe staan nadat dit wie weet hoeveel keer uitgestel is. Die publiek het sy misnoeë hieroor al in die sosiale media te kenne gegee. Veral op Facebook het dit gegons omdat die saak so sloer. Ook boeta Solly het die regstelsel sterk gekritiseer in een van sy weeklikse rubrieke.

Clayton Bonthuys was ’n bekende rugbyspeler, vandaar die groot belangstelling, selfs uit die buiteland. Almal wag in spanning om te sien watter uitspraak die regter gaan lewer. Gaan hy Carol Bonthuys skuldig bevind?

Vir almal betrokke by die saak is dit ’n baie stresvolle tyd. Carol Bonthuys en haar regsverteenwoordiger, Andries Boggelblaar, tel die dae af en tog wens hulle ook die saak kom nooit tot ’n einde nie. Die onsekerheid vreet aan albei. Wat gaan die regter besluit?

Intussen werk regter Paulus Kabamba se brein oortyd. Sodra hy wil afskakel, slaan dit oor na ’n hoër rat.

Die laaste tyd word hy ook erg deur hoofpyn geteister. Kopseerpille help nie juis nie. Vanaand is daar veral een iets wat hom hinder, iets wat hy nie kan verklaar nie. Waarom moet hy juis nou, minder as ’n week voor waarskynlik sy belangrikste hofuitspraak nog, aan sy pa dink? Het sy pa hom nie genoeg gebreinspoel terwyl hy nog geleef het nie? Moet sy pa vanuit die graf ook probeer om hom te intimideer? Sy pa is lankal dood en steeds worstel Paulus met ’n klomp onbeantwoorde vrae. Hy wonder hoekom sy pa so geheimsinnig was, hoekom hy nooit oop kaarte met hom gespeel het nie. Hy was nog op laerskool toe sy pa hom laat glo het ... Paulus raak sommer vies net as hy daaraan dink.

Paulus het oor baie dinge berou, veral die manier hoe hy, meestal weens sy pa, teenoor sy ma opgetree het. Die selfverwyt vreet steeds aan hom. Soms wens hy net vir ’n kans om dinge reg te stel. Dan besef hy weer hoe die spreekwoorde waarsku teen spyt wat te laat opdaag en dat daar geen keer is aan gedane sake nie.

“Vandag wil ek jou ’n les leer wat jy nooit moet vergeet nie,” onthou Paulus sy pa se woorde van meer as 40 jaar gelede. Dit was kort na sy 10de verjaarsdag. Tog voel dit nie so lank terug nie. Sy pa het daardie Dinsdag vroeër as gewoonlik uit die werk gekom. “In hierdie lewe is geen vrou ’n man se gelyke nie. Die laaste sê in ’n huwelik moet altyd aan ’n man behoort. ’n Vrou moenie toegelaat word om belangrike besluite te neem nie. Dis die man se plig.”

Toe gebruik sy pa Eva in die Bybel as voorbeeld. “Wees baie versigtig vir ’n vrou, my klong. Hulle kan jou só maklik met soet woordjies om die bos lei. Wees te alle tye op jou hoede. Maak altyd seker jy is in beheer.” Sy pa het hom gedwing om ’n belofte te maak dat hy nooit ’n vrou sou toelaat om met sy kop te smokkel nie.

Toe Paulus een middag ná skool tuiskom, tref hy sy pa in ’n groot plas bloed op die kombuisvloer aan. Sy ma het soos ’n zombie by die tafel gesit, nikssiende voor haar uitgestaar en hom nie eens hoor inkom nie. Al het Paulus op daardie oomblik nie mooi verstaan wat aangaan nie, was hy tot in sy diepste wese geskok. Eers toe hy die lang mes in sy ma se hand gewaar, het hy besef daar het iets verskrikliks gebeur. Sy ma het opgekyk en in haar oë was ’n onbekende, emosielose kyk.

“Bel die polisie,” het sy ma gefluister. “Sê hulle moet my kom haal.”

Van daardie dag het Paulus sy ma gehaat. Hy wou niks met haar te doen hê nie. Hoe kon sy haar eie man vermoor? Tydens die hofsaak het Paulus se ma haar swygreg uitgeoefen. Sy het nie een van die staatsaanklaer se vrae beantwoord of aan die hof verduidelik waarom sy haar man herhaaldelik met ’n mes gesteek het nie. Die regter kon nie anders as om haar skuldig te bevind en tot 20 jaar tronkstraf te vonnis nie.

Paulus het haar net een keer in die tronk gaan besoek en vir die eerste maal die volle waarheid uit haar mond gehoor. Sy het verskriklik gehuil. Die goed wat sy hom vertel het, het sy hart gebreek. Sy ma moes nooit tronk toe gegaan het nie. Paulus se pa het al die tyd sy ma in die stilte mishandel.

Hy was nooit die engeltjie wat hy voorgegee het om te wees nie. In sy kas was ’n klomp geraamtes. Sy pa het sy ma oor die rand gestoot. Sy kon dit nie meer vat nie. As sy ma maar net haar kant van die saak in die hof gestel het ...

Paulus loop heen en weer in sy ruim studeerkamer. Oor ’n maand word hy 52, maar vanaand voel hy minstens 13 jaar ouer. Die herfswind van laatmiddag het van rigting verander en op ’n ander plek die lewe vir inwoners onplesierig gaan maak. Volgens vroeë voorspellings kan Kapenaars hulle gereed maak vir ’n lang, ysige winter. Dit, en die moontlikheid van ’n nuwe vlaag Covid 19-infeksies, is genoeg om enige ordentlike mens in tale te laat vloek. Boonop is daar die voortslepende bendegeweld om mee rekening te hou.

Die lugverkoeling in die vertrek is aan, tog kry Paulus steeds warm. Hy maak sy hemp se boonste knoop los, vee die sweet op sy gesig met sy sakdoek af. Sy vrou, Charmaine, het vroeg gaan inkruip. Sy het gekla van ’n kopseer, maar Paulus is seker sy kon sien hy het nie lus vir geselskap nie. Charmaine ken hom beter as enige iemand anders.

Hulle kom ’n lang pad saam. Charmaine is nie die tipe vrou wat onnodige vrae vra nie.

Sy weet hy sal praat wanneer hy voel die tyd is reg. Selfs tydens aandete was daar nie juis ’n gesprek tussen hulle nie. Vanaand verkies hy die stilte. Dit sal hom kans gee om oor sekere goed te besin. Goed wat swaar op sy hart druk.

Paulus gee ’n diep sug. Hy haal sy bril af, sit dit op die lessenaar neer. Sal ’n drankie dalk help om sy senuwees te kalmeer? Hy haal ’n bottel whisky uit die boekrak. ’n Gereelde drinker is hy nie, maar soms het selfs die sterkste mens ’n middel nodig teen die aanslae van die wêreld. Hy skink ’n dubbel en sluk dit. Wat is dit met hom? Hoekom is hy so onrustig? Dis mos nie hy wat oor ’n paar dae in die beskuldigdebank moet staan nie. Sy werk is slegs om uitspraak te lewer. Vir die eerste keer in sy loopbaan van meer 20 jaar bevind Paulus Kabamba hom tussen twee vure. Gewoonlik weet hy voor die slotbetoë al of iemand skuldig is of nie. Hierdie keer is hy nie so seker nie.

Die saak van die jong vrou oor wie se lot hy moet beslis, het hom uit die staanspoor aan die hart gegryp. Dit herinner sterk aan sy eie ouers. Carol Bonthuys is ook mishandel deur ’n man wat ’n held was in die oë van die wêreld.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters