26 dae gelede
Pastoor Maarman vat nie bollie in sy gemeente nie
 ~ 

HALLO, Sonlanders! Ons begin vandag met Pastoor Moenie Mors”, ’n nuwe verhaal van SALMON SMITH. Geniet nou die eerste hoofstuk.

JOHNNY “Mankas” Isaacs staan baie bedroef daar voor die preekstoel. Daar is ’n hartseer trek op sy bont geta­toeëerde gesig terwyl hy na die doodskis hier voor hom kyk. ’n Traantjie biggel stadig oor die “Hosh”-tatoe op sy linkerwang. Hy vee dit haastig af.

Hy kyk op na die begrafnisgangers wat hom in stille en hartseer afwagting aankyk. Hy maak vinnig keel skoon met ’n hoesie wat klink asof dit uit ’n vrot tering-long kom.

“Aweh, djulle! Ek groet ammil hie’ in die wonnerlike Naam!” begin hy en bly ’n rukkie stil om weer asem te skep. Hy kyk weer af na die doodskis.

“Ja, wat kan ekke nou sê van diese bra van ôs wat nou hie lê...?

“Nei, hy was ’n goeie ou… Hy sou nie ee’s ’n vlieg vedala hettie. Hy het die goeie stryd gestry!”

Mankas vee met die agterkant van sy hand oor sy neus. Dit laat ’n snotstreep dwars oor sy regterwang agter.

“Kannie Dood, ôs gaat djou mis, my broe! Djy was–”

“Dis nou genoeg!” bulder pastoor Dawid Maarman Mankas tot stilswye. Almal se koppe ruk geskok op na die pastoor met sy granietharde gesig daar op die preekstoel.

Mankas swaai om en daar is ’n verbaasde uitdrukking op sy gesig.

“H-hoe nou, pastor?!” hyg hy dit uit.

“Gaan sit op jou gat!” kap Maarman terug.

“Aauw, my larney! Ekke het noggie ee’s klaar gepraatie!” protesteer Mankas.

“Hoorie, skollie, as jy weet wat goed is vir jou, dan beter jy nou gaan sit!” spoeg Maarman vuur. Daar klink ’n onderlangse gefluister in die kerk op.

“Nei, die ding is jas,” brom Mankas terwyl hy terug na sy sitplek in die voorste gestoeltes rol.

Pastoor Maarman kyk woedend na hom en toe na die begrafnisgangers voor hom. En hy lyk sommer dêm op die oorlogspad.

Die kerk is vol vuil tjapgevreet-jongens wat hul laaste eer aan hul ontslape makker kom betoon.

Gawie “Kannie Dood” September was ’n wrede gangster wat behoort het aan die Evil Kids. Hy was ’n groot gemors wat die hele Kleinvlei hier in Eersterivier geterroriseer het. Hy is twee weke gelede deur die Westie Boys van die Wesbank uitgehaal oor hy met een van hul lede se goose gejol het.

Nou lê Kannie Dood yskoud en morsdood in sy kis, met sy lyf vol gate geskiet oor sy jags gedagtes.

“Kykie! Hoorie’so!”

Pastoor Maarman se bulderende stem laat ’n paar anties in die middel van die kerk wip van die skrik.

“Dis mý kerk die en hiér duld ek geen nonsens nie!” weergalm hy voort. “Julle gangsters kom nie hier en maak ’n bespotting van God se huis nie. Julle kom praat nie hier ’n klomp twak nie! Dis ’n kerk dié, nie ’n smokkelhuis nie!”

Hy gluur nou na Mankas. “Jy staan hier voor en lieg wragtig sonder enige skaamte! Jy kom vertel dat die man wat hiér lê, is iemand wat die goeie stryd gestry het. Iemand wat kwansuis nie ’n vlieg skade sou aandoen nie! Twak, man!”

Nou lyk dit of pastoor Maarman opgecharge is: “Die ding het mense se lewens geneem, magtag! Hy het mense beroof en die gemeenskap van Kleinvlei geterroriseer met sy gangster-gedagtes.

“Nou vra ek jou, waar het jy al ’n goeie skollie gekry? ’n Skollie is van die duiwel, man!”

“Ek begrawe hier ’n boef en nie ’n engeltjie nie!”

Verbaasde uitroepe klink in die kerk op.

’n Vuilgat jong met die woorde “Saloet ma se kint” op sy voorkop getattoo spring van die kant af op.

Hy bal sy vuiste in die rigting van pastoor Maarman.

“Auw! Hoor nogal die frans! Hy ko’ nogal hie’ met sy nwatas!”

Kannie Dood se moeder, antie Katie, gaan weer droewig aan die ween hier waar sy en haar hele familie die voorste bank vol sit.

Maarman draai sy yskoue, donker oë na “Saloet”.

“Hoorie, jy, mannetjie. Jy kan jou luck ko’ try met my! Ek breek djou bek! Djy kennie vi’ my nie! Ek trek nou my bekeerbaadjie uit...”

Hy wys nou na sy voorkop. “Dié ding noem ons daar in die Noordkaap ‘Voorberg’! Nou ek is ’n kop­slaner van formaat. As ek jou met Voorberg getref het, dan lê en slaap jy, pappa! Ek is nie bang vir ’n skollie nie, want ’n skollie is ’n lafaard! Dít is hoekom hy in ’n bende is!”

Nou val almal se monde oop van skok. Hoe durf die pastoor so van die bendes praat? Is hy nie bang hy word summier in sy glorie geskiet nie?

“Laat ek dit sommer duidelik maak! Ek is nie bang vir enige gangster nie!” gaan Maarman voort.

“Ek is ’n godsmens. Ek sal sterf vir die waarheid. En hier in mý kerk word net die waarheid verkondig.

“Ek het ingestem om dié skollie te begrawe oor julle gangsters my so mooi gesoebat het,” gaan Maarman voort.

Onderlangse gefluister vind tussen die dikdinge plaas. Iemand wil nog weer sy bek hardop rek, maar besluit daarteen toe hy in die donker, yskoue oë van Maarman vaskyk.

“Ja, julle kan maar julle bekke hou wanneer ek praat! Moetie van my bek ’n kantienstoep maak nie!” raas Maarman.

“Julle moet net sê as julle self julle makker wil begrawe. Ek sit julle almal uit my kerk met jul dooie makker en al en dan kan julle kyk wie hom wil begrawe!” dreig Maarman.

Almal is nou doodstil.

Dis net Kannie Dood se moeder wat nog baie hartseer aan die ween is. Trane stroom oor haar wange.

Pastoor Maarman kyk af na haar. En daar is nie ’n sweempie simpatie op sy gesig nie. “Ja, antie Katie. Jy kan maar jou traantjies afdroog! As jy jou klong regte normes geleer het, was dit nou nie norag om hier krokodiltrane te huil nie.

“Jy het mos vir hom opgekom wanneer hy met die gereg gebots het en die polisie hom wou toekap. Jy het hom uitgebail wanneer hy moes gaan bandiet. Kyk, nou lê Kannie Dood daar dóód in sy kis.

“By the way, watter regdenkende mens noem homself Kannie Dood?! Dis mos bad luck. Kyk, nou is hy nie meer Kannie Dood! Hy is nou Kan Dood!”

’n Geproes klink hier iewers in die middel op.

“Ek’t gesê hou djulle bekke as ek praat!” snoer hy vinnig die gelag.

Hy kyk nou oor die roubeklaers. “Ek wil sommer ’n beroep op ouers doen om te leer uit dié begrafnis vandag!

“Moetie op djulle kinders se sondes sit nie, asseblief! Moetie die fout maak wat Kan Dood se ma gemaak het nie. Ek verstaan sy het die dag van sy dood nog gesê dat hy nie ’n gangster is nie. Maar in die meantaaim was hy die grootste boef op aarde.

“So, wanneer gaan ons kinders dan leer as hulle foute maak, maar niemand wys hulle daarop nie? As hulle verkeerd handel, tugtig hulle. Die Bybel leer ons so.”

Maarman slaan vinnig die Bybel oop. “Kom laat ons lees uit Psalm 119, van vers 9 tot 16: Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou?”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters