10 dae gelede
Oumsie kon hulle nie versaak nie, al was hulle hóé erg
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag begin die splinternuwe verhaal Do en Die uit die pen van ELDRIDGE JASON. Geniet die eerste hoofstuk!

AS DAAR nou vir jou ’n gruwelike tweeling was, dan was dit Do en Die.

“Die Evil Twins.”

“Gruwelik en Lillik.”

“Dáái kinders.”

Dit is maar ’n paar publiseerbare verwysings wat die inwoners van Grammadoelaville altyd na die twee gegooi het.

Mooi woorde vir die twins was daar nie veel nie.

Maar dié twins het ook nie met die Grammadoelavillers mooi gemaak nie.

Hul ma het tydens hul geboorte gesterf.

Dit was ’n volmaanaand toe die papnat geswete Kristina Kristoffels se angskrete deur die nag weergalm het.

Daai nag was die honde so bang, hulle het eers ’n maand ná die fatale kraam weer beginne blaf.

Die twins se pa, Kris Kristoffels, het tydens die bevalling so groot geskrik dat hy gepanic en die nag ingehardloop het.

Hardnekkige gerugte wil dit hê dat hy hom by die seepfabriek se trappies te pletter gehardloop het.

Grammadoelaville het daardie naweek twee begrafnisse gehad.

Nie Kris of Kristina het ’n book of life gehad nie. Hulle was ook nie vriende met Opbob Begrafnisdienste op Facebook nie.

Traag het die inwoners geld bymekaargegooi vir die funerals, wat bitter min van hulle bygewoon het.

Want sien, die Kristoffelse het mos in die kroes deel van Grammadoelaville gebly – daar waar die mense met pittekoppe vir hare bly.

Die original voorvaders van Grammadoelaville het mos almal lang, gladde lokke gehad. Vroue én mans.

Soms het die lang lokke die Grammadoelavillers in die skemerte só deurmekaar gemaak dat Piet, Paul en Klaas sommer saam-saam rivier se kant toe gesluip het.

Maar oor wat dáár gebeur het, het nie Piet, Paul of Klaas ooit weer gepraat nie ...

Anyhow, Do en Die se ouma Oumsie Katryn moes in haar AllPay-jare weer mammie speel.

Die arme vrou het al krom geloop soos die heupe haar kasty het. Haar vingers was al krom van die jig, maar sy kon mos nie haar eie vlees-en-bloed-kleintjênners aan hul eie genade oorlaat nie.

Die ouvrou het haar bes gedoen. Haar uiterste bes. Oumsie Katryn het die tweeling in die huis van die Here grootgemaak. Gedoop en wat-wat.

Maar nes die Bybelse Jona, wat geweier het om na die stad van Nineve te gaan, het Do en Die hulle afgevee aan al wat ’n reël is. Maak nie saak of dit by die huis of by die kerk was nie.

Daar was eenvoudig geen salf aan hulle te smeer nie. Nie Vicks of Puma het gehelp nie.

Oumsie Katryn het mooigepraat, gevloek en geskel ... en maar later weer haar sondes bely.

Do en Die wou net nie hoor nie.

Toe hulle die eerste dag crèche toe gaan, het hulle amper die plek afgebrand. Hulle het weggesluip kombuis toe en die gasstoof daar gaan oopdraai.

Met die aanbreek van dag 2 het die crèche eenvoudig geweier om hulle terug te vat.

Oumsie Katryn moes hulle toe maar op haar manier leer lees en skryf. Dit was ’n uiters moeilike saak.

’n Saak van gebed, want Oumsie Katryn het mos ook maar in sub A deur die venster gekyk.

Do en Die wou ook niks weet van stilsit en lees nie. ’n Potlood was ook nie vir hulle ’n skryfding nie. Dit was ’n wapen waarmee hulle mekaar aanhoudend gesteek het. Baiekeer was Oumsie Katryn se verrimpelde en krom hande onder bloed soos wat sy in die middel moes spring en keer.

Maar so geniepsig soos wat die twins met mekaar was, so geheg was hulle ook aan mekaar.

Hulle was kompleet soos kinders wat ’n long, nier en skaduwee gedeel het.

Die twins was nou wel afknouerig met mekaar, maar sou ’n ander kind een van hulle te lyf wou gaan, sou hulle saamstaan en daai kind bepak.

Oumsie Katryn was al soos ’n huiskind by die social worker.

As Emsie Kademsie, die social worker, Oumsie Katryn sien aanwaggel het, dan het sy al begin droom van op leave gaan.

In haar verdediging moet gesê word dat Emsie Kademsie haar bes gedoen het om die twins in ’n tehuis te kry.

Die waglys hiervoor was egter ’n paar elle lank en die eintlike waarheid is dat niemand kans gesien het vir Do en Die se stront nie.

Ver buite die dorpsgrense van Grammadoelaville het die mense al van hulle gepraat.

Buite die einste dorpswyke was ’n grot wat oor die jare ingeval het. Die grootmense het die kindertjies altyd die dood voor oë gesweer sou hulle daar gaan speel.

Stories van die swart kar wat kindertjies vang, is sommer opgemaak om kinders te ontmoedig om naby die grot te gaan speel.

Do en Die het natuurlik nie vir hierdie bangmaakstories geval nie.

Hoekom sou hulle ook? Hulle is immers sonder ore gebore – só het ’n ieder en elke Grammadoelaviller hoog en laag gesweer.

Snaaks genoeg, die grot was die een plek waar Do en Die vir niemand ’n probleem was nie.

Die twee was ook op hul rustigste wanneer hulle daar aan die speel geraak het.

Niks was ’n groter plesier as om deur die ekstra-nou gangetjies te kruip en elke grotkamer te ontdek nie.

Elke item wat hulle daar gevind het, was vir hulle ’n skat.

’n Ou trommel met ou klerasie in het hulle laat droom van see­rowers word.

’n Outydse, stowwerige lampie het hulle hul laat verbeel daar is ’n genie in wat elke wens van hulle waar sou laat word.

Hul grootse droom wanneer hulle so met die lampie gespeel het, was om elke Grammadoelaviller te laat verander in ’n sokkerbal wat hulle kan rondskop.

Terwyl die nuwe skooljaar vir elke kind afgeskop het – of jy nou lus was vir skool of nie – het die twins daar by die grot gespeel.

Al wat hulle van skool geweet het, was die skoolklok wat hulle so nou en dan gehoor loei het.

Hulle was dit eens in hul mening dat ’n skooluniform en ’n Pollsmoor outfit een en dieselfde ding is. Die een tronk het skoolbanke in, terwyl daar meer rotte in die ander een is, het hulle geglo.

Hulle was al 15 jaar oud, toe speel hulle nog in daai grot karretjie-karretjie soos laities van vyf jaar oud. Dan het hulle so “gery” met die klippe wat hul karretjies was dat die spoeg spat.

Baiekere het die een se spoegdruppels in die ander een se gesig beland, dan het die houe weer tussen hulle geval.

Eendag, toe die twins al moeg was van met klippe soos karretjies rondry, val hul oë meteens op ’n lig wat in ’n gedeelte van die grot skyn waar hulle nog nie vantevore was nie.

Dit was ’n lig wat nie stilgestaan het nie. Die lig het rondbeweeg – so asof dit die twins se aandag wou trek.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters