Verlede maand
Ouboet wil hê die waarheid moet uit – maar nie als nie
 ~ 

HAAI, Sonlanders! In die ware gees van Kersfees kan julle nou die verhaal “Skuins Voor Kersfees Gebore” uit CHRISTO MEYER se pen lees. Geniet vandag hoofstuk 4.

‘EK WEET hoekom suster Knoesie my so ’n lelike streep getrek het,” gaan Ouboet voort.

Sy tong is behoorlik los. Brandewyn is en bly maar ’n ou staatmaker as jy wil hê iemand moet sy diepste geheime verklap. Dit stel nooit teleur nie.

“Hoekom het sy dit gedoen?” gooi ek olie op die vuur.

“Omdat sy bang was vir broer Nigel. Wat anders? Sy’t my op ’n dag vertel daai man het jeukerige hande en ’n humeur wat enige tyd kan ontplof.”

“Wil jy vir my sê broer Nigel is ’n vroueslaner? Hy kom dan voor as iemand in wie se mond botter nie kan smelt nie.”

“Aag, dis alles toneelspel. Daai drol was in sy vorige lewe ’n tronk­voël. Suster Knoesie het my vertel hy het hom in die tronk bekeer om parool te kry. Hy was ná sy vrylating nog altyd by bende- en dwelmbedrywighede betrokke.”

Wat vertel Ouboet my nou?

“Hoor wat ek vir jou sê, Darryl, broer Nigel is niks anders as ’n skaap in wolfsklere nie.”

“Jy bedoel seker ’n wolf in skaapsklere ...”

“Dis mos wat ek gesê het.

“Maar nou moet jy my eers verskoon. Ek sal kan doen met ’n goeie nagrus.”

Lank nadat Ouboet bed toe is, sit ek nog verstom by die kombuis­tafel. Ek probeer alles verwerk wat hy my vertel het. Hoe gaan ek vanaand aan die slaap raak? ’n Lang nag is na alle waarskynlikheid my voorland en môre moet ek vroeg op. Kanarievlei is ses ure se ry hiervandaan. Gaan ek nie moeg voel agter die stuurwiel nie?

Ek sal maar die laaste bietjie brandewyn op Ouboet se manier moet drink, sonder ys en Coke. Dalk sus dit my aan die slaap en neem dit my gedagtes weg van die groot onreg wat Ouboet aangedoen is.

Ek sal met Lizzie moet praat. Ouboet se storie gaan nie in die fiksie-afdeling pas nie.

Hy verdien meer. Hierdie vertelling kwalifiseer as ’n ware lewensdrama. Lekke Djy is in elk geval ’n tydskrif wat daarvan hou om die waarheid oop te vlek.

Die volgende oggend word ek wakker met ’n kopseer wat skrik vir niks.

Ek dwing my voete van die bed af en beweeg traag in die rigting van die badkamer.

Ondervinding het my geleer ’n koue stort is die beste medisyne teen ’n babelas.

“Jy slaap laat,” herken ek Ouboet se stem in die gang.

“Ek is al saam met die hoenders op. Gedink ons gaan vertrek terwyl dit nog donker is ...

“Hoop nie jy gee om nie, ek het solank koffie gemaak en eiers gebak. Dis nie lekker om die dag op ’n leë maag te begin nie.”

“Glad nie, ek het mos gister gesê jy moet jou tuismaak. Is jou kop nie seer nie?”

“Van daai bietjie brandewyn? Nee, jong, ek is ’n ou drinker. Jy lyk maar taamlik lig in die broek.”

Nadat ek klaar gestort het, maak ek gereed om te vertrek.

Ouboet lyk effens gespanne toe hy langs my inklim. Is dit omdat hy vir die eerste keer in 15 jaar weer sy geboortedorp gaan sien?

“Moet ek vir ons ’n six-pack kry vir die pad?” vra ek.

“Liewer nie,” antwoord Ouboet. “Ek wil nie na drank ruik wanneer ek by my ouerhuis instap nie. En suster Knoesie en haar man moenie agterna sê ek was gesuip as ek hulle klaar gekonfronteer het nie.”

“Jy klink vasbeslote.”

“Ek is te lank vir ’n gat gevat. Dis tyd om my true colours op Kanarievlei te gaan wys.”

“Is jy nie bang broer Nigel kan steeds ’n klag teen jou gaan lê nie? Jy kry mos van daai mense wat ’n hele leeftyd lank ’n grudge teen iemand hou.”

“As dit moet gebeur, moet dit gebeur. Ek gee nie meer om nie. Solank ek net my sê gesê het.

“Die lewe is nie altyd regverdig nie, maar dit is ook nie reg as ander mense jou net vertrap en niks oorkom nie.”

Die seer slaan plek-plek deur in Ouboet se stem. Hy klink gebroke.

Ek hoop nie hy gaan staan en vang iets onverantwoordeliks aan in Kanarievlei nie.

Dit sal op my gewete rus, want hy gaan saam met my soontoe.

Waarom was Ouboet gisteraand so geskok toe hy hoor van suster Knoesie se seun? Het hy dalk heimlik nog gehoop hy en sy kom weer eendag bymekaar, al het sy hom verraai?

Het die nuus dat sy en broer Nigel nou ’n kind het sy kans om op te maak finaal in die wiele gery? Was sy liefde vir suster Knoesie dalk die één iets wat hom al die jare staande gehou het?

Jy hoor dikwels van mense wat so depressief raak dat hulle nie langer kans sien vir die lewe nie.

Soos onlangs met daai vlaag onder skoolkinders. Mag hul jong siele in vrede rus.

Langs die pad hou ons by ’n vulstasie stil om petrol in te tap en sommer chips, koeldrank en rookgoed te koop.

Ouboet sweet erg, al is die motor se lugverkoeling aan. Lyk my hy is tog bekommerd oor wat moontlik op hom wag.

Die vraag wat ek van gisteraand af brand om te vra, glip uit: “Kom jy saam met my terug Kaap toe of gaan jy in Kanarievlei bly?”

Ouboet steek ’n sigaret aan en vat ’n paar diep trekke.

“As alles volgens plan verloop, wil ek graag daar bly. My ma sal nie wil hê ek moet weer weggaan nie.

“Ek kan my net indink hoe hulle elke Kersfees ’n ekstra bord uitgehaal het in die hoop dat ek sal opdaag. Die lewe is rof, my maat, die lewe is rof.”

DIS agtermiddag toe ons Kanarievlei binnery. Ouboet is stil, soos iemand wat diep dink.

Wat gaan alles deur sy gedagtes? Dis 15 jaar, nie 15 weke nie. En 15 jaar is 15 jaar ...

“Sal jy my ’n guns doen?” vra Ouboet. Hy klink hartseer.

“Ek luister.”

“Moet asseblief nie vir my ouers sê jy het my by ’n verkeerslig gesien bedel nie. Ek wil nie hê hulle moet dit weet nie. Dis klaar erg genoeg dat ek so ’n lang tyd weg was van die huis af.”

“Moenie worry nie, Ouboet. Ek sal niks sê nie.”

“Dankie vir alles. Ek skuld jou big-time.”

Ons ry verby die laerskool, die winkelsentrum, die rugbyveld. My ruit is afgedraai en ek waai vir ou bekendes. Alles lyk nog dieselfde. Nie veel het hier verander nie.

“Ek voel skielik so onseker,” hoor ek Ouboet langs my sê.

“Wat gaan my verduideliking wees as Ma wil weet waarvandaan ek nou eers kom? Ek het nog nooit vir haar gelieg nie.”

“Wil jy hê ek moet omdraai en terugry?” probeer ek ’n grappie maak.

“Nee, asseblief nie. Jy het baie moeite gedoen om my hier te kry. Ek moet net deurdruk.”

Ouboet bly roerloos sit toe ek voor sy ouerhuis stilhou. Dis asof hy te bang is om uit te klim.

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters