Verlede maand
Ouboet lap dinge uit wat hy al vir baie jare opkrop
 ~ 

HAAI, Sonlanders! In die ware gees van Kersfees kan julle nou die verhaal “Skuins Voor Kersfees Gebore” uit CHRISTO MEYER se pen lees. Geniet nou hoofstuk 3.

EK EN Ouboet eet in stilte. Hy het gebad en geskeer en lyk na ’n nuwe mens.

Ek wou al lank van my ou klere vir liefdadigheid skenk en hier het ek nou iemand wat dit opreg sal waardeer.

Gelukkig is ons min of meer dieselfde grootte. Ouboet het verskoning gevra omdat hy so emosioneel geraak het.

“Ek weet nie wat oor my gekom het nie. Dit moet jare se opgekropte seer wees wat tot uitbarsting gekom het.”

Wie is ek om te oordeel? Ek was nog nooit in só ’n situasie nie en ek kan my net indink hoe dit moet voel.

Die letsels van die laaste jare is duidelik op Ouboet se gesig te lees.

As jy so na hom kyk, sal jy nooit sê hy word 41 nie. Hy lyk soos iemand op pad na 60.

Toe die borde leeg is, wil Ouboet weet: “Het jy niks sterker as koffie in die huis nie? Ek sal nie nee sê vir ’n brandewyn of whisky nie, maar ’n koue bier behoort ook iets aan my droë keel te doen.”

Ek moes dit verwag het. Iemand wat al jare op straat bly, kan seker nie sonder alkohol oorleef nie. Dink net aan al daai koue wintersaande.

“Hier iewers moet ’n bottel brandewyn wees wat ’n vriend my voor die lockdown present gegee het. Ek kry dit gou.”

Ek haal twee glase, ys en Coke uit en skink vir ons elkeen ’n double.

Ouboet slaan syne met een teug weg en beduie ek moet weer vir hom skink, terwyl ek nog nie eens aan my glas geraak het nie.

“Los maar die ys en Coke. Dit neem net die brandewyn se krag weg. Skink vir my ’n skoon dop.”

Ek wag tot ná sy vyfde glas voordat ek die gesels weer aan die gang kry. Ek het ’n storie om klaar te skryf en ek het dringend inligting nodig. Waar anders gaan ek dit so deeglik kry as uit die perd se bek?

Ondervinding het my geleer ’n dronk tong is ’n los tong. Jy sal uit ’n dronk man se mond goed hoor wat jy nie noodwendig sal hoor wanneer hy nugter is nie.

“Ouboet, jy het nog nie vir my gesê hoekom jy destyds so skielik uit Kanarievlei padgegee het nie.”

Ek is nie nou meer in beheer van die bottel nie. Ouboet het die skinkwerk oorgevat. Ek probeer hom nie eens keer nie.

Hy skink, neem ’n diep sluk en sit die glas op die tafel neer. Hy breek hard ’n wind op.

“Ek is gedwing om te vlug,” antwoord Ouboet. “Ek het nie veel van ’n keuse gehad nie.”

Dis vir my nuus. Ek sou nooit kon dink ... Maar ek soek feite.

“Wie sou só iets doen? Mense kan jou mos nie dwing om teen jou sin van ’n plek af weg te gaan nie. Dis so verkeerd.”

“Dit was óf dit óf tronk toe met my,” antwoord Ouboet.

Ek trek my asem skerp in. Wat vertel die man my nou? Wat het hy gesondig dat hy tronk toe sou gaan? Was om op die vlug te slaan sy laaste uitweg?

“Mense is nie altyd wat hulle voorgee om te wees nie.

“As skynheiligheid ’n siekte was, was baie van hulle al vrek.”

Ouboet neem ’n gulsige sluk uit sy glas.

“Jy sê dan nie wie dit is wat jou gedwing het nie, Ouboet?”

“Dis broer Nigel, die skynheilige vark. Hy’t gesê ek moet weggaan en nooit weer met my ma-hulle kontak maak nie, anders sal hy sorg dat ek toegesluit word.”

Dit maak steeds nie sin nie. Van wanneer af word ’n mens net toegesluit sonder dat daar ’n klag teen jou ingedien is? Iets klink nie reg nie. Hoe kon broer Nigel só met Ouboet se kop gesmokkel het? Wat het werklik gebeur?

“Ek gaan jou vanaand ’n geheim vertel waarmee ek al jare rondloop. Jy kan maak daarmee net wat jy wil. Ek gee nie meer om nie.

“Ek het lank genoeg stilgebly. Dis tyd dat die waarheid uitkom. Die reine waarheid.”

Ek is die ene ore. Het die oomblik waarop ek gewag het, uiteindelik aangebreek? Gaan hierdie deel die klimaks van my Kersverhaal wees?

Ek moenie druk op Ouboet sit nie. Ek moet geduldig wees, hom kans gee om op sy eie tyd met die sak patats uit te kom.

“Wanneer laas was jy op Kanarievlei?” verander hy die onderwerp.

“Nie onlangs nie. Nog vroeg in die jaar, voor die lockdown. Maar ek bel gereeld.”

“Hoe gaan dit met Mamma en Pappa? Lewe hulle nog?”

“Jou ouers lewe nog, maar hulle is nie so gesond nie. Ek dink hulle sukkel om afsluiting te kry, want hulle weet nie wat van jou geword het nie.”

“En die skynheiliges? Ou suster Knoesie en broer Nigel? Hoe gaan dit met hulle?”

“Hulle is maar daar. Gaan nog gereeld kerk toe. Hul seun staan elke jaar eerste in sy klas.”

Ouboet gluur my aan asof hy nugter geskrik is.

Wat gaan nou aan? Het ek iets verkeerd gesê?

“Het suster Knoesie en broer Nigel ’n kind?”

“Ja, sy naam is Junior. Hy word hierdie maand 15.”

“Is dit hul eie kind of is hy aangeneem? Dis belangrik dat ek weet.”

“Hul eie kind. Jy is mos vroegherfs daar weg en die kind is in die somer ge­bore. So, jy sal nie weet nie. Oom Nigel het nog geloop en spog dis die wonderwerk waarvoor hy al hoe lank bid.”

Ouboet laat sak sy kop. Hy gluur die glas voor hom woordeloos aan. Hy lyk erg ontsteld.

“Wys my waar ek kan slaap, asseblief? Ek wil hê jy moet my môre Kanarievlei toe vat. Ek wil uitgerus wees. Daar is dinge wat ek moet gaan uitsort.”

Waarvan praat Ouboet? Hoekom sê hy nie reguit wat hy op Kanarievlei wil gaan maak nie?

En dan is dit asof hy my gedagtes kan lees.

“Ek en suster Knoesie was in ’n liefdesverhouding.

“Ek het geweet dis verkeerd, maar kon myself nie keer nie. Dit was vir suster Knoesie geen probleem dat ek 12 jaar jonger is as sy nie. Sy het gesê ek laat haar ook jonk voel. Ons het mekaar in die geheim begin ontmoet.

“Dinge het so ernstig begin raak tussen ons dat sy my toegelaat het om van die verbode vrug te eet.

“Ek wou aanvanklik nee sê, maar dit was moeilik om die versoeking te weerstaan.

“Ek was so bang ons word uitgevang; haar huwelik sou waarskynlik op die rotse beland.

“Sy het gesê ek worry verniet; dit sal nie gebeur nie.

“Ek vermoed broer Nigel het agterdogtig geraak en iemand aangestel om sy vrou dop te hou.

“Op daardie laaste middag, toe broer Nigel veronderstel was om by die werk te wees, het hy my en suster Knoesie op heter daad betrap.

“Ons albei was naak. Suster Knoesie het skielik teen my gedraai en gegil dat ek my afgedwing het op haar, al het sy self haar klere uitgetrek.

“Dis toe dat broer Nigel my voor ’n keuse stel: Óf ek verlaat die dorp dieselfde aand nog óf hy gaan lê ’n klag van verkragting teen my.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters