20 dae gelede
Ou Mieta surprise die mayor toe hy haar try swaai ...
Oom Sonnie  ~ 

DIÉ week se lekker storie kom uit die pen van NICOLETTE FOULDIEN. Sy noem haar verhaal “Vloek”. Geniet nou hoofstuk 5.

DIT lyk vir John Douries of Dick Smit besig is om ’n hartaanval te kry en hy maak die Jeep se deur vinnig oop. “Dick? Is iets fout? Jy’s doodsbleek.”

Dick staar net voor hom uit. Hy hoor John se stem, maar die woorde registreer nie by hom nie.

Dis eers toe die man aan sy skouer vat dat hy sy kop draai. “Ek kan nie ...”

John kyk hom verdwaas aan. “Jy kan nie wat nie? Wat is fout, Dick? Voel jy nie lekker nie?”

Dick knik net. Sy lyf is verlam.

“Oukei, sit so ’n rukkie. Dis dalk die kar se geskud wat jou so ’n bietjie gerattle het. Ek gaan soek gou vir Mieta. Dalk sal ’n bietjie water help.”

John wag nie dat Dick antwoord nie en draai om.

Hy stamp amper die fyne Mieta om wat agter hom staan. Hy het haar nooit eens gesien of gehoor nader kom nie.

“Mieta! Skies, mens, amper loop ek jou om.”

“Wat soek julle?” maak Mieta hom stil.

“Ons kom so ’n bietjie gesels, maar die meneer ...”

Hy wys na die doodsbleek Dick. “... voel nie lekker nie. Dalk sal ’n bietjie water help?”

Hy kyk hulpsoekend na Mieta, wat hom nors aanstaar.

“Ek het nie julle geselskap nodig nie en water kan jy doer onder by die rivier loop skep. Ek het werk om te doen.”

Mieta draai sonder meer om en stryk flink aan na die donkies, wat geduldig in die hut se koelte wei.

“Mieta, wag! Asseblief? Luister net na ons?”

John het nou niks met Dick se ongesteldheid te doen nie. Hy dink aan Peet Venter se geld en hoe lekker hy en Sara eendag hier onder die bome kan kom piekniek hou.

Hy loop haastig agter Mieta aan. “Asseblief, Mieta, luister tog net,” soebat hy skaamteloos.

Mieta gaan ongestoord voort met waarmee sy besig is. “Praat, maar wanneer jy klaar gepraat is, dan vat jy daai stadmeneer en loop doen wat julle elke dag doen. Ek is ’n besige mens en ek laat nie my tyd mors nie.”

“Goed, Mieta, goed. Jy sien, Mieta, hierdie meneer wil hê jy moet ’n papier teken sodat hulle hierdie grond kan gebruik om iets te bou wat sommer baie vir ons dorp gaan beteken.”

“Kyk hier, meneer die burgemeester,” Mieta kom staan met haar hande op haar heupe voor John, “laat ons mekaar nou vandag baie mooi verstaan.

“Op hierdie grond is ek, Mieta Booi, gebore. Op hierdie grond is my oupa Booi en sy oupa Booi gebore. Hulle is almal hier dood. So, dis waar ek, Mieta Booi, ook sal dooi. Kry julle ry!”

Mieta draai om en begin aanstryk na die groentetuin. John draf haastig agterna.

“Mieta, jy verstaan nie. Hierdie grond behoort aan niemand. Jy sê jou oupa en sy oupa is hier gebore, maar ons het net jou woord.

“Die wet vra nie jou woord nie, Mieta; die wet vra kaart en transport. As jy dit het, dan sal ons jou aflos, Mieta,” gooi John sy troefkaart.

Mieta skud die grond van haar hande af waar sy onkruid tussen die wortels uitpluk en kom orent.

“Kaart en transport, sê jy?”

John knik sy kop. Hy is deur elke boek en alles wat al ooit van Springbokkloof en hierdie grond opgeteken is. Hy is doodseker Mieta het nie ’n voet om op te staan nie.

“Kom!”

John staan verbaas en kyk na Mieta, wat haastig na die bome begin aanstryk. Hy het geen ander keuse as om haar te volg nie.

“Wat voer Mieta nou weer in die mou?” wonder hy terwyl hy sukkel om die pas vol te hou.

Sy skoene is gemaak vir die kantoor, nie vir onbegaanbare voetpaadjies tussen klowe deur nie. Hy is later uitasem, maar Mieta loop ligvoets voor hom uit.

Hy is lam, natgesweet en doodmoeg toe Mieta uiteindelik stilstaan.

Hy sien nou eers hulle is onder ’n berghang in iets wat soos ’n tipe grot lyk.

Hy kyk verbaas rond. Die mure is oortrek met Boesmantekeninge.

Hy gaan nader en staar verwonderd na die figure wat op die rotswande uitgebeeld word. Hy is so ingedagte, hy skrik toe Mieta skielik hier langs hom praat.

“Jy soek my kaart en transport? Kyk mooi, meneer die burgemeester. Dit is Mieta se kaart en transport hierdie.”

Mieta draai om en pak die terugtog aan. John loop haastig agterna.

“Maar, Mieta, jy verstaan nie! Hierdie tekeninge be­teken niks.”

Dit lyk of Mieta hom nie hoor nie.

“Dink net daaraan: Dink hoe lekker gemaklik jy op enige plek sal kan lewe met al daai geld wat hulle jou gaan betaal.

Hulle hoef dit nie eens te doen nie, want volgens die wet kan ons jou net van die grond afsit en vir jou alternatiewe blyplek gee. Die wet is aan ons kant, Mieta. Probeer dit verstaan?”

Mieta loop net ál vinniger. John moet draf om by te bly.

“Asseblief, Mieta. Ek wil jou help. En as jy instem, dink hoe baie sal dit vir almal in ons dorp beteken. Daar sal vir almal genoeg werk wees.”

Mieta steek so skielik in haar spore vas dat John haar byna weer uit die grond loop.

“Sien jy hoe bly ek hier, meneer die burgemeester? Ek werk en eet en leef van hierdie grond.

“Jou dorpsmense het hulle self loop versleg en nou wil jy dit voor my deur kom lê?

“Ek dink nie so nie, Meneer. Loop maak self julle slegtheid reg en los vir Mieta uit julle besigheid uit!”

“Mieta, asseblief? Dit mag dalk niks vir jou beteken nie, maar jy sal hierdie mense se lewe verander.

“Dink net hoe bly sal jou voorvaders wees–”

“Jy hou my voorvaders hier uit!” John deins weg vir die woedende vroutjie voor hom.

Dit lyk kompleet of sy hom kan bespring en hy staan sommer vir veiligheid ’n paar treë terug.

“Hierdie grond is myne en so sal dit bly totdat ek die dag my voor­vaders gaan ontmoet. Loop en as julle ooit weer terugkom, moenie wat dan met julle gebeur voor Mieta se deur kom gooi nie.”

Mieta draai om. John sien verbaas hulle is terug op die werf.

Die terugtog was aansienlik gouer. Mieta verdwyn in haar hut en John weet hy moet die aftog blaas.

Vir nou. Mieta is kwaad en hy weet jy redeneer nie met ’n woedende vrou nie. Hy sal haar kans gee om af te koel. Dit is ’n teer sakie hierdie en baie geld is op die spel. Hy sal sy kaarte reg moet speel. Mieta mag oud en ongeskoold wees, maar sy is baie beslis nie dom nie.

John klim terug in die Jeep. Dick Smit sit nog net soos hy hom gelos het, maar hy lyk darem nie meer so bleek nie. Hy kan amper sweer die man is verlig toe hy hom aansê om te ry.

Nie een van hulle twee sien egter uit daarna om aan Peet Venter terug te rapporteer nie. Hoe verduidelik jy aan ’n gesoute sakeman ’n ou antie sit jou ore aan?

  • Lees Maandag verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters