10 dae gelede
Ou Koos word een van Frankie se ‘manskappe’
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders. ’n Nuwe lewe wink op die jonge Koos. In Kleinvlei, van alle plekke. En onder die dak van een van die mees gevreesde gangster-base, Frankie “Die Dood” Louw. Frankie is nie oortuig dat Koos per toeval sy ma ontmoet het nie en stel hom voor ’n ultimatum: Praat die waarheid, of kry ’n permanente sandkombers oor hom. Geniet nou hoofstuk 5 van EL­DRIDGE JASON se verhaal “Koos Jackpot”.

‘EK SOEK die waarheid. Nou!” sis Frankie.

Koos besef sy lewe hang ’n kort, kort draadjie. Antie Ruth was anyway nou nie daar om vir hom in die bresse te tree nie.

“I ... I swear,” stamel Koos. “By the moon and the stars in the sky ...”

Op daai stadium retireer Frankie ietwat verbaas. Hy en sy manskappe gaap mekaar aan.

“Is jy nou besig om vir my ’n All-4-One song te sing?”

Koos het nie geweet hoe om te reageer nie en trek net sy skouers op.

In ’n bewende stem verduidelik hy toe dat dit ál Engels is wat hy ken.

Op daai oomblik het hy mos nog nie geweet die mense van Kleinvlei spesialiseer ook maar in Mengels nie, nes Mitchells Plain se mense.

Maar tot sy grote verligting bars Frankie die Dood uit van die lag. Frankie se hele lyf skud eintlik soos hy lag.

Amper soos ’n former staatspresident wat sy hele sub. A-jaar afgekyk het en sy land se staatskas leeg geskud het.

Koos besluit toe maar op daardie oomblik om sy Engelse vlag te hys. In sy mooiste Bryfrikaans vertel hy toe sy storie: Hoe hy moeg was van swaarkry, vir hom ’n naam in die Kaap wou kom maak en eendag as hy veels te veel geld gehad het, terug wou gaan Paternoster toe.

Frankie het hom nie een keer in die rede geval nie, maar toe Koos se keel al begin droog trek et van oor sy grootwordjare praat, stuur hy sy manskappe uit die vertrek uit.

Sonder ’n woord haal Frankie ’n pistool onder sy tjoep van ’n maag uit en sit dit op die koffietafeltjie voor hom neer.

’n Yskoue rilling hardloop langs Koos se ruggraat af.

In ’n oomblik van paniek sê hy ’n skietgebedjie op dat sy ma-hulle tog nie by sy begrafnis “Weer Ontmoet” moet sing nie. Hy is al so óp van daai treurmare van ’n song. Daai is immers ’n song wat enige mens sonder ’n siekte sal laat sterf.

“Ek vat nie k*k van kabouters nie,” sis Frankie en kyk Koos stip in die oë.

“My ma hou van jou. Ek dink ook jy het potensiaal. Maar ek waarsku jou, vat my virre masse one-two en ek maak one, two, three klaa’ met jou.

“Jy sal kos k*k wat jy nog nooit gevreet het nie. Verstaan ons mekaar?”

Wat kan Koos anders doen as om maar net te knik?

Hy kry die vermoede dat Frankie net tot by drie kan tel, maar hy durf nie dit hardop noem nie. Nie terwyl die nine mil op die koffie­tafel so belangstellend na hom lê en loer nie.

Tot sy verligting kom die meisie van vroeër met ’n groot bord breyani in. Koos het nog nooit soveel rys op ’n bord gesien nie. Vir ’n oomblik wonder hy of ’n graad R-klassie dalk die rys ingekleur het.

Die sonde, die arme klong was sy lewe lank gewoond aan vis op ’n Maandagaand. En as dit nog Goeie Vrydag daai week ook was, dan was daar twee keer daai week vis op sy menu.

Maar as die honger aan die deure van jou maag klop, dan moet jy oopmaak, Pappa. Die spicy kos laat sy maag ’n bietjie brand, maar dit los ’n lekker, tintelende nasmaak in sy mond.

Dan staan Frankie op en troon bo Koos uit.

“Van môre af werk jy vir my. Gaan pie en gaan slaap as jy klaar geëet het.”

Sonder ’n verdere woord draai hy om en verlaat die vertrek. Waggelend soos ’n pikkewyn wat ’n meisie gesien het wat hy wil chise.

Koos laat hom nie twee keer laat nooi nie en verslind die bord breyani.

Die meisie kom weer binne en stel haarself voor as Marsha. Toe Koos klaar geëet het, neem sy hom na ’n kamer wat sy slaapplek vir die aand gaan wees.

Daardie aand lê Koos tot laat wakker en staar na die plafon.

Dis nie asof Klaas Vakie kwaaivrinne vir hom is nie, maar die harde klapgeluide wat van tyd tot tyd opklink ...

Koos kan nie anders as om te wonder hoekom Kleinvlei se mense so vroeg in die jaar Guy Fawkes hou nie.

Min het hy op daardie oomblik geweet dat dit Frankie se manskappe was wat buite besig was om die reëls neer te lê.

Toe die slaap hom uiteindelik oorrompel, word hy meegevoer na ’n lala-land waar ál wat feetjie is ’n Engels praat wat hy om die dood toe net nie kan verstaan nie ...

Daar is nie ’n hoenderhaan om Koos die volgende oggend wakker te maak nie, so obviously verslaap hy.

Maar net toe hy verskrik uit die kooi wil opvlieg, kom Marsha binne met ’n skinkbord ontbyt.

Koos is nog nooit brekfis in die bed bedien nie. Nie eens vis en chips nie. Daar was wel die een keer toe hy vir ’n check-up na ’n hospitaal in die Kaap moes kom. Maar selfs toe moes hy maar vir hom ’n pakkie Simba en ’n twee liter Jive koop.

Marsha sit die skinkbord op die bedkassie langs hom neer en loop na die venster waar sy die gordyne oopgetrek het.

Sy draai dan om en sê met ’n smile aan hom: “Meneer, Frankie wil jou sien ná ontbyt.”

“Hoe-hoekom?” wil Koos verbaas weet terwyl hy aan ’n stukkie toast lê en kou.

Hy het nooit geweet verbrande brood kan só lekker smaak nie.

Marsha trek haar skouers op en mompel iets dat Frankie vir Koos in die skool wil sit.

Met ’n bekommerde trek knars Koos se kouende kake tot stilstand.

Die toast smaak skielik nie meer so lekker nie.

“Maar ek het dan juis van die huis af wegge ... myself daar onttrek omdat ek nie meer skool wou gaan nie,” probeer hy protes aanteken.

“Ek dra maar net die boodskap oor,” antwoord Marsha. “Jy sal moet leer dat Meneer Frankie se woord en die Wet van Transvaal een en dieselfde ding is,” sê sy aan ’n asvaal Koos.

Koos is skielik nie meer lus vir die eiers en bacon op sy bord wat so aanloklik gelyk het nie.

Maar nog minder is hy lus om in die skool gesit te word ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters