Verlede maand
Oros skrik hom boeglam toe hy ’n ou kennis sien
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Oros en Mandy pretend hulle is die getroude couple Bill en Melinda van Gatesville en gaan na die Borchards-egpaar se kerk. Oros try uitwerk hoekom Mary Borchards hulle onder valse voorwendsels genader het en toe haar man laat ontvoer het. Hul kans om haar te ontmoet, is om voor te gee dat hy en Mandy se “huwelik” tans deur troebel waters gaan. Maar gaan hierdie plan werk? Geniet nou hoofstuk 6 van ELDRIDGE JASON se verhaal “O. Phillip­”.

TOE hulle terug in die kar is, is Mandy soos iemand wat vir ’n hobby slange kan vang.

“Is jy mal in jou kop?” begin sy uitvaar.

“Hierdie is ’n plan wat nie gaan werk nie.”

“En hoekom nie?” vra Oros. “Of likes jy dit nie om my vrou te wees nie? Wil jy dan nie die probleme in ons huwelik uitsorteer nie?”

“Hierdie is nie tyd vir grappies nie,” kap Mandy kwaad terug. Die kwaai-duiwels dans in haar oë.

“Richard en Mary Borchards is nie jou alledaagse mense wat net opelugdienste hou nie. Hulle is powerful.

“Die Borchards word beskou as die presidensie se spiritual ad­visors.­ Het jy dan nie tydens die corona-krisis gesien hulle is pal aan die sy van pres. Ramadoda nie?

“Dan wil ek nie eens daarvan praat dat Mandy, toe sy haar as Clarissa White voorgedoen het, by die kantoor was nie. Sy weet hoe ek lyk en wie ek is.

“Sy sal mos dadelik weet ek is nie Melinda van Gatesville-watsegoeters nie!”

Jirre, hy het nie só daaraan gedink nie.

“Sy weet nie hoe ék lyk nie,” sê Oros ná ’n ruk en begin die Tazz start. “Daai kan seker werk?”

“Hoe kan dit werk as jy en jou vrou huweliksprobleme het, maar jy daag alleen by die berading­sessie op?”

Oros trek sonder ’n verdere woord weg. Mandy is weer reg. Alweer. Mandy is weinig verkeerd.

Toe hy ná sowat 20 minute voor haar huis stilhou, skakel hy die voertuig af en draai na haar.

“Ek kan die eerste sessie alleen bywoon. Net ’n storie spin dat jy ’n migraine het en nie kan kom nie. Ek het buitendien net een sessie nodig om uit te vind wat die storie met Mary Without The Little Lamb se man is.”

Mandy sug swaar. “Dit kan seker werk,” sê sy traag. “Maar jou arme vrou moet nou die vark in die verhaal wees ... Ek wonder watter storie gaan jy spin oor my.”

Oros trek sy skouers op. “Ag, maar net dat jy my met my beste vriend verneuk het en so aantes. Niks hectic nie.”

“Niks hectic nie?” gil Mandy die vraag uit. “Jy kan my mos nie so wil swak maak nie.”

“Ek is nou confused,” sê Oros ietwat geamuseerd. “Hierdie is net ’n opgemaakte storie.

“Ons is mos nie regtig getroud nie. Ons was dan nie eens op ’n honeymoon nie.”

“Ja, ook weer waar,” sê Mandy en Oros sien in die flou straatlig hoe sy weer aan die rooi raak is.

“Dankie vir vanaand, Amandels,” sê hy saggies. “As alles goed afloop … wie weet, dalk is daar ’n vroeër Krismis-bonus vir ons op die spel.

“Ek sal nie weet nie, meneer O. Phillip. Ek het mos nog nooit so iets by jou gekry nie.

“O ja, voordat my ma my weer kruisig – sy wil weet wanneer kom eet jy weer een aand by ons.”

“Een van die dae. Ek belowe,” antwoord Oros. Mandy gee hom net ’n kyk en klim uit.

Oros sit in die kar en wag totdat sy die huis in is voordat hy die Tazz aanskakel.

Hy beter ook maar vroeg in die kooi kom. Môre is D-dag vir hom…

OP DIE kop 19:00 die volgende aand is Oros weer by die kerk.

Nes die vorige aand pyl evangelis Jenneker soos ’n pyl sonder ’n boog op hom af.

“Waar is u vrou, dienaar?” vra Jenneker nuuskierig. Oros brom iets van ’n hewige migraine wat sy vrou plat in die bed het.

“Vir ons manne is die hoofpyn mos maar die oudste truuk in die bed,” sluit Oros af en knipoog vir evangelis Jenneker.

“Ek … ek sal nie kan sê nie,” antwoord Jenneker heel sedig.

“Ek en my vrou laat ons maar deur die gees en die ma en pa van die huis lei.”

Oros wil vra of dit darem ’n stoute gees is, maar hou hom in.

Hy kan nie anders as om te wonder presies hoeveel beheer die Borchards oor hul lidmate het nie.

Toe hulle in die kerksaal kom, herken hy baie van die gesigte van die vorige aand. Maar tot sy skok, sien hy iemand wat hy nooit in sy wildste drome verwag het om daar te sien nie – sy eksvrou, Charné.

Hy het nog nooit so hard gebid soos op daardie oomblik dat Charné hom nie moet sien nie.

Sy staan rugkant na hom en gesels met ’n ander vrou.

Maar hy weet dis sy. Ná jare van getroude lewe sal hy sy vrou met die ge-GHD-de hare met die blonde highlights selfs in die donkerste Eskom-nag herken.

Maar wat soek sy hier? Is sy ook in die Borchards se mag? Is dít waarheen sy pensioen gaan wat hy in die divorce settlement moes spoeg?

Tot Oros se verligting, stuur evangelis Jenneker hom weg van die groep af na ’n gangetjie – dieselfde gangetjie by die kantoor waar hy en Mandy die vorige aand die vorms ingevul het.

Dié keer stap hulle verder die gang af. Oros moet ál sy wilskrag inspan om nie oor sy skouer in Charné se rigting te loer nie.

“Mammie wil jou persoonlik ontmoet,” verduidelik evangelis Jenneker.

“Daddy is nog steeds op sy … uhm … sending-missie, maar die ma van die huis kan nie wag om jou hier by ons te verwelkom nie.”

En om haar kloue in my kam­stige groot salaris te slaan, dink Oros by homself.

Hulle stap tot aan die einde van die gang waar Jenneker drie keer aan ’n deur klop en dan omdraai en wegstap. Sonder ’n woord.

Oros gaap hom verbaas aan en skud dan sy kop. Jenneker lyk ook nie of hy aldag lekker in sy kop is nie, dink hy.

Hy draai die deurknop toe hy ’n “kom binne” vanuit die vertrek hoor. Haastig maak hy die deur agter hom toe en moet sy oë ’n paar keer knip om aan die skielike donkerte gewoond te raak.

’n Hele aantal kerse verlig die vertrek.

“Bill van Gatesville?” vra ’n heserige vrouestem. Oros kyk op en skrik groot.

Nie ver van hom nie staan ’n vrou met net ’n deursigtige visnet-tipe ding aan. Daai uitrustings wat selfs ’n ordentlike lady van die nag nie sal dra nie.

Hy herken haar as die vrou wat saam met Reggie White uit die kroeg gestrompel het.

Maar hoekom is sy kaler as halfkaal geklee? En vir wat kom sy met sulke swaaiende, verleide­like heupe in sy rigting gestap?

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters