Verlede maand
Oros se gesprek met die wulpse Mary raak intens
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Oros ontmoet finally vir Mary Borchards van die Butterfly Projek Heilige Gemeente van Onse Heer-kerk. Die einste Mary wat haar man laat ontvoer het, soos hy vermoed. Maar dis ook ’n Mary wat skraps geklee en halfkaal in sy rigting gedans kom. Oros kan nie anders as om te wonder wat nou aangaan nie. Watse kerk is dit dan dié? Geniet hoofstuk 7 van ELDRIDGE JASON se verhaal “O. Phillip­”.

OROS voel hoe die paniek hom bekruip.

Moenie ’n fout maak nie – Mary Borchards is ’n mooi vrou, fishnet stockings of te not.

Maar Oros kan nie anders as om te wonder wat vir ’n kerk hierdie dan is waar hulle nuwe gemeentelede halfkaal verwelkom word nie.

Hy beur deur se kant toe, maar Mary se gelag laat hom in sy spore vries.

“Hierdie is ’n eerste,” sê Mary in ’n heserige stemtoon.

“Speel jy dan vir die ander span?” vra sy.

“Nee ... uh ... natuurlik nie,” antwoord Oros vinnig. “Maar ek was lanklaas in ’n kerk. Ek het nie besef dís hoe daar deesdae kerk gehou word nie.”

Mary draai sonder ’n woord om, stap tot by ’n bed en gryp die japon wat daarop lê. Sy trek dit stadig aan.

Baie stadig lek Oros weer ongemaklik oor sy kurkdroë lippe. Dan swaai sy om en glimlag vir hom.

“Ons noem hierdie die toets van die vlees,” sê sy. “Natuurlik was dit nie die plan om met jou te slaap nie. Jy is getroud. Ek is getroud. Groot sonde. Jy verstaan?”

Oros kan net stom knik. Mary wys na ’n stoel waarheen hy haastig stap voordat sy bene hom in die steek laat.

“Hier by die Butterfly Projek Heilige Gemeente van Onse Heer speel ons nie kerk-kerk nie.

“Ons is nie ’n kerk waar mense Sondae maskers kan opsit en pretend dat hulle deur die Gees gelei word, maar by hul huis word hulle deur die duiwel verlei nie.

“Hierdie is ’n ernstige saak waar ons seker moet maak mense is hier vir die regte redes. Jy verstaan?”

Weer knik Oros stom. Hy hoor wat sy sê, maar om iemand met ’n strip show te wil toets ... is dit dan nie iets straight uit die duiwel se How To Get Dirty manual nie?

“Het jy geweet butterflies gebruik hul voete om mee te proe?” onderbreek Mary sy gedagtegang met haar vraag.

Voordat Oros egter kan antwoord, gaan sy voort: “Hulle word ook as koudbloedige diere geklassifiseer, maar ek kan jou verseker hier in ons gemeente is daar baie warmbloedigheid.”

Dít kan jy weer sê, dink Oros, maar kap zip.

“Hoekom is jy hier?” vra Mary en kyk hom stip aan. “Evangelis Jenneker praat van huweliksprobleme wat jy en jou vrou het, maar ek dink nie dis die rede hoekom jy hier is nie.”

“Uitgevang,” sê Oros en gooi sy hande in die lug.

“Ek moet eerlik wees. Ek het gehoor julle is ’n baie suksesvolle kerk met baie geld.

“Ek soek werk. want met Covid het ek my inkomste verloor en ek kan nie meer vir my gesin sorg nie. Ek het gedink–”

“Dat hierdie ’n kerk van freebies is?” val Mary hom in die rede.

Verbeel hy hom of is daar nou ’n hardheid in haar oë?

Oros probeer sy bes om die beste voorbeeld van verleentheid te wees.

“Ek is jammer,” prewel hy. “Die bank is op my case oor die bond, die kinders se school fees is agter. Net laas week moes ons die hond laat uitsit oor hy al agteruit gegaan het van min eet ...”

Mary kom tot by hom gestap. Sy lig Oros se ken met haar een vinger op.

“Hier by Butterflies ken ons nie van gaan lê nie,” sê sy saggies.

“Die lewe het jou hard geslaan. Ek verstaan dit. Maar dis jou job om terug te slaan.”

“Maar hoe ... hoe doen ek dit? Hoe slaan ek terug op ’n leë maag?”

Mary draai van hom af weg en stap tot by die venster waar sy met haar rug na Oros staan.

“Deur jou lojaliteit te bewys aan diegene wat jou kan help,” sê sy ná ’n ruk.

“Wat is jy bereid om te doen?”

“Enigiets,” antwoord Oros gretig. “Ek sal selfs moor ...”

Oros bly meteens stil. Hy was nie van plan om dit te sê nie. Die woorde het sommer net uitgeglip. Maar dit blyk dat dit die gewenste uitwerking gehad het, want Mary draai om en glimlag.

Oros weet nie of hy hom verbeel nie, maar is dit goedkeuring wat hy in haar oë lees?

“Die lewe is vol toetse,” sê Mary en kruis haar arms. “As jy jou toets slaag, is hier ’n toekoms vir jou. Een waar ons ál jou geldelike probleme soos mis voor die son sal laat verdwyn.”

“Sê net wat ek moet doen,” antwoord Oros. Hy hoop hy klink gretig en uitgevreet genoeg.

“Daar is iemand wat ... kom ons sê net die persoon is ’n probleem. Hy is nie die mens wat ek gedink het hy is nie. Gedink hy kan my in sy skadu hou en om die bos lei met al wat liegstorie is.”

Mary bly ’n oomblik stil en byt op haar onderlip. Haar oë blits van woede. Haar stem drup van bitterheid.

“Kom ek sê byvoorbeeld ek wil hierdie persoon van die aarde afvee ... Sal jy bereid wees om jou bydrae te lewer? Hierdie is net ’n voorbeeld wat ek maak.”

“As dit my en my gesin kan bevoordeel ... Hoekom nie?” antwoord Oros.

Mary kom tot by Oros gestap. Sy kyk hom ondersoekend op en af.

“Maar kan jy ’n lewe neem?

“Sal jy met jou gewete kan saamleef?” vra sy intens.

Oros trek sy skouers op. “Ek is maar net mens. Ek moet oorleef. Niemand wil my dan help nie.

“Mense sal net om my graf wil staan en skreeu as ek die dag vrek van die honger.”

Mary knik goedkeurend.

“Die mense wat jou in die lewe die meeste ’n onreg aangedoen het, wil die dag van jou begrafnis die hardste huil.

“Baiekeer lyk dit asof hulle saam jou in die gat wil spring, so gevul met remorse is hulle. Spyt kom mos maar altyd later as die kis by die graf aan.”

Mary staar vir ’n wyle na hom, duidelik diep ingedagte.

“Orrait,” sê sy dan. “Hierdie gesprek het nie plaasgevind nie. Ek kry jou môreoggend by die pastorie vir ontbyt. Kom ons kyk dan of jy steeds belangstel.”

Sy stap weer tot by die venster en keer haar rug op Oros.

Oros sien dit as sy cue om te skoert – wat hy maar alte verlig is om te doen. Toe hy die deur agter hom toemaak, blaas hy sy asem verlig uit. Mary Borchards wil hê hy moet haar man doodmaak, daaraan twyfel hy nie.

Toe hy opkyk, kyk hy vas in die kil blik van evangelis Jenneker.

“Ek dink jy moet saam met my kom,” sê die evangelis stroef. “Voordat jy die grootste fout van jou lewe maak ...”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters