Verlede maand
Op Oukersaand verander Michael se lewe heeltemal
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Vandag begin die verhaal "Trane oor die Feestyd" deur CHRISTO MEYER. Geniet nou hoofstuk 1.

DIT is Oukersaand op Kanarievlei. Die strate is bedrywig. Oral speel musiek. Ek kuier by antie Rina.

Ma het gesê ek kan vanaand hier slaap. Pa kan my vroeg môreoggend kom haal.

Ons gaan elke Kersdag kerk toe. Ek sien altyd uit na die storie van Josef en Maria. Dit is een van die mooistes in die Bybel.

Ek het twee dae gelede 13 geword. Volgende jaar gaan ek hoërskool toe. Ek is baie opgewonde, al weet ek ek gaan my vriende en onder­wysers mis.

Antie Rina is my pa se ouer suster. Sy het nie kinders nie. Dis net sy en oom Marthinus.

Hy is ’n stil man wat hou van lees. Hy drink nie wyn soos my pa nie.

Antie Rina het vir my ’n selfoon gekoop. Sy sê sy wil nie hê ek moet uit voel volgende jaar tussen my nuwe maats nie.

“Antie Rina bederf jou te veel,” is Ma lief om te sê.

“Ek hoop jy waardeer alles wat sy vir jou doen. Jy is gelukkig om iemand soos sy in jou lewe te hê.”

Natuurlik waardeer ek dit. Antie Rina is die beste.

Ons sit voor die televisie; kyk na ’n vertelling oor Jesus se geboorte.

Ek eet chips en lekkers en ice-cream. Buite hou ’n kar stil.

Ons loer deur die venster en sien dis Pa.

“Ek wonder wat kom maak hy hier,” sug antie Rina. “Ons sien mekaar mos môre.”

“Rina, ek kom haal my klong,” roep Pa.

“Ons moet dadelik Porterville toe ry. My ma het ’n stroke gehad en die dokters weet nie of sy dit gaan maak nie.”

Antie Rina loop uit. “Kyk hoe lyk jy, Kelvin. Jy is nie veronderstel om in jou toestand te bestuur nie. Jy’s dronk.”

“Ek makeer niks. Ek het vir Michael kom haal. Ons moet dadelik ry.”

As Pa eers ’n ding in sy kop het, is dit moeilik om hom daarvan te laat afsien.

Ek sal seker maar moet gaan. Maar antie Rina gee nie maklik moed op nie. Dis een van die redes waarom ek so lief is vir haar.

“Kelvin, as jy iewers heen wil ry, doen dit op jou eie. Michael bly net hier.

“Ek weet nie hoekom gaan slaap jy nie eers nie. Jy kan mos môre ook ry. Porterville is minder as drie ure se ry hiervandaan.”

“Jy kan nie vir my besluit nie, Rina. Michael is my kind, nie joune nie. Hy moet saam.”

“Het jy nie ore nie? Ek sê mos Michael gaan nêrens nie.

“As jy jou en Monique se lewe in gevaar wil stel, doen dit gerus. Michael bly net hier.”

Pa draai om, klim in sy motor en trek met skreeuende bande weg.

“Hoekom moet Kelvin altyd so hardkoppig wees?” vra oom Mar­thinus.

“Hy weet dan dis gevaarlik om dronk te bestuur. Hoekom is hy so onverantwoordelik?”

URE later is ons nog wakker. Ons luister na Boney M.

Oom Marthinus sing kliphard saam.

Die meeste note kom vals uit, maar hy steur hom nie daaraan nie. Lyk my hy kom dit nie eens agter nie.

Dan is daar skielik ’n gehamer aan die deur. Oom Marthinus draai die musiek sagter.

Toe hy oopmaak, staan daar twee polisiemanne in uniform op die stoep. Die een lyk meer ongemaklik as die ander. Hulle stel hulself voor.

“Ons bring nie goeie nuus nie,” sê die een.

“Iets verskrikliks het gebeur. Kelvin en Monique de Craba was in ’n ongeluk betrokke. Nie een van hulle het dit oorleef nie.”

Ek begin huil. Hoekom het Pa nie na antie Rina geluister nie? Hoekom het hy sy eie kop gevolg? Hoekom het hy nie gewag totdat hy nugter was nie?

Dis my seerste Kersfees ooit. Albei my ouers is weg.

“Wat gaan van my word?” vra ek vir antie Rina.

“Ek is minderjarig. Ek wil nie weeshuis toe gaan nie.”

“Moet jou nie daaroor bekommer nie,” probeer sy my troos. “Ons sal dit nooit toelaat nie.”

MY OUERS word op Oujaarsdag begrawe.

Almal is al weg toe staan ek en antie Rina nog by die grafte. Oom Martinus wag in die motor.

“Michael, as jy wil, kan ek en oom Marthinus jou aanneem.”

Daardie woorde van haar maak die pyn ’n bietjie ligter.

“Dankie, antie Rina. Ek belowe ek sal nie stout wees nie.”

“Onthou net, ons probeer nie jou ouers se plekke inneem nie, net dinge vir jou makliker maak.”

DIE tyd stap vinnig aan. Dis my eerste dag op hoërskool.

Ek is opgewonde, maar ook bang en onseker. Wat as ek sukkel om aan te pas?

Dis ’n nuwe omgewing, ’n nuwe atmosfeer. En ek is nog lank nie oor my ouers se dood nie.

Dit lyk my ek was verniet bekommerd. Ek pas vinnig aan, maak gou nuwe vriende en sien sommer uit na die res van die jaar.

Ek neem deel aan atletiek en hoewel ek nie onder die eerste drie eindig nie, geniet ek elke oomblik daarvan.

Antie Rina en oom Marthinus is trots op my.

“Jy gaan seker rugby ook speel, nè?” sê-vra oom Marthinus een oggend. “Op laerskool was jy mos ’n staatmaker.”

Ek kry trane in my oë. Op laerskool het Pa my altyd aangemoedig.

Hy was elke Saterdag langs die veld. Nou is hy nie meer daar nie. Sal dit nog steeds lekker wees om rugby te speel?

“Ek sal miskien nie elke game van jou kan kom kyk soos wat jou pa gedoen het nie, maar ek sal gereeld ’n draai kom maak,” sê oom Marthinus asof hy my gedagtes kan lees.

My eerste jaar op hoërskool is glad nie so moeilik soos ek gedink het dit sou wees nie.

Ek verlang nog na my ouers, maar antie Rina en oom Marthinus se ondersteuning beteken baie.

So een keer ’n maand gaan maak ons ’n draai by Ma-hulle se grafte.

“Jou ouers was wonderlike mense,” sê antie Rina een Sondag.

“Ek wil hê jy moet altyd die goeie tye onthou. Daar is ook ’n les wat jy uit hul dood kan leer.”

“Watse les, my antie?”

“Dronkbestuur, my kind. Ek hoop jy gaan nie eendag dieselfde fout begaan nie.

“Moet nooit jou of iemand anders se lewe in gevaar stel deur dronk agter ’n stuurwiel in te klim nie. Dit het gewoonlik tragiese gevolge.”

Ek is dankbaar vir antie Rina. Sy weet altyd van beter. As sy nie op Oukersaand haar voet dwars gesit het nie, het ek ook waarskynlik in die ongeluk omgekom.

Net die gedagte daaraan stuur ’n rilling deur my lyf.

  • Op daardie oomblik maak ek ’n belofte aan myself: Ek wil nooit ’n voertuig bestuur as ek onder die invloed van alkohol is nie. Ek wil nie vir iemand anders se dood verantwoordelik gehou word nie. Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters