29 dae gelede
Oom Mannie se verrassing maak die susters bly
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

’n Koekblik Vir ’n Beter Lewe is ESME CUPIDO se jongste skryfstuk. Geniet die tweede hoofstuk!

TOE Jenny by hul woonstel inhardloop, is Mia besig om die kombers op te vou.“Oom Mannie... dit lyk asof oom Mannie... ek het nou net...”

Sy hardloop kombuis toe, voel in haar boeksak na haar selfoon.

Toe besef sy sy het nie airtime nie. Mia kom by die kombuis ingestap.

“Wat sê jy? Wat van oom Mannie?” vra sy terwyl sy weer in die leë yskas tuur.

“Oom Mannie lyk... dood,” sê Jenny, steeds geskok oor wat sy gesien het.

“Dalk slaap hy net,” sê Mia skouerophalend. “Wanneer eet ons?”

“Tensy oom Mannie met oop oë slaap, nee. Ek sal iemand moet kry om te gaan kyk.”

“Kom ek gaan saam met jou,” sê Mia nadat sy in die oond geloer en ’n stukkie hoender in haar mond gedruk het.

“Ek is ernstig, Mia. Nee, jy kan nie gaan kyk nie. Ons moet iemand sê, maar vir wie?”

Jenny probeer deurmekaar in haar kop uitwerk wie sy moet roep.

Die man wat in die eerste flat bly. Ja, hy en oom Mannie gesels mos met mekaar, dink sy verlig.

Sy loer na oom Mannie se woonstel voordat sy vinnig in die teenoorgestelde rigting stap.

Sy het skaars geklop toe die deur oopgeruk word.

“Ja?” sê-vra ’n vrou nors. Sy kyk na Jenny se leë hande.

“Waar’s die pizzas?” vra sy.

“Nee, ek... waar is meneer … die meneer wat hier woon?” vra Jenny en wring haar hande gespanne inmekaar. Sy het nie geweet die man het ’n vrou nie.

“Hoekom?” Sy kyk Jenny agterdogtig aan. “Wie’t jou gestuur?

“Kom smous jy jou ma se doilies of pies en samoosas? My maag kan nie daai sterk goed vat nie.”

Voordat die vrou die deur kon toegooi, sê Jenny vinnig: “Oom Mannie is dood. Asseblief, is u man by die huis?”

Die vrou kyk haar nuuskierig aan. “Die ouman op die hoek? Genade ons. Was hy siek?”

Voordat sy enigiets kan sê, verskyn die man in die deur.

Hy kyk van die vrou af na Jenny.

“Jy is die meisie van nommer 7. Kan ek help?”

“Sy sê ou Mannie is dood. Hartaanval. Ons het hom dan nog gisteraand gesien, onthou jy?”

Sy klik haar tong. “Shame.”

“Nee, ek weet nie waaraan hy dood is nie. Kan u asseblief kom kyk?

“Ons moet die polisie bel of die dokter. Ek weet nie,” sê Jenny dringend en stap ook sommer dadelik weg.

Sy hoor die man vir die vrou sê om die polisie te bel. Toe sy omkyk, sien sy hoe die man woedend vir die vrou iets sê.

Toe kom hy vinnig agter haar aangestap.

“Wanneer het jy besef hy is … dood? Was jy daar?” vra die man saaklik.

“Ek het vir hom kos geneem en toe sit hy net daar. Dood,” sê sy ontsteld.

Sy stoot oom Mannie se deur huiwerig oop en die man keer haar voordat sy instap.

“Wag jy hier.” Die man gaan in en kort daarna sien sy ligte aangaan.

Sy onthou van Mia en stap gou om na hul woonstel. Mia sit met opgetrekte bene op die bank en kyk met rooi, pofferige oë na Jenny.

“Ek was nou daar, ek het gesien,” sê Mia en begin opnuut huil.

“Jy moes nie gegaan het nie,” sê Jenny sag en vryf Mia se hare deurmekaar.

“Daar is hoender in die oond. Jy moet eet, ek sal later.”

Daar is ’n ligte klop aan die deur en toe Jenny oopmaak, knik die man net sy kop en sê sag: “Die polisie is op pad. Julle kan maar gaan slaap. Ek sal met hulle praat.

“Sal julle oukei wees?”

“Ja, dankie, Meneer,” antwoord Jenny.

Die volgende oggend, ná ’n nag van rondrol, maak Jenny lusteloos gereed om kampus toe te gaan.

Mia wou nie skool toe gaan nie, maar Jenny het haar omgepraat om tog te gaan.

Toe Jenny haar sak in die kombuis van die stoel afhaak, is daar ’n klop aan die deur.

Voor die deur staan daar ’n vreemde man.

“Goeiemôre, juffrou...”

“Koopman. Jenny Koopman.”

Hy sê: “Ek weet u is haastig.

“Ek is sersant Van Rooyen. Kan ek vanaand by u ’n draai kom maak in verband met Manfred Jacobs se dood?”

“Ja, seker, meneer. Is daar ’n probleem?” vra sy angstig.

Haar angstige stemtoon laat die sersant vreemd na haar kyk, maar hy antwoord: “Net ’n paar roetinevragies. U was mos die eerste een wat op sy... wat op hom afgekom het, nè?”

“Ja,” sê sy ontstem. “Was dit ’n hartaanval of ’n ander...”

“Ek sal u vanaand inlig. So 19:00?”

Die namiddag toe Jenny by die huis kom, sien sy ’n briefie teen die yskas in Mia se ronde handskrif – sy is gou na ’n skoolmaat toe.

Die yskas is dolleeg behalwe vir ’n bottel water, ’n bakkie botter en ’n stukkie kaas. Sy sug.

Dan maar weer ’n lemoen eet.

Oom Mannie het nog vir oulaas tot hul redding gekom met die sak lemoene, dink Jenny toe sy die sak optel en op die tafel sit.

Sy haal ’n glasbak uit die kas om van die lemoene daarin te gooi.

Dis toe sy die sak omdop dat sy ’n harde ding onder in die sak voel. Sy gooi fronsend ’n klompie lemoene in die glasbak en voel met haar hand totdat sy die harde blik onder in die sak raakvat.

Toe sy die ronde koekblik uitlig, glimlag sy.

Dit sal net oom Mannie wees, dink sy. Steek die blik koekies onder in die sak weg om ons te verras.

Sy sak op ’n stoel neer en hou die blik teen haar bors vas.

Die trane loop ongehinderd oor haar wange.

Liewe oom Mannie. Sy wens hulle het hom beter geken.

Die laaste paar maande het hy baie vir hulle beteken.

Sy vee haar trane met haar hand af toe sy die voordeur hoor oopgaan.

Jenny hoor die televisie aangaan en sy roep: “Mia! Kom kyk hier!”

“Wat? Komkommerland begin nou.”

Mia kom traag na die kombuis aangestap, maar haar ogies blink toe sy die koekblik sien.

“O, lekker. Waar kom dit vandaan?”

“Oom Mannie het dit vir ons in die lemoensak weggesteek. ’n Laaste verrassing.”

Die blik is met kleeflint langs die kante toegeplak en Jenny trek alles sorgvuldig los.

“Miskien moet ons wag totdat ons klaar geëet het,” terg sy, maar Mia skud heftig haar kop.

“Net enetjie, asseblief, sus,” pleit Mia.

  • Toe Jenny die deksel oplig, staar die susters in afgryse na die inhoud ... Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters