17 dae gelede
Oom Boesman kom met ’n wilde plan vorendag
 ~ 

HÊPPIE New Year, almal! Oom Boesman is nie meer lus om met antie Gertruida getroud te wees nie. Maar die oom wil ook nie skei en die helfte van sy wêreldskatte afgee nie. Hy glo oom Andrew, hul resident lykoptooier, is net die regte antwoord. Maar hoe kan iemand wat lyke opdollie vir hom van hulp wees? Geniet hoofstuk 2 van EL­DRIDGE JASON se “Oulik en Lillik”.

OOM Andrew het rustig op sy stoep met ’n teetjie gesit toe oom Boesman in sy spoggerige wa optrek.

Die oom het dadelik gefrons, want hy en Boesman Lawack was nie vriende nie – net gegroet as hulle mekaar in die kerk of op straat gesien het. Boesman het net omgegaan met mense wat geld gehad het en hy wat oom Andrew is, was die stiefkind van geld.

Toe Boesman Lawack uit sy spoggerige kar klim, het oom Andrew ’n bietjie van sy tee in die piering gemors.

Hy’t lanklaas so ’n ghai gesien, het oom Andrew verwonderd gedink. Boesman Lawack was die Markham-pop in lewende lywe. Die pop sonder die vertoonvenster, maar wat baie vertonerig rondgeloop het.

Vir ’n man van sy ouderdom het Boesman nog getry om soos ’n jong man aan te trek.

Maar die Redbat-vessie het nie gepas by sy boep nie. Sy fader haircut kon nie kompeteer met sy fading haarlyn nie.

Die tekkies wat hy cash by Sportscene gekoop het, was meer geskik vir ’n tienerlaitie.

“Condolences vir die nuwe jaar,” het oom Boesman al van die hekkie geskree.

Oom Andrew het snaaks tot in sy kleintoontjie gekry.

Oom Boesman was een keer in sy lewe in die Kaap, toe verbeel hy hom hy kan Engels praat. Praat ook nou gereeld van “yous” en “why must I talk with you so long?” en “reverse agtertoe”.

Oom Boesman het langs hom kom sit en val toe sommer weg met ’n geselsie oor die weer en die “Carolina”-virus wat nou ook sy kop uitgesteek het in Peanutbutterenjam Valley.

Toe oom Boesman besef oom Andrew is nie lus om oor Carolina te gesels nie, besluit hy om tot die punt te kom.

“I see your business is doing now all very good,” skop die oom af.

Stilte. Oom Boesman maak keelskoon en probeer maar weer.

“Ek wil graag van jou dienste gebruik maak. En mind you, ek is bereid om baie goed vir jou dienste te betaal. Baie goed.”

Oom Boesman beklemtoon sy laaste woorde dramaties.

“Maar hier is ’n baie ... hoe sê die Ingelsman nou weer? ... deli­cious saak.”

“Delikate saak,” korrigeer oom Andrew hom.

“Dis wat ek bedoel het, maar wat weet jy ook dan nou van Engels af,” kap oom Boesman terug.

Oom Andrew sug en besluit om maar niks te sê nie. Die Here ken sy hart, dink hy.

“Anyhow,” gaan oom Boesman voort, “dinge is nie meer lekker tussen ek en Gertruida nie. Tussen ons gesê: Ek wil skei.

“Maar ek is ook nie bereid vir ’n skeisaak waar sy die helfte van my geld gaan kry nie.”

Oom Andrew draai verbaas na oom Boesman. Mense wat in glashuise en kluise vol geld bly, het die vreemdste van probleme, dink hy. Gertruida is ’n agtermekaar vrou, dra haar jare nog goed en glimlag altyd met almal.

Vir so lank soos wat hy kan onthou, word Gertruida elke jaar gekroon as Peanutbutterenjam Valley se Vrou van die Jaar.

Is ou Boesman dan so oor geld dat hy dit met niemand – nie eens sy eie vrou – wil share nie?

Toe oom Andrew vir te lank na sy sin stilbly, gaan oom Boesman voort: “Ek het ’n plan, maar ek het jou skills nodig.”

Oom Andrew kug.

“Ek hoop nie jy het moord op die brein nie, want soos jy weet, werk ek met lyke,” laat hoor hy.

Oom Boesman gooi sy hande in die lig.

“Whoa! Whoa! Nee, man! Wie wil dan nou so vroeg in die jaar tronk toe gaan?”

Oom Andrew rol sy oë. Boesman kan só dramaties wees, dink hy. Maar dit is ook so: Met daai pofferhandjies en Redbat-bekleedsel sal hierdie man nooit in die tronk oorleef nie.

“Ek het agtergekom jy kan toor met selfs die lelikste gesig,” sê oom Boesman en knipoog vir oom Andrew.

“Ek wil Gertruida aan die cheat kry. Dis die enigste manier hoe ek haar nie ’n sent uit ons egskeiding hoef te betaal nie.

“Ek wil hê jy moet my ’n mombakkies maak en dan wil ek voorgee om iemand anders te wees.”

Oom Andrew kan sy ore nie glo nie. Is die man dan mal? Tik oom Boesman dan in die stilte?

“Ek sal jou R250 000 vir jou moeite gee – dit is nou te sê as jy ’n goeie job kan doen,” onderbreek oom Boesman oom Andrew se gedagtegang. “En nóg ’n R250 000 as ek hierdeur suksesvol van Gertruida kan skei, sonder om haar ’n sent te hoef te betaal.”

“Hoekom?” vra oom Andrew en loer met skrefiesoë na oom Boesman.

“Hoekom?” is die teenvraag. “Ek verwag nie van jou om te verstaan waardeur ’n getroude man gaan nie. Jy was nog nooit getroud nie.

“Dis hel. Ek wil uit.”

“Ek dink nie dis ál rede nie,” antwoord oom Andrew. “Jy weet mos hoe stories hier kan loop en ek het ’n voëltjie hoor fluit dat–”

“Die mense praat k*k,” val oom Boesman hom kras in die rede. “Ek en Janice is maar net vriende.

“Ek probeer haar help om haar sangloopbaan van die grond af te kry.”

“Maar oor wie se mic oefen sy?” kap oom Andrew terug.

Oom Boesman raak bloedrooi in die gesig. Hy lyk soos iemand wat loshande die oudisie sal wen om in ’n advertensie vir All Gold-tamatiesous te speel.

Oom Boesman vlieg op. ’n Wit kolletjie skuim sit langs die kant van sy mond Hy is ontsteld. Diep ontsteld. Oor die waarheid.

“Ek laat nie so met my praat nie,” sê oom Boesman deur stywe lippe.

Die oom is op die punt om aanstaltes te maak, toe oom Andrew hom keer. R500 000 is immers nie R500 nie.

Daar is beslis baie finansiële vlieë wat hy met een klap sommer vroeg in die nuwe jaar kan wegklap, redeneer hy.

“Oukei, oukei. Ek sal na jou plan luister,” sê oom Andrew. “Maar niks onwettigs nie. Gertruida is ’n goeie mens. Ek gaan nie iets doen wat haar gaan ruïneer nie.”

“Hoe lyk dit dan jy het ’n sagte plekkie vir haar?” vra oom Boesman.

Oom Andrew begin soos ’n stukkende plaat te hakkel en raak dan bloedrooi uit sy nek uit.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters