16 dae gelede
Oom Andrew sê ja, maar het tog snuf in die neus
 ~ 

HÊPPIE New Year, almal! Oom Boesman is vas oortuig oom Andrew kan hom help en bied hom ’n stewige bedrag geld aan. Oom Andrew is egter vasbeslote dat antie Gertruida nie in die proses moet seerkry nie. ’n Sentiment wat oom Boesman laat wonder of die oom dan nog steeds ’n ogie op sy vrou het. Geniet hoofstuk 3 van EL­DRIDGE JASON se “Oulik en Lillik”.

OOM Boesman gluur oom Andrew ondersoekend aan.

Sy brein se ratte werk oortyd. Hy was immers die een wat destyds, toe oom Andrew in die Vrystaat gaan werk het, by Gertruida gaan vlerksleep het.

As’t ware is hy die een wat Andrew se hand by Gertruida in die as geslaan het.

Kan dit wees dat hy ná al die jare steeds ’n sagte plekkie het vir sy vrou? Dalk is dit iets wat hy tot sy voordeel kan gebruik.

“As my plan werk, dan kan jy met die grootste liefde vir Gertruida kry,” sê oom Boesman. “Jy hoef niks te sê nie; jou gevoelens is soos een van Donald Trump se twiets op jou gesig geskryf.”

Dis toe dat oom Andrew uitbars van die lag. Om met Donald Trump vergelyk te word, is ’n grap. Niemand kan daarteen stry nie.

Nadat sy lagbui bedaar het, draai oom Andrew na ’n duidelik geïrriteerde oom Boesman.

“I don’t like being laughed out,” sê oom Boesman deur stywe lippe. “Ek is ’n man van aansien.”

“Ek is seker Janice sien dit ook so,” antwoord oom Andrew in ’n rustige stemtoon.

“Ek gaan nie oordeel nie. PG Glass het almal van ons se huise gebou. Solank Gertruida nie seerkry nie, sal ek die job aanvaar.

“Kom ons agree to disagree.”

“Kom ons hou maar die degrees vir die student,” sê oom Boesman. Oom Andrew sug swaar. Jirre, dink hy, wanneer gaan my beker van marteling dan leegloop?

“Luister nou mooi,” sê oom Boesman. “Listen carefully beautiful. Dít is wat ek wil hê jy moet doen.”

Hoe meer oom Andrew na oom Boesman luister, hoe meer begin sy mond oophang vir die oom se oordrewe plan. Hy is nou meer oortuig as ooit tevore dat oom Boesman nie net tik nie, hy glo sy varkies bly lankal nie meer in dieselfde hokkompleks nie …

Oom Andrew slaak ’n sug van verligting toe oom Boesman in sy spogwa wegtrek.

Mense! Kan jy nou so lief wees vir geld dat jy dit nie eens met jou vrou wil deel nie?

Hy wat oom Andrew is, is daarvan oortuig dat oom Boesman nie eens eendag by die poorte vir Petrus sal wil ice cream koop nie.

Dat oom Andrew se klits nie meer werk nie, daarvan is hy vas oortuig. Hoekom nie net skei nie?

Hoekom nie net 50% van sy skatte sacrifice vir sy vryheid nie?

Oom Andrew skud sy kop en staan dan stadig van die bankie af op. Hy het werk wat wag. Daar is ’n varse body wat hy vir môre moet regkry, en dan sal hy aan oom Boesman se plan ook aandag moet gee.

Toe oom Andrew by die lykshuis kom, wag ’n verdrietige storie en ’n half hom in.

Die familie van die oorledene sit die hele ontvangsarea om. Nie een het ’n masker op nie.

Daar is antie Nonnie Karelse, die bedroefde weduwee, asook haar en oom Gert se dogter, Whitney-Beyoncé, en die tweeling, Ophelia en Delia.

Whitney-Beyoncé het haar naam te danke aan die feit dat antie Nonnie nie seker was of sy met somebody soos oom Gert die liefdesdans wou dans of ’n single lady wou bly nie.

Drie dogters. Almal single, want hulle vou pizza slices soos ’n klein snytjie brood en niemand in Peanutbutterenjam Valley het soveel geld om op pizzas uit te gee nie.

“Mense, weet julle dan nie van social distancing nie?” begin oom Andrew sommer skel.

“Ons is nie op social media nie,” antwoord antie Nonnie Karelse.

Sy praat in ’n sagte stemmetjie. Laas week se traanspore lê nog oor haar wange. Die antie is diep, diep hartseer.

Oom Gert het laas week sy gesig in ’n vuurwarm buite-oond gedruk om te bewys hy is teen hitte bestand. Dít terwyl hy veels te veel Black & White ingehad het.

Daai goed laat jou vel so vrot, jou Saligmaker sal jou nie wil aanraak nie.

Dis ’n slegte, slegte whisky wat die mense eeue gelede gebruik het om duiwels uit te dryf.

Ongelukkig vir oom Gert het hy nog so holle in die lug voor die oond gestaan toe een van die bure se kinders om die draai gehardloop kom en in hom vasploeter.

Die buite-oond was net twee grade koeler as die hel toe oom Gert gesig eerste diep ingestoot word.

Dit was ’n fatale stoot waaroor talle mense vandag nog nagmerries kry.

Toe gaan sit sy boep ook nog vas en dit raak toe omtrént ’n gesukkel soos benoude inwoners hom probeer uittrek.

Teen die tyd dat hulle die oom wel kon uitkry, het sy gesig gelyk soos ’n snytjie brood wat Albany beslis nie in sy advertensies sou gebruik nie.

Dit het gelyk asof die oom se hele gesig pink eyes het.

Nou wil antie Nonnie bitter graag ’n oop casket hê en daar word van oom Andrew verwag om buite die grense van die hemel ’n wonderwerk te verrig.

“Andrew, sal jy my Gert mooi kan maak?” vra antie Nonnie en snuif-snuif weer in haar sakdoek.

Oom Andrew maak eers seker dat daar meer as 1,5 m tussen hom en antie Nonnie is voordat hy antwoord.

“Ek kan niks belowe nie, belov­ed. Al wat ek mos darem kan doen, is my beste.”

Antie Nonnie knik bewoë terwyl die trane weer oor haar wange begin stroom.

Haar kinders probeer haar halfhartig op die skouer klop, maar vir oom Andrew is dit duidelik dat hulle eerder nou iewers met ’n pizza sou wou sit.

Antie Nonnie knik na ’n Pep Stores-sakkie wat eenkant staan.

“Ek sal graag wil hê dat Gert daai klere in sy kis moet aanhê,” sê sy snikkend.

“Gert was mos ’n painter. ’n Baie goeie painter. Ek wil hê hy moet in sy overall begrawe word.”

“Om wie se huis in die hiernamaals te moet gaan paint?”

Die woorde is uit voordat oom Andrew hom kan keer.

“Askies?” vra antie Nonnie verontwaardig.

“Nee, nee, ek wou net weet van die Nagmaal,” skerm oom Andrew.

Sy verligting is groot toe antie Nonnie haar logge liggaam uit die stoel opbeur. Die stoel is net so verlig.

Oom Andrew is dadelik na die storage-plek om aan oom Gert aandag te gee.

En te begin werk aan die plan om oom Boesman weer single and ready to mingle te maak...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters