15 dae gelede
Oom Andrew kry ’n oproep wat hom nervous maak
 ~ 

HAAI Sonlanders! Oom Boesman wil skei, maar wil nie afkap met sy geld met antie Gertruida nie. Hy vra oom Andrew, hul dorp se lyk-opdosser, om hom te help om antie Gertruida aan die cheat te kry. Dan sal sy nie op sy weelde aanspraak kan maak nie. Oom Andrew stem teen ’n lekker stewige bedrag in om te help, maar moet ook nog aandag gee aan oom Gert, wat liederlik verbrand het en wie se lyk mooi gemaak moet word vir sy funeral. Geniet hoofstuk 4 van EL­DRIDGE JASON se “Oulik en Lillik”.

MENSE, dit was ’n stryd der stryde om oom Gert betaamlik genoeg te laat lyk vir sy finale afskeid.

Maar die dag van die oom se begrafnis was almal dit eens dat oom Andrew weer homself oortref het.

Oom Gert het wel gelyk asof hy ’n bietjie sunburn gehad het, maar dit was nie so erg soos die heartburn waarmee dominee Jannie Jansen tydens sy preek gesukkel het nie. Dit kom mos nou van stilletjies die Nagmaalwyn laataand op die proef wil stel.

Dinge het egter uitgerafel toe oom Gert se een dogter, Whitney-Beyoncé, in die diens ’n lied aan haar pa opgedra het.

Haar weergawe van ’n Alicia Keys song wat sy sommer “This Boy is on Fire” gedoop het, het antie Nonnie weer in trane gehad.

Halfpad deur die song het die antie flou omgekap en moes ge­lawe word met asynlappies en olieblare op die voorkop.

Die helfte van die begrafnisgangers was nie meer lus om op hul tande te kners nie en het die kerkgebou verlaat. So ook oom Andrew, wat nie lus was om na “Weer Ontmoet” by die gat te gaan luister nie.

Vir die afvalkerrie wat later in die kerksaal bedien sou word, was hy ook nie lus nie. Hy het immers al te veel gesien hoe grawe die antie wat die kos sou maak, alte diep in haar neusgaaie.

Oom Andrew is terug na sy “kantoor” by die lykshuis. Dis sommer net ’n afgeremde tafeltjie wat hy op Gumtree gekoop het en wat hy nie ver van die bergingsyskaste staan gemaak het nie.

Hier het hy alreeds die prototipe van sy masker gemaak – een waarmee oom Boesman sy eie vrou wou fool.

Hoekom oom Boesman ’n masker nodig gehad het, het oom Andrew nie so lekker verstaan nie.

Vir jare al loop oom Boesman en soveel ander in Peanutbutterenjam Valley dan met maskers rond – veral kerk toe.

Oom Andrew sit ’n groot spieël op die tafel neer en bekyk homself op en af.

Die silikonmasker wat hy in gedagte het, sal maar op die lyne van sy gesig en tandheelkundige strukture gebaseer moet word.

Die meeste bestanddele, soos die silikon en klei, het hy alreeds hier by hom. Dis hoe hy immers elke lyk op-patch.

Hy staan op om die mengsel aan te maak toe sy selfoon lui.

Hy herken nie die nommer wat op sy selfoonskerm verskyn nie. Dit is seker weer daai mense wat ’n onnodige life policy of ’n ding aan hom wil verkoop. Tog besluit hy om maar die oproep te beantwoord en tot sy groot verbasing is dit Gertruida, oom Boesman se vrou.

Om een of ander rede skiet die sweet sommer op sy voorkop uit.

“Ek hoop nie ek pla nie,” sê antie Gertruida nadat sy hom gewish het vir die nuwe jaar.

“Glad ... glad nie,” val oom Andrew oor sy woorde. Hy raak sommer vies vir homself dat hy so nervous is. Wat destyds tussen hom en Gertruida was, is mos nou al ou koeie in ’n sloot wat lankal toegeval het. Wat sal hom dan nou makeer?

“Ek weet ons het lanklaas gepraat en dat ek nou uit die bloute bel, maar ek het jou hulp nodig,” gaan antie Gertruida voort.

As sy agtergekom het dat hy senuagtig is, laat sy niks blyk nie.

“How can we help you?” vra oom Andrew en voel meteens soos ’n simpel bakvissie wat by ’n bank se call centre werk.

“Kan ons die gesprek maar in Afrikaans hou?” vra antie Gertruida. “Ek het gister verby die ATM geloop en toe hoor ek hoe sê Koos Norrels vir sy dogter: ‘I’m not going to pull money today.’

“Ek is nou nog getraumatiseer deur Koos Norrels se Engels. Koos, wat nog net een keer in sy lewe die Kaap op TV gesien het.”

Oom Andrew bars uit van die lag. Gertruida was nog altyd ’n vlymskerp vrou met ’n sin vir humor.

“Are you pulling my leg?”

“I’m not,” sê antie Gertruida laggend. “How could Koos stabbed his daughter so in the eyes?”

Albei bars uit van die lag. Dan is daar ’n ongemaklike stilte.

Oom Andrew maak sy keel skoon. “So, hoe kan ek help? vra hy weer.

“Ek dink Boesman voer iets in die mou.”

Oom Andrew voel hoe die sweetkorrels op sy voorkop begin om hul spiere te bult. Gertruida was nog altyd ’n slim vrou, dink hy. En Andrew was maar nog altyd die antoniem van enige iets wat met intelligensie te make het. Het hy weer iets laat val wat hy nie moes nie? Soos die bietjie breinselle wat hy het?

“Hallo? Hallo? Is jy daar?” vra antie Gertruida.

“Ja, sorry, ek’s nog hier,” antwoord oom Andrew verskonend. “Wat laat jou so dink?”

“Nee,” antwoord sy. “Sportscene se mense het mos nou gebel. Boesman het vergeet om hierdie maand sy rekening te betaal en dis mos nie hoe hy is nie.

“Daar is iets waarmee hy worstel. Ek kan dit sien as hy op die stoep sit en daai aardige pyp van hom rook.

“Ek het hom al gevra of daar iets fout is, maar hy sê ek verbeel my net. Ek ‘for image’ my – dit was sy direkte woorde.”

Oom Andrew moet homself kliphard beteuel om nie te lag nie, juis omdat hy kan hoor antie Gertruida klink bekommerd.

“Ek dink daar is ’n slang in die gras,” gaan antie Gertruida voort. “Ons ken mekaar mos al lank, Andrew.

“So, ek gaan reguit wees: Ek dink Boesman se slang dwaal in ander gras rond.”

Oom Andrew weet nie wat om te sê nie.

Probeer hy haar gedagtes laat wegdwaal van haar vermoedens, gaan sy agterdogtig wees. Dan kan hy maar daai beloofde R500 000 koebaai waai.

“Ek kry die vermoede dat Boesman wil skei, maar daai man van my is veels te lief vir geld.

“Hy is liewer vir geld as wat die duiwel lief is vir Spur.

“Ek weet nie wat om te doen nie, Andrew. Jy is goed met sulke dinge. Ek wil hê jy moet ’n bietjie speurwerk namens my doen.”

Daai oomblik voel dit vir oom Andrew of die duiwel nie hou van Spur toe gaan nie, maar mal daaroor is om sy lewe te treiter. Hoe dan nou gemaak?

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters