10 dae gelede
Oom Andrew kan nie slaap nie oor hy so skuldig voel
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders. Oom Andrew kan maar net nie ’n kans deur sy vingers laat glip om R500 000 te maak nie. Maar dit beteken hy sal oom Boesman en sy vrou, Gertruida, om die bos moet lei. Die oom deliver albei maskers waarmee die couple mekaar wil laat vang cheat, aan die twee. Op pad huis toe kom hy egter nie agter dat iemand vanuit die donker na hom loer nie. Geniet nou hoofstuk 7 van EL­DRIDGE JASON se “Oulik en Lillik”.

DAARDIE aand kan oom Andrew nie ’n oog toemaak nie.

Sy gewete pla hom te veel. Nie eens die zamaleks wat hy vroeër gedrink het, kon hom aan die slaap kry nie. Hy bly rol van die een sy na die ander.

Nou en dan voer hy ’n bitter stryd tot die einde met ’n lastige muskiet wat nie wil bes gee nie.

Hy weet nie wat hom besiel nie. Hy het dan ’n lekker tjieng uit die deal gemaak. Waar baie mense dié jaar ook weens Covid harde bene gaan kou, het hy ’n neseiertjie wat die jaar beslis vir hom makliker gaan maak.

Maar nie eens dié gedagte kan sy gewete sus nie. Sy ma se woorde van destyds bly by hom spook: Mense wat lieg en konkel, steel ook.

En dit pla hom, want in sy hele lewe het hy nog nooit enige iets van iemand gesteel nie.

Boesman en Gertruida is soos twee aasvoëls wat mekaar in hul egskeiding wil verskeur en dis nie fair dat hy munt probeer slaan uit ander se seer nie.

Nie dat Boesman sy simpatie verdien nie. Daai jong is eenvoudig net ’n vrek as dit by geld kom. As hy Gertruida die helfte van sy skatte gee, sal hy nog meer as genoeg oorhê.

Maar dié wat ryk is, kan mos nie genoeg kry van die reuk van hul bankbalans nie.

Oom Andrew sug, beur orent en skakel sy bedlampie aan. Dan lê hy egter weer.

Klaas Vakie moet seker Covid of ’n ding hê – dié dat hy my nie kom visit nie, dink die oom. Of dalk het Klaas Vakie nie tyd vir bedrieërs soos ek nie ...

Hy voel dan nou so sleg soos die jaar toe an’ Lida die mannequin in Edgars se vertoonvenster gegroet het.

An’ Lida kon nie so lekker sien nie en stap verby die winkel en groet: “Môre, Mevrou.”

Toe sy ná drie kere se môre sê nie ’n response kry nie, het an’ Lida in haar stadige, temerige stemtoon afgesak: “Haai, maar hoor die vrou dan nie ’n mens nie?”

Daai oomblik het hy net agter an’ Lida gestap en gesukkel om nie uit te bars van die lag nie.

En hier lê en groet hy ook nou geld wat hom nie toekom nie.

Die koevert met die geld wat Boesman hom gegee het, het hy net so in sy klerelaai gesmyt.

Daai voel nou soos doekom-geld vir hom. Geld wat hom nie ’n greintjie geluk in die sak gaan bring nie.

Oom Andrew hoor ’n skuurgeluid. Eers dink hy dis aan sy bure se kant, maar dan hoor hy dit weer en besef dis hier binne sy plek.

Sy hart raak kliphard aan die bons. Hy kan dan nou nie onthou of hy die voordeur gesluit het nie.

Wat as ... Oom Andrew skud sy kop met mening, so asof hy die gedagtes uit sy brein wil shake.

Hy spits sy ore. Verbeel hy hom of hoor hy sy plankvloer kraak?

Oom Andrew kom stadig orent en trek die duvet versigtig van hom af. Sy gesig vertrek van die pyn toe die gout hom beetkry. Vir ’n paar oomblikke sit hy doodstil en wag vir die pyn om te verdwyn. Maar terwyl hy nog so sit en vir homself kwaad is oor hy sy gout weer met die zamaleks aangemoedig het, gaan sy kamerdeur stadig oop.

Sy mond gaan oop om iets te skree; iets wat die persoon sal verjaag, maar die skok het hom aan die keel beet.

Wat na ’n kop lyk, loer na binne. Met die flou straatlig wat tot in sy kamer skyn, neem hy maar aan dis ’n kop, want die figuur is met ’n wit kleed bedek.

Hy wat oom Andrew is, glo nie aan spoke nie. Dit bestaan eenvoudig nie en in sy werk ... Nie een van die lyke waarmee hy al ure gewerk het, het hom nog in die nag kom besoek nie.

Vanuit die gate in die kleed kan hy ’n paar oë sien wat hom aangluur. Oom Andrew sluk swaar aan die knop in sy keel.

Ek gaan my beskyt, val dit hom angstig by. Sy gestel is mos nie gemaak vir sulke Scary Movie-goeters nie.

“Gaan terug na waar jy vandaan kom,” sê oom Andrew in ’n fluisterstem. Die beeld staar hom net aan.

Dan maak dit ’n geluid wat na ’n geroggel klink. Dis óf ’n geroggel óf daai sound van die jaar toe Ras Dumisani die national anthem gesing het.

“Wat dink jy doen jy?” vra die figuur in ’n krakerige stem. “Wat dink jy doen jy?”

Dan gaan die deur weer stadig toe. Oom Andrew sit op die kooi se punt en voel hoe koue sweet hom aftap.

Hy wil opstaan en gaan kyk wat in die res van sy pozzy aangaan, maar hy vertrou nie sy bene nie.

Ná ’n ruk het hy genoeg moed bymekaar geskraap en stap katvoet na sy kamerdeur. Ná ’n kortstondige wik en weeg, maak hy die deur oop. Hy steek sy kop na buite.

As hier nou iemand met ’n swaard buite staan, is hy nou so koploos soos veels te veel SA politicians.

Toe oom Andrew oortuig is dat die coast clear is, stap hy deur die res van sy huis. Dis doodstil. So doodstil dat jy op daardie oomblik ’n speld kan hoor Monopoly speel.

Oom Andrew stap tot by sy voordeur en skrik toe dit wawyd oop staan.

Hierdie was nie ’n spook nie, besef hy onmiddellik.

’n Spook maak nie deure oop en toe nie. Hierdie was ’n mens. ’n Mens van vlees en bloed.

Haastig sluit hy sy deur en maak seker dat alle vensters toe is.

Hy stap weer na sy slaapkamer toe en skrik hom byna uit sy geloof toe sy selfoon op die bedkassie begin vibreer.

Oom Andrew vloek hardop en vee vererg die sweet van sy voorkop af.

Dan tel hy sy foon op en sien dis ’n boodskap van een van sy base by die lykshuis: Dr wg n grt jb vr jo mre. J sali glo, maa oom Bsman ht inne lelike ongluk gsterf.

Oom Andrew vererg hom eers vir die liederlike SMS-taal, maar dan lees hy die boodskap weer. Die selfoon val amper uit sy hand toe hy die boodskap as’t ware in sy kop vertaal en oorgeskryf het.

Boesman is dood? Maar hoe? Hy het hom dan nog vroeër gesien en ...

’n Koue rilling hardloop langs sy rug af. Hierdie keer is die gout regtig onskuldig.

Wat as Boesman se dood nie ’n ongeluk was nie?

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters