24 dae gelede
Onse Lucien vertel vir speursersant Laing wat hy weet
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

'n Nuwe Lewe is Salmon Smith se jongste Lucien-skryfstuk. Geniet die vierde hoofstuk!

SPEURSERSANT Laing lyk sigbaar gespanne terwyl hy in afwagting na Lucien van Wyk staar. Hy is nou te bang om selfs asem te haal. Hy besef dat die man hier voor hom op die punt is om baie vertroulike inligting aan hom oor te dra.

“Sersant, nou moet jy asseblief mooi luister,” fluister Lucien dringend nadat hy weer vlugtig rondgeloer het. Hy haal eers diep asem.

“Hier op ’n plaas net buite Konnoterville is ’n geheime privaat army besig met intensiewe militêre opleiding. Hulle staan bekend as die Boere Bevrydingsmag. Hul doel is om oor ’n week ’n staatsgreep in Suid-Afrika uit te voer en die regering oor te neem.”

Sersant Laing se oë rek pieringgroot voordat hy wil weet: “Wat!? Waar kom jy daaraan, Lucien?”

Lucien hou sy hand in ’n stopgebaar op. “Wag nou eers, sersant. Laat ek klaar praat. Die ergste kom nog ...

“Hulle practice hulle shooting skills op haweloses en straatkinders wat hulle daar uit die Kaap en ander groot dorpe ontvoer en dan hierheen bring. Die hindernisbane waar hulle hul aanvalstegnieke beoefen, is besaai met bloed.”

“Wat?!”

“Daar is massagrafte op daardie plaas ...”

Laing trek sy asem skerp in. “Hier was ook twee jong bruin seuns wat so ses maande gelede weggeraak het. Hulle is nooit opgespoor nie.”

“Tien teen een is húlle ook as bewegende teikens gebruik,” verklaar Lucien. “Die Boere Bevrydingsmag beskik oor heavy artillery en ou weermagvoertuie wat gebuit is van ons mankolieke weermag.

“Hulle beplan eers massabloedvergieting voordat hulle die staatsgreep gaan uitvoer. Hulle gaan bomme oral in swart buurte plant. Dan gaan hulle die parlement tydens ’n raadsitting beset en dan president Sithole dwing om die land terug te gee aan die wittes.”

Laing skud sy kop in ongeloof. Hy kan nie glo wat hy hoor nie.

“En die man wat aan die spits hiervan staan is niemand anders nie as jou eie kollega adjudant-offisier Oberholster!” gooi Lucien nog die laaste emmer yswater in sersant Laing se gesig.

Hy trek sy asem skerp in en ruk agteroor toe hy dít hoor. Hy tuimel byna van sy stoel af.

“Nee! Dit kan nie wees nie!” Sy oë is nou pieringgroot en dit lyk asof sy bors wil toetrek.

“Hoe waar is dié bewerings? En waar kom jy hieraan?” vra hy versigtig toe hy kan asem haal.

Lucien leun vorentoe. “Daar by die Konnoterville Hotel werk ’n ouerige dame ...”

“Jy praat nou van tannie Rademeyer,” val Laing Lucien in die rede. “Sy en haar man, oom Koos Rademeyer, het hulle so ses maande terug hier in die dorp kom vestig. Oom Koos tree hoeka so vreemd op.

“Ja, dit is sý daai. Sy het my ingelig,” lieg Lucien vinnig. “Haar man is natuurlik ook ’n lid van die Boere Bevrydingsmag en tannie Rademeyer weet alles. Ek kon sien dat dit haar pla, maar sy kan nie daaroor praat nie. Ek weet nie hoekom sy mý, wat ’n vreemdeling is, in haar vertroue geneem het nie.

“As julle haar dalk beskerming kan bied en mooi met haar te werk gaan, kan sy dalk sing soos ’n kanarie.”

Sersant Laing sit doodstil en bepeins alles. Sy gedagtes is in ’n warboel.

Hy kyk na Lucien se dwelmdossier. Hy is gepuzzle oor wat hy met dié saak moet maak.

Hy kyk vlugtig na Lucien, wat hom in afwagting aanstaar.

Dié jong man is dalk onskuldig en hy kan nie toelaat dat adjudant Oberholster wegkom met die dinge wat hy genoem het nie, bepeins hy die feit.

Skielik kry hy ’n idee ...

“Ek het dit!” gil hy.

Lucien tuimel byna agteroor van skrik.

Hy vou egter vinnig sy hand oor sy mond.

“Sorry, Lucien,” fluister hy.

Dan leun Laing vorentoe en sê: “Kykie, luister nou mooi. Ek gaan jou nou terugneem na jou sel. Dan gaan ek jou vanaand kom uitboek vir verdere ondersoek. Jy gaan kamma-likes vir my gaan wys waar jy die ander drugs weggesteek het.

“Dan gaan ek jou stilletjies by jou motor daar by die hotel aflaai. Jy klim in jou motor en maak dat jy so vinnig as moontlik hier wegkom. Ek gaan die storie spin dat jy my oorrompel en ontsnap het.

“Jy ry dan tot in Saldanhabaai, waar die vlootbasis is. Jy dring dan aan om met hul bevelvoerder, kaptein Darius van der Mescht, te gaan praat. Dan vertel jy hom alles wat jy weet.

“Ek gaan probeer om tannie Rademeyer onder my vlerk te neem en ’n bietjie met haar kop te smokkel dat ons darem ’n beëdigde verklaring in die hande kan kry.

“Dan sal ons, tesame met die polisie se spesiale taakmag en die army, werk aan ’n operasionele plan van hoe ons met dié Boere Bevrydingsmag op daai plaas gaan klaarspeel.”

’n Opgewonde gevoel kom sit hier in Lucien se bors. Hy kan nie glo dat alles tóg vir hom gaan uitwerk nie. Hy sal graag wil sien hoe daardie onbeskofte, vet buffel die onderspit delf. Te veel onskuldige bloed het al weens hom gevloei.

“O ja ... Waar is die plaas?” vra sersant Laing skielik.

Lucien besef nou eers dat hy nie weet wat die plaas se naam is nie. Sy gedagtes werk nou in die hoogste versnelling.

“Ek het net gesien daar is baie klipkoppies. En dan lang rye sipresbome aan weerskante van die pad wat tot by die groot, massiewe opstal loop. Daar is ook sommer heelwat loopgrawe ...”

“Swastika!” val Laing Lucien in die rede. “Dit is daai plaas se naam: Swastika!

“Ek het dit nou herken van jou beskrywing van die rye sipresbome aan weerskante van die pad en die klomp klipkoppies.

“Ek weet waar dit is. Daar is by die afdraai na daai plaas ’n naambord met ’n groot swastika-kenteken daarop.

Laing spring van sy stoel af op.

“Kom! Laat ek jou gou terugneem na jou sel.”

Skielik steek hy in sy spore vas en kyk fronsend na Lucien.

“W-wat nou?” vra Lucien bekommerd.

“Lucien, het jy nou gesê dat jy gesién het?”

“H-hoe nou?” vra Lucien, nou gepuzzle.

Laing kom nader.

“Jy’t gesê jy het gesién daar is baie klipkoppies op daai plaas. En sipresbome.”

Dit voel vir Lucien asof daar ’n warm gloed teen sy nek af beweeg. Hy’t nou wragtig sy bek verbygepraat. Hy sal nooit sy geheim kan verklap dat hy eintlik dit alles in ’n visioen gesien het nie.

Nou werk sy brein in die hoogste versnelling.

“Haai, jitte. Het ek dít gesê?

“E-ek het eintlik bedoel dat ek dit gehóór het … by tannie Rademeyer, natuurlik,” lieg hy homself uit die penarie.

Laing kyk hom eers ’n wyle aan voordat hy hom nader wink. “Kom, ek neem jou terug na jou sel.”

Hulle loop by die kantoor uit.

Hulle sien egter nie hoe adjudant Oberholster agter ’n kabinet in die gang wegkoes nie …

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters