18 dae gelede
Niemand sal die Verskilmaker ooit vergeet nie
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die Verskilmaker” is Joanita Richter se skepping. Lees gerus nou die slothoofstuk!

DIS ’n baie belangrike dag vir Jessica en haar ouers. Jessica se ouers is besig om gereed te maak om met Lenie se ma te gaan gesels.

Dalk kan hulle tot ’n vergelyk kom in verband met verblyf vir Lenie. Haar ma sal dalk sien dat hulle net goeie bedoelings het en regtig omgee vir die kinders se welstand.

“My vrou, weet jy, jy is een uit ’n miljoen met alles wat jy vir ons kind ook doen. Ek sê nooit genoeg vir jou dankie nie, my skat. Ek weet ons tyd saam met Jessica raak min.

“Ons moet tog asseblief probeer om dit vir haar te doen. Sy maak staat op ons om vir Lenie te help,” sê hy.

“Ag, my man, ek kan regtig dieselfde vir jou ook sê. Hierdie pad wat ons stap, is nie maklik nie, maar jy, as hoof van die huis, jy hou ons almal so bymekaar. Wag, ek gaan sommer aan die huil,” sê sy.

Hulle gesprek word onderbreek toe Jessica haar by hulle aansluit. Sy het vinnig agteruit gegaan en met fase 4-kanker is dit soms baie moeilik net om uit die bed te klim.

“Gaan julle nou na Lenie se huis?”

“Ja, poplap, ons is nou op pad. Ons hoop net die ma gee haar samewerking.

“Jy moet maar duim vashou,” sê haar pa.

“Dalk verras sy ons en is glad nie moeilik nie. Dis tog ’n goeie daad wat ons verrig. So, dalk sien sy dit so. Altans, ek hoop sy sien dit so, want ek wil nie hê dat dinge in die hof moet draai nie,” sê Jessica.

Sy wens sy kon saamgaan, maar sy moet maar sit en wag. Haar gesondheid laat dit nie meer toe dat sy so baie kan rondbeweeg nie, so sy sal maar tuis sit en wag. Die spanning loop hoog, dis vir seker. Sy sal maar biddend bly.

Die Anderson-egpaar klop aan die deur van die plek waar Lenie en haar familie woon.

Die skraal vrou maak die deur oop en vra vererg of hulle maatskaplike werkers is.

Albei sê gelyk dat hulle nie is nie. Hulle verduidelik toe hulle is Jessica se ouers. Die vrou stel haarself as Sanna bekend.

Sanna is heel verbaas oor die plan van aksie wat op die tafel gelê word.

“Dink julle ek gaan my kinders net so oorhandig? Ek moet seker mal wees om dit te doen. Hulle is dan my brood en botter. Hoekom sal ek hulle wil weggee?” vra sy.

“Brood en botter. Dis nie hoe ’n mens moet praat nie. Kinders is ’n geskenk en ons moet hulle ál die liefde gee wat ons kan,” sê Jessica se ma.

Dis duidelik dat niks tot Sanna deurdring nie. Sy is hardkoppig en sien haar kinders as ’n geldmaak­masjien.

“Oukei, ons het probeer om dit tussen ons te probeer doen en sal maar die hof en maatskaplike werkers nader,” besluit die egpaar.

“Gee pad uit my huis of ek gooi julle vol kookwater!” gil Sanna heel ongeskik. “Hoor julle my! Ek gaan nie weer praat nie! Trap nou dadelik uit my huis!”

Die Andersons maak inderdaad vinnig spore en tuis deel hulle hierdie ontstellende nuus met Jessica.

“Ons het probeer. Regtig, ons het. Ons sal die saak maar vir die mense by die welsyn gee om verder te probeer help,” sê hulle.

Jessica bedank hulle steeds vir die moeite wat hulle gedoen het. Die dag loop ekstra lank en Jessica voel so onrustig.

Later die aand is daar ’n harde klop aan die deur. Gewoonlik as iemand só klop, is dit ’n noodgeval.

Dis die speurders wat die verkragting van Lenie ondersoek.

“Goeie naand. Ek is speurder De Wet. Dit het onder ons aandag gekom dat die betrokke dogter, Lenie, sedert vanmiddag vermis is.

Haar ma het dit kom aanmeld en gesê dat sy gewoonlik hier kom kuier ook. Haar ma het ook genoem dat julle toesig oor die kinders wil hê en tot enige iets in staat is.

“Het julle enige iets te doen met haar verdwyning? Asseblief! Die moeder is rasend van bekommernis. Gee net jul volle samewerking,” sê die speurder in ’n harde stemtoon.

“Meneer, ons het Lenie nog nie vandag gesien nie,” sê Jessica.

“Ek mag dalk weet waar sy kan wees. Sy het eenkeer genoem dat sy daarvan hou om langs die rivier te sit wanneer sy alleen wil wees.

“Ek het ook baie saam met haar daar tyd deurgebring wanneer ons verveeld was en net die buitelug wou ervaar.”

“Gee jy om om dalk vir ons te gaan wys watter kant?” vra die speurder weer in sy harde stemtoon.

Jessica stem in en vergesel hulle na die rivier. Lenie lê daar in die koue sonder enige kombers. Jes­sica oorreed haar om huis toe te gaan ter wille van die ander kinders in die huis.

“Jessica, my ma gaan ons laat doodgaan van hongerte. Sy gee nie meer vir ons om nie.”

Jessica kry dit reg om Lenie te oortuig en die aand se gebeure maak haar net meer onrustig.

MAANDE het verbygegaan. Dit was op en af, hof in en hof uit.

Die maatskaplike werker genaamd Jasmine kom bring uiteindelik die goeie nuus. Lenie en haar boetie en sussie word by die Andersons in pleegsorg geplaas.

“Baie dankie. Ek weet nie hoe om dankie te sê nie,” is ál wat Jessica in daardie stadium kan uitkry.

Die formaliteite is alles afgehandel en die dag het aangebreek waarop die kinders met hul tasse daar afgelaai word. Dis een van die gelukkigste oomblikke.

“Dankie, Jessica, dat jy daardie eerste dag vir my die pakkie NikNaks gekoop het. Ons is nou saam en ’n familie,” sê Lenie opgewonde.

Lenie en haar boetie, Jake, en suster, Alexa, gaan steeds skool by die skool af in die straat. Jessica is só opgewonde.

Dit raak ’n instelling om vir hulle by die skoolhek te wag. Jessica is ’n trotse ousus wat alles vir hulle sal doen.

“Waar is ál my kinders? Kom sit hier by my,” sê pa Anderson.

Hy deel hulle mee dat hulle verniet kan gaan vakansie hou in Engeland. Iemand by die sopkombuis het dit vir hulle gereël.

“My kinders, ons gaan vir die eerste keer oorsee wees.”

Daar heers vrolikheid in hul huis vanaand. Jessica, haar ouers, Lenie, Jake en Alexa, drink almal ’n melkskommel ná ete as ’n bederfie.

Die adrenalien pomp al behoorlik oor dié vakansie. Jessica en haar ouers gaan doen inkopies en koop solank alles wat hulle benodig.

SOWAT ’n maand later ... Dis amper vakansietyd. Oor twee dae gaan hulle vlieg.

Die huis is bietjie stil, want Jessica se plekkie gaan leeg wees. Sy het haar stryd teen kanker verloor.

Sy het soos haar ouers haar geleer het, probeer om ’n verskil in iemand se lewe te maak.

Die gesin gaan stop eers langs die rivier om haar as daar te strooi.

Dis waar sy Lenie opgespoor en weer huis toe gebring het. Dis die gepaste plek vir haar. Almal is stil, maar tog gelukkig dat hulle deel kon wees van so ’n merkwaardige dogter en suster se lewe.

Wimpie staan eenkant. Hy het tog nooit regtig van haar vergeet nie.

Dis ’n goeie dag. Hulle lag en sit langs die rivier en onthou Jessica as ’n heldin wat uit haar pad gegaan het vir haar naastes.

) Die einde

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters