Verlede maand
Ná ’n mooi tyd van vreugde, tref die erge noodlot
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Kersfees se Covid is KEITH MEYER se jongste skryfstuk. Geniet die eerste hoofstuk!

DIE Paulsens van Nuwe Park in die Karoo-dorpie Goedgesindt is ’n baie hegte gesin. En al het hulle dit nie breed nie, is hulle happy en baie close.

Pa Johnny werk as lorriedrywer by die plaaslike munisipaliteit en Ma Shirley is die tea girl by dieselfde werkgewer. Hulle het ’n tweeling, Jenny en Penny. Ma Shirley is baie gesteld op haar gesin se gesondheid en die Covid-protokol word getrou gevolg. Veral nou, want met die naderende Kersfees is dit deel van die gesin se vakansieplanne om ’n bietjie Hartenbos toe te gaan. En al is die Tuinroete deur die regering as hotspot-area geïdentifiseer, glo hulle as hulle by die rules hou, sal hulle safe wees.

Dis nog drie maande voor Kersfees, maar die Covid-getalle begin optel.

Ma Shirley praat daardie aand met haar gesin om die etenstafel: “My liefies, ons moet ekstra-versigtig wees. Kersfees is om die draai en julle weet hoe ons uitsien na Krismis se seevakansie.

“Twins, julle moet julle maskers dra en Pa, asseblief, moenie vir jou sterkgesig kom hou nie. Dra daai masker.

“Al sweet jy ook in die vullistrok. Ons moet seker maak die virus infect ons nie.”

By die skool word die kinders soggens by die hek gesanitise en gescreen. As jou temperatuur net mik vir 38 grade, stuur teachers jou huis toe of laat jou parents kom. Strenger kan jy nie kry nie en sonder ’n masker kan jy vergeet. Daarom is die Paulsen gesin nie geworry oor die kinders nie.

Klein Jenny borrel oor ’n Christmas play wat hulle tans oefen: “Dis die lekker van skoolgaan hierdie tyd van die jaar! Dit gaan ’n moewiese event wees! Daarom oefen ons so vroeg. En ons gaan op verskillende dae die show opvoer, want nie almal mag gelyk in die skoolsaal wees nie.”

Penny is Moeder Maria en Jenny is een van die engele wat die boodskap van groot blydskap moet verkondig. Ma Shirley en Pa Johnny is behoorlik trots op hul twee oog­appeltjies.

Daardie middag bring hulle ’n briefie van die skool wat die parents invite om ’n rehearsal van die play te kom bywoon. Ongelukkig kan Ma Shirley dit nie maak nie.

“Johnny, jy moet maar gaan, want ek moet ná werk my hare laat doen by die hairdresser. Dié kop lyk net te woes. Die klôgoed is al skaam vir hul ma se minced hare,” het Ma Shirley dit afgelag.

Woensdagmiddag net ná 16:00 ry Pa Johnny na die skoolsaal. Die twins is reeds daar, want die players en actors moes reeds ’n uur voor die tyd by die skool wees. Excited parents staan ook reeds rond voor die saal. Gemasker natuurlik. Voor in die saal staan ’n bottel sanitiser en ’n poster met die woorde “No mask, no entry” is teen die groot deur geplak.

Die pragtigste Kersliedere speel reeds in die saal. “Silent Night”, “Mary’s Boy Child”, “Feliz Navidad” en “Jingle Bells” is van die liedjies wat die oor kom streel.

Trotse ouers betree die skoolsaal.

Streng social distancing word gehandhaaf.

Pa Johnny is op sy plek en lyk soos die gemaskerde Jan de Rower.

Dan begin die play. Die Kindjie wat in die krip lê. Maria wat met trots op haar babatjie toekyk. Die herders van Bethlehem en ’n regte skapie wat op die stage vasgemaak is en aan ’n vars baal hooi vreet ...

Die tweeling shine behoorlik. Ouers luister aandagtig. Die gees van Kersfees word lewensgetrou hier voor hul oë uitgebeeld. Harte swel van trots. Oor ’n paar weke is hulle reg vir die regte opvoering.

Twee dae later begin Pa Johnny nie lekker voel nie. Sy keel krap. Hy laat sy koors meet en dis nogal hoog – 38,8.

Ma Shirley haas met hom dokter toe. Reguit Covid test centre toe.

Minder as 48 uur later kom die SMS “Covid has been detected”.

Johnny word in die hospitaal opgeneem. Hy is ’n hoërisiko geval omdat hy cormobidities het. Hipertensie en suikersiekte.

Die gesin is platgeslaan. Die tweeling treur en wil graag hul pa gaan besoek. Vir hulle raak die nagte silent nights. Die stilte sonder hul steunpilaar werk op hul senuwees. Shirley vra die priest om vir Johnny te kom bid, want hulle mag hom nie in die hospitaal besoek nie. Nagte word om gebid en om gehuil. Die gesin sukkel vir die tyd dat Johnny in die hospitaal is. Geldelik gaan dit ook nie goed nie.

Dan, een oggend, bel die hospitaal. Johnny se toestand het versleg.

“Mevrou, ek moet u meedeel dat sy asemhaling begin verswak het. Sy suurstoftelling is so laag dat ons hom nou op ’n ventilator moet sit. Dalk help dit om sy suurstofvlakke te lig,” verduidelik die dokter. Hy klink moeg.

Shirley se hartjie krimp net verder en verder.

Die tweeling het aan haar sye gehang en elke liewe woord gehoor.

“Mamma, gaan Pappa weer huis toe kom? Gaan hy weer gesond word?” vra Jenny. Shirley try troos, al val haar trane los uit haar oogkaste op die kinders se koppe soos sy hulle teen haar vasdruk.

Nou raak die dae weke soos Johnny in die hospitaal om sy lewe veg. Dokters het hoop.

Johnny whatsapp darem nog gereeld om sy gesin te troos: “Moenie worry nie. Dit gaan elke dag beter met my. Ek het die beste dokters. My suiker moet net af, dan sal alles okay wees,” lees een van die vele boodskappe.

Maar die werklikheid was dat Johnny ál sieker begin word het en die texts ál minder soos hy besig was om sy bewussyn geleidelik te begin verloor. Maar iewers in Johnny se siel woed ’n stryd.

Dood sal hy nie kan gaan sonder om vir oulaas met sy gesin iets te deel nie. En dit is wat hom sy bewussyn laat behou, al is dit ook maar net-net.

Die suurstof word op ’n hoër frekwensie gestel.

Die ventilator maak al rooi merke om sy mond.

Die hospitaal word intussen ook mooi gemaak vir Kersfees. Die pragtigste versierings. En by die voorportaal word die grootste en witste Kersboom opgesit. Maar in die hart van die Paulsen-gesin is dit baie ver van Kersfees. Die droomvakansie in Hartenbos is nou ’n vergete herinnering. Ál waarvoor hulle nou bid, is dat Johnny net sy fight teen Covid-19 sal wen.

Een Saterdagoggend bel die hospitaal weer. Dié keer is die nuus erger as die vorige keer. Hulle moet kom om Johnny te kom groet. In die tyd van die geboorte van die Heiland, moet hulle hul voorberei op die dood.

In die privaat saal lê hul alles, hul geliefde. Johnny maak sy oë stadig oop. Hy is bleek en maer. Dan haal die suster die ventilator af en skor geluide stotter oor sy lippe: “Ek wil julle iets meedeel voordat ek sterf. Shirley, kyk mooi na die kinders. En moet my asseblief nie verwyt omdat ek in lewe nooit dié donker geheim gedeel het nie. Ek wil net in vrede sterf...”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters